Amptelike Nuusblad : NG
Kerk in Oos-Kaapland
OosKaap eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die
gemeenskap van die heiliges
Jaargang 6 - Nommer 40 - 5 Desember
2008 - www.ngkok.co.za/enuus
Wat gemeentes prakties rondom geweld
teen vroue en kinders kan doen
Goedgekeurde fondse vir
Ringsprojekte
Sinodale Kommissie bepaal
Oos-Kaapse prioriteite vir kerkhereniging
Advertensie: Pos vir ‘n Persoonlike Assistent, Direkteur Begeleiding
Bipolar Disorder Support
Group
Sentralisering van
gemeentelik lidmaatregisters
Sinodale kantoor sluit oor die
Kersvakansie
Vir alle Eerstejaars van 2009: “Oerkamp”, Eersterivier, Kareedouw, 2009
Riaan en Saretha
Terblanche : Veritas Oos-Kaap Nuus
‘n Kollekte
vir die onmenslike nood in Zimbabwe
'So Dad left when he
found out about Mom and the Panda.'
Wat
gemeentes prakties rondom geweld teen vroue en kinders kan doen
Kerkrade kan gerus die beskikbare hulpbronne vir die
slagoffers van geweld in die gemeenskap prominent op die kerk se kennisgewingbord,
of waar ook al, bekendstel. Dit kan insluit: kontakpersone en adresse /
telefoonnommers van noodlyne, CM-Rade, ander
welsynsorganisasies, die SAPD, en ondersteunersgroepe. Die besonderhede van
kundige persone in die gemeenskap ten opsigte van wetlike aspekte (soos die toepassing
van die wet op die voorkoming van gesinsgeweld), kan ook ingesluit word.
Die samewerking
van skole en diensorganisasies moet verkry word om projekte ter voorkoming van
geweld teen vroue en kinders, en hul beveiliging, te ondersoen
en waar nodig te implementeer.
Goedgekeurde
fondse vir Ringsprojekte
Die fondse vir ringsprojekte vir 2009/10 is onlangs
amptelik goedgekeur. ‘n Opsomming van die toekenning
is op ons webblad te vind - besoek www.ngkok.co.za/ringsprojekte/2009. Moenie hierde as die amptelike kennisgewing
beskou nie - dit word deur die Direkteur Administrasie aan Ringskriba’s
gestuur.
Sinodale
Kommissie bepaal Oos-Kaapse prioriteite vir kerkhereniging
Tydens die onlangse vergadering van die Sinodale
Kommissie (SK), gehou op 27 November 2008, is indringend rondom kerkhereniging
gesprek gevoer. Die SK het haarself opnuut weer verbind aan die Esselenpark-Verklaring
van Junie 2006, juis omdat hierdie verklaring soveel maak van die herstelde
verhoudinge waarin kerkhereniging gestalte moet kry. Die verbondsverbintenis
van Esselenpark is daarna ook uitgedruk in die Bloemfontein-Verklaring van
Augustus 2006, waarby die NGKA en RCA betrek is. Dit is opgevolg deur die verklarings
van Achterbergh I en II. (Klik hier
vir die dokumente.) Die SK het besluit om in lyn met die vordering wat hier
gemaak is, en in terme van die onderhandelde verbintenisse waar al die vennote
teenwoordig was, te handel.
Die bestaande
verbintenisse moet verder beoordeel en hanteer word, verder verfyn en behoorlik
deurdink word - ook na aanleiding van die terugvoer oor die
kerkherenigingsproses uit gemeentes aan die einde van 2007 (hier op ons webblad beskikbaar). Die
verdere besinning oor die pad vorentoe moet egter sáám met ons vennote in die kerkherenigingsproses geskied. Dit is
waarskynlik een van die belangrikste fasette van die besluit wat die SK geneem
het.
Gemeentes wat in enige vorm of proses van
hereniging funksioneer, word in
die SK se besluit aangemoedig om
daarmee voort te gaan. Hierdie ruimtes van eenheid is die koerswysers vir môre
en oormôre, sê die besluit.
Daar is ook
besluit om Artikel 2 van die VGKSA se kerkorde te ondersoek as beskrywing van
die belydenisbasis vir ‘n herenigde kerk. In hierdie
verband het ‘n kort
inligtingstuk voor die vergadering gedien.
Twee
Oos-Londense kerkrade het in gelykluidende skrywes voorbehoude uitgespreek
omdat die moderatuurslede hulle nie hou aan die Carmelite-besluite
van die uitgebreide moderamen van die NG Kerk (in Junie 2008 geneem) nie. Dit
raak veral die posisie van die Belhar-Belydenis. Die SK het erken dat daar
groot meningsverskil oor die belydenisbasis van die herenigde kerkverband
bestaan, maar wil graag almal saam op weg neem. Daarom is dit ook nodig om
voortgesette interne konsultasieprosesse te voer, en gemeentes word versoek om
daaraan deel te neem. Deernis is ook uitgespreek met die onsekerheid wat
lidmate beleef. Ons moet met mekaar bly praat. Verder het die Carmelite-besluite die status van voorstelle aan ‘n Achterbergh-tipe konsultasie. Dit
is nie formele besluite van die ASM (Moderamen Algemene Sinode) wat almal moet
gehoorsaam en wat verdere gesprek uitsluit nie.
Die SK het ook
geluister na ‘n
verklaring wat tans deur die NG en VG kerkrade van ‘n
plattelandse gemeenskap voorberei word. In hierdie verklaring word vertel van
die groot vordering met hereniging op dié dorp, en word die verskillende kerke
se leiers versoek om hul verskille te oorkom. Daar is kommer dat die
onverantwoordelike stook van vyandigheid op nasionale vlak - van meer as een
kant - kosbare plaaslike eenheidsprosesse kan beduiwel.
SK-Besluit
Hier volg die aanhaling uit die notule:
6.1.12.5 Besluite:
6.1.12.5.1 Die Sinodale Kommissie identifiseer haarself
met die verbondsverbintenis van Esselenpark in Junie 2006;
6.1.12.5.2 Artikel 2 van die VGKSA se Kerkorde word
ondersoek as moontlike beskrywing van die Oos-Kaaplandse Sinode se standpunt
oor die belydenisbasis van ‘n herenigde verband. Dit
geskied in samewerking met al die vennote in die kerkherenigingsproses. In
hierdie proses word ook gekyk na die wyse waarop ander Gereformeerde kerke
belydenisskrifte in herenigingsprosesse hanteer. Die saak word na die
SK-Dagbestuur vir verdere hantering en koördinering verwys.
6.1.12.5.3 Die SK versoek die kerkherenigingsvennote,
soos die SK VGKSA Kaapland, die Moderamen NGKA Vrystaat en die plaaslike
Oos-Kaaplandse gemeente van die RCA, om gesprek te voer oor die implikasies van
die verbintenis tot kerkhereniging, soos vervat in die verbintenisse te
Esselenpark Junie 2006, die Bloemfonteinse byeenkoms van Augustus 2006, Achterbergh 1, en Achterbergh 2;
6.1.12.5.4 Die SK moedig gemeentes en ringe aan, wat in
enige vorm van eenheid met NGKA, RCA en VGKSA gemeentes en ringe funksioneer,
om daarmee voort te gaan. Dit is groei- en getuienisaksies onderweg na eenheid.
Dié ruimtes van eenheid sal op die ou einde die koerswysers word vir môre en
oormôre.
6.1.12.5.5 Die SK oordeel dat interne gesprekke en
fasilitering die enigste pad vorentoe is om ons eie gereedheid en eenheid te
ontwikkel, en gee opdrag dat die SK-Dagbestuur hierdie gesprekke en
fasilitering beplan en bestuur.
6.1.12.5.6. Hierdie besluite van die SK moet saamgelees
word met die besluite van Sinode 2007.
Advertensie:
Pos vir ‘n
Persoonlike Assistent, Direkteur Begeleiding
Die Sinode adverteer tans ‘n
nuwe sinodale pos, dié van persoonlike assistent vir die Direkteur Begeleiding.
Aansoeke word tot aan die begin van Januarie 2009 ingewag - lees die advertensie
van die vakature vir volledige besonderhede.
Bipolar Disorder Support Group
Nuus van PE Churchnet ontvang:
For people suffering with this
illness and their loved ones.
Every 1st and 3rd Tuesday of each month, come rain or shine.
Time: 6:15 pm - 8 pm
Venue: Intercare Medical and Dental Centre, Kings
Court, Buffelsfontein Road, Walmer Heights, Port
Elizabeth.
Contact: Contact Simon 082 491 7862 or 041 369 0387 (ah)
- Email: agar.simon@gmail.com
Sentralisering
van gemeentelik lidmaatregisters
Die Sinodale Kommissie (SK) het pas die NG Kerk in
Oos-Kaapland se deelname aan die sentralisering van die gemeentelike registers
goedgekeur, onderhewig aan bepaalde reëlings. Die SK se volledige besluit
verskyn aan die einde van hierdie paragraaf.
ATABID
(Algemene Sinodale Taakspan vir Argief- en Bestuursinligtingsdienste) gaan voort
met die skryf van die vereiste rekenaarprogram. Gemeentes kan nou voluit
voortgaan met die insamel van lidmate (belydend en doop) se identiteitsnommers.
Die datum waarop die databasisse gereed moet wees vir sentralisering is 31 Mei
2009. Die teikendatum waarop die stelsel voluit sal funksioneer, is 1 Augustus
2009. ATABID sal teen die tweede helfte van Januarie 2009 ‘n
volledige inligtingstuk aan alle gemeentes stuur.
Die Sinodale
Kommissie se besluit kom nadat alle gemeentes uitgenooi is om kommentaar op die
beoogde stelsel te lewer. Net meer as 50% van gemeentes het gereageer. ATABID,
by monde van ds Bossie Minnaar, onder-voorsitter, het vrae en besorgdhede van
Oos-Kaaplandse gemeentes volledig, skriftelik beantwoord - klik
hier vir die dokument - en daarmee die SK tevrede gestel dat die vrae
voldoende beantwoord is.
Uit die
ATABID-respons blyk duidelik dat finansies gemeentes nie hoef te verhoed om aan
die stelsel deel te neem nie. Rondom tariewe is klein gemeentes tegemoetgekom.
Gemeentes met verdere vrae oor die inligtingstuk
kan ds Minnaar gerus kontak by dsbossie@telkomsa.net. Navrae oor onderstaande besluit kan gerig word aan ons sinode se Direkteur
Administrasie, Jan Viljoen, by da@ngkok.co.za
SK-Besluit
Die volledige besluit lui:
6.1.5.5 Besluit:
6.1.5.5.1 Die NG Kerk in Oos-Kaapland
neem deel aan die stelsel van gesentraliseerde lidmaatregisters:
6.1.5.5.1.1 sonder om as sinodale regspersoon finansiële verantwoordelikheid
teenoor die algemene kerkverband vir die stelsel te aanvaar.
6.1.5.5.1.2 deur gemeentes aan te moedig om volledig by
die stelsel in te skakel en hul finansiële verantwoordelikheid hiervoor na te
kom. Gemeentes word ingelig dat ‘n gebrek aan
deelname tot nadeel van die gemeente sal strek, en hulle word gewys op die
voordele van die stelsel.
6.1.5.5.1.3 deur gemeentes te versoek om in die eerste
maand van elke finansiële jaar, d.w.s. voor 30 Maart, hul volledige finansiële
verantwoordelikheid vir die jaar na te kom deur die fondse aan die sinodale
kantoor (NG Kerk in Oos-Kaapland) oor te betaal. Slegs die fondse wat wel van
gemeentes ontvang word, word deur die sinodale kantoor aan ABID / die algemene
verband oorbetaal.
6.1.5.5.1.4 met die dringende versoek aan ABID om die
koste so laag as moontlik af te bestuur.
6.1.5.5.1.5 met dank aan ds Bossie Minnaar vir sy besoek
aan die SK-Dagbestuur om verdere inligting te verskaf. Dank word ook teenoor
ABID uitgespreek vir die inisiatief om kleiner gemeentes tegemoet te kom en
daadwerklike steun t.o.v. die invoer van gemeentes se data te verleen.
Sinodale
kantoor sluit oor die Kersvakansie
Die Sinodale Kantoor sluit vanjaar op 12 Desember 2008 en
heropen weer op 7 Januarie 2009. ‘n Geseënde Kerstyd
en voorspoed vir 2009 word julle almal toegewens!
Daar is al ‘n mooi klompie
foto’s van interessante gemeentelike, rings- en
sinodale aktiwiteite op ons Flickr-fotoblad. Gaan kyk
na ‘n paar foto’s van Somerstrand se Paas-stilwordtyd, die Sinodale Werkswinkel te Asantasana 2007, die Xtreme Actventures van die Queenstown-Ring, e.s.m. Die adres is www.flickr.com/photos/ngkok.
Stuur gerus van
jul gemeente of ring se foto’s vir my by danie@ngkok.co.za.
‘n Paar versoeke in hierdie verband: die voorkeur-grootte
van die foto’s is 800 by 600 pixels, en ek vra dat jy
net een soort foto’s per e-pos stuur. Dit beteken: vir elke projek, moet jy NET
die foto’s van daardie projek as aanhegsels met ‘n
e-pos stuur. As jy twee projekte wil stuur, stuur twee e-posse en verduidelik
in elke e-pos waaroor die foto’s gaan.
Vir
alle Eerstejaars van 2009: “Oerkamp”,
Eersterivier, Kareedouw, 2009
Die Klema Eerstejaarskamp van 22-25 Januarie is ‘n
omvattende studente ervaring waar studente-leiers, tans studente by die NMMU en
ander tersiêre inrigtings, hulle wysheid deel en al die eerstejaars se vrae
antwoord en hulle gemoed gerusstel. Dit is ook ‘n
geleentheid om nuwe vriende, wat moontlik dieselfde rigting studeer, te ontmoet
in ‘n pret, Christelike atmosfeer. Die kamp vind
plaas by Eersterivier, ‘n beeldskone kampterrein naby
Kareedouw, reg by die see. Die kampterrein is van so aard dat ons baie pret
aktiwiteite by die see en in die natuur
Die kamptema
is “Oerkamp” waar ons saam met die eerstejaars graag
al die fasette van kampuslewe en studentelewe wil ontdek en saam met hulle ‘n pad wil loop deur hulle studie-jare om hulle by te staan
en ondersteun asook motiveer en lekker ontspan. Vir meer besonderhede klik op
hierdie skakel: http://www.ngkok.co.za/Kennisgewings/1stejaarkamp2009.pdf
Riaan
en Saretha
Terblanche : Veritas Oos-Kaap Nuus
Ds Riaan Terblanche is onlangs as mede-leraar
te Cradock-Moedergemeente bevestig, met opdrag Veritas Kollege. Hy bied
opleiding vir lidmaatbemagtiging aan. Ons is trots daarop om mense van hierdie
kaliber in die Oos-Kaap te hê, en dankbaar vir die wyse waarop hulle
gemeenteleiers bemagtig. Hulle jongste nuusbrief:
Bakkie ingevoer en
geregistreer!
Die Here is waarlik
goed! Julle weet hoe lank ek gesukkel het om my bakkie in te voer, en die stryd
om dit nou ook geregistreer te kry in SA. Ek het nou 4 maande gewag vir ‘n de-registrasie dokument van Bisho af, en toe kom dit
sowaar! Ek het my maar klaargemaak om volgende jaar weer met iemand anders se
bakkie na Mosambiek te ry, maar die dokument het gekom, en binne ‘n week is hy nou geregistreer en gelisensieer! Ek
het wel ‘n brief aan die minister geskryf, en weet
nie of dit gehelp het nie, maar wat ek wel weet is dat God ons gebede
beantwoord het. Prys die Here!
Byeenkomste in
Stellenbosch
Die donateursbyeenkoms in Stellenbosh
het baie goed afgeloop, en ons kon ons ondersteuners in lig oor die groei van
Veritas College oor die wêreld heen. In 25
lande in die wêreld is die werk van Veritas College
stewig gevestig, en dit brei steeds uit. In Suid-Afrika is daar baie
groei in veral die Vrystaat, rondom Bloemfontein, asook in ander provinsies. Ek
kon ‘n bietjie deel oor die groei van opleiding
in die Transkei, waar 14 fasiliteerders reeds opgelei is, asook in
Mosambiek waar ons reeds 140 studente het.
Ons kon ook so ‘n
bietjie beplanning vir die toekoms doen, en behalwe vir meer opleiding in
Transkei en die Oos-Kaap in 2009, kyk ons na die moontlikheid om , waar
daar heelwat groei in Mosambiek is, ‘n koördineerder
aan te stel. Dit sou ideaal wees om vir die toekoms iemand daar te hê wat
die bestaande werk kan ondersteun en nuwe opleiding kan inisieer, maar dit
alles kos ook fondse.
Ons wil graag vra dat as u hierdie
toekomsmusiek vir Mosambiek hoor , dat u ook hieroor sal bid.
Indien ‘n ondersteuner wil word, al is dit net ‘n R100 of R200 per maand, kan u met my kontak, of dit
inbetaal in die rekening van Veritas onderaan die brief. Ek het die
laaste tyd weer eens onder die indruk gekom hoe dat alles in God se hande is,
en dat as ons bid, die Here uit sy rykdom voorsien. Al sou die wêreld se markte
val en die sakemanne huil, God bly getrou om vir sy kerk te voorsien in
dit wat nodig is om die evangelie uit te dra!
Fasiliteerderskursus
in Cradock.
Daar was toe heelwat
minder studente as wat aanvanklik aangedui het om die kursus by te woon, maar
die Here weet hoeveel, en wie almal hy daar wou gehad het. Ons was 4
stuks, Charl en Sonja Greyling van Cradock wat ‘n
roeping het om in Mosambiek te gaan werk, Ds. Meld van der Spuy van Rietbron,
en my wederhelf, Saretha.
Dit was ‘n baie
interessante fasilitering met baie teologiese gesprekke rondom God se groot
genade en ons goeie werke, en ons almal, ek inkluis, is verryk en
bemoedig. Wat spesiaal was is dat ons in hierdie kleiner groep ook nader
aan mekaar kon groei, amper soos familie! Wat die studente baie
bemoedigend gevind het was die eenvoudige feit dat ‘n
goeie fasiliteerder eintlik “dom” genoeg moet wees, sodat hulle student slim en
vaardig kan word, deur self die antwoorde in die Skrif te ontdek!
Kersfees en
familiefees
Op hierdie stadium is
dit ‘n fees hier by die huis! Dirk is terug na
sy eksamens, en Le Roux het so ‘n verrassingsbesoek
kom doen toe hy sy enkel daar op Tafelberg verstuit het en ‘n
week af gehad het.
Dis net wonderlik om die kinders soos
olyfboompies rondom die eettafel te sien en saam met hulle te bid en God te
dank vir sy groot genade. Eintlik het hulle olyfbome geword, want pa en
ma is korter as hulle. Ons dank die Here vir sy genade in hulle lewens.
Ons sien ook baie uit om Maandag, die 8ste
tot die 21ste Desember in die Kaap te wees waar ons saam met ons ouers en
broers, ‘n paar verjaardae gaan vier, d.i. my pa s’n
wat nou die mylpaal van 90jr gaan bereik, Saretha
s’n, Le Roux s’n, en my broers Ettiene en
Pieter s’n!
Mag hierdie Kersfees vir u méér wees
as net ‘n familiefees; mag dit ‘n
Christusfees wees waar ons, as familie van Christus, die liefde van God sal
vier, deur ons oorvloed te deel met ‘n arme, net soos
Christus wat ryk was, ter wille van ons wat arm was, arm geword het, sodat ons
in Hom ryk kon word. Mag ons God se hart bly maak, wanneer sy familie
uitgebrei word, wanneer die hongerige en dorstige aan ons tafels kom aansit!!!
Die Here seën u, om ‘n seën te wees!
Riaan en Saretha
Naskrif:
Indien u die bediening van Veritas in Mosambiek of my
salaris in Veritas wil ondersteun, hier is Veritas se bankbesonderhede…
Verwysing: ‘Mosambiek’ of ‘Riaan Terblanche’
Veritas se Tjek rekening:
Naam van bank: ABSA
Naam van rekening: Veritas College,
Stellenbosch, takkode 334410
Rekeningnommer (tjek): 4054793738
Jongste
nuus re Missie Japan
Stéphan van der Watt, leraar van Aliwal-Noord en op pad na Japan, skryf:
In die laaste 3 weke vandat
ek ’n nuusbrief in November geskryf het, het gedagtes rondom HOOP my nooit
verlaat nie. Oral waar ek beweeg het, het gesprekke, nuusberigte en veral my
stiltetye gedien as herinnerings hieraan. Dit was asof een refrein konstant
herhaal is: “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is
getrou: Hy doen wat Hy beloof het.” (Hebr 10:23).
By eergister se Missie Japan bestuursvergadering het oom (ds.) Giep Louw die
opening hanteer uit Psalm 25. Daar staan o.a: “In
U stel ek elke dag my verwagting. Dink aan die liefde en trou, Here, wat U van
altyd af betoon het.” Na ‘n hele paar maande van
daaglikse verwagting, het God ons weereens verras met Sy hoopvolle trou!
Mense wat waag ter wille van God se Koninkryk
Die 15 deelnemers aan die bestuursvergadering
het uit verskillende streke en gemeentes gekom om biddend te vra: “Hoe
vorentoe, Here?” Ons is diep bemoedig deur almal se heelhartige toewyding aan
die saak van Missie Japan. Nadat ons verslag gedoen het oor die stand van sake
na afloop van drie en ’n half maande se bekendstellingswerk, was dit tyd vir
wyse en waagmoedige onderskeiding. Ons het sedert middel Augustus 62 gemeentes
en baie ander individue en kleingroepe besoek. Die ondersteuning (gebed en finansieël) wat tot dusver gewerf is, het almal positief
ingestel en die vergadering het eenstemmig besluit dat daar voortgegaan kan
word met die uitstuurproses.
Dus, alhoewel daar nou eers
ongeveer 60% van die vereiste bydraes ingekom het of belowe is, het almal met
vertroue saamgestem dat God sal voorsien in die tyd wat volg - veral in die lig
van baie gemeentes en talle individue wat nog hulle verbintenisse oorweeg. Net
na afloop van die vergadering het ’n entoesiastiese gebedsondersteuner my gebel
om te laat weet dat hy en sy vrou ook graag R2000 per maand wil bydra! Ons het
middel Augustus begin met ’n afgetrede paartjie wat hulle gebede saam met
R50/maand bygedra het, nou trek ons strate vooruit, en elke bydraer is ewe
belangrik en nodig. Ons kan maar net sê: “Baie dankie!”
Die pad vorentoe
Ons program lyk vir die volgende paar maande soos volg:
6-26 Desember - Vakansieverlof
Januarie 2009 - Aliwal-Noord
bediening (trek 31 Jan uit pastorie)
Februarie 2009 - Langverlof vir
bekendstellingswerk in OVS en Noord-Kaap
1 Maart 2009 – Uitstuurdiens
vanuit NGK Aliwal-Noord
Maart 2009 – Oos-en Suid-Kaap
opvolgwerk, en rus
8 April 2009 – Vertrek na Shikoku, Japan
Ander belangrike sake
Luister hierdie Sondag 7 Desember na RSG se “Kollig op die
Kerk” êrens tussen 07:20-08:00, vir ’n kort onderhoud wat met my gevoer is
oor Missie Japan.
Vir interessant nuus oor Christene (uit die verlede) se invloed in
Japan, gaan na: http://www.japantoday.com/category/national/view/japanese-christian-martyrs-to-be-beatified
Finansiële besonderhede van Missie Japan:
Rekeningnaam: Missie
Japan
Bank: ABSA
Takkode: 632005
Rekening nr:
4049690248
Alle fondse word administreer deur me. Thea Bosman by die
Getuieniskantoor van die NG Kerk Vrystaat.
Haar kontakbesonderhede is 051 406 6729 en getuienis@ngkerkovs.co.za
By ’n inbetaling kan u asseblief u naam en van, asook die verwysing VDW
byvoeg.
Indien u self ’n debietorder ingestel het, stuur asb
'n e-pos of faks aan die getuienis-kantoor om te sê van watter dag en maand af
dit in werking tree.
Baie dankie vir u bereidheid om ons roeping ’n realiteit te maak.
U is ’n volwaardige medewerker wat saam met ons gestuur is na
Japan.
‘n Kollekte vir die
onmenslike nood in Zimbabwe
Ben du Toit skryf in
Vrydagnuus:
Die gevaar van om iets te veel te sê, is dat mense afgestop
raak daaroor. Maar, oor die verdere ontvouing van die dramatiese ramp in
Zimbabwe kan ons nie te veel praat nie. Harare sit al 'n maand sonder
water. Vuilisverwydering vind maande al nie meer plaas nie. Hospitale is
toe en gesondheidsdienste... siek! In ander dorpe en landelike gebiede
gaan dit selfs slegter. Onthou in hierdie dae asseblief die Zimbabwe-Noodfonds
van ons Kerkfamilie (klik hier vir gegewens en nog inligting) – dalk as 'n kollekte op
Kersdag? Zimbabwe gaan 'n donker Kersfees tegemoet.
Zimbabwe-Fonds
Afgesien van vorige hulp wat alreeds deur hierdie fonds moontlik gemaak
is, word daar eersdaags op versoek van ons kontakte in Zimbabwe 'n groot bedrag
uit die fonds oorbetaal vir die aankoop van 'n besending mielies. Hierdie
proses gaan voortdurend aan en word met die grootste omsigtigheid (en
deursigtigheid aan ons kant) hanteer.
* Meld asseblief duidelik dat die bydrae vir
Zimbabwe is
* Meld asseblief duidelik van wie dit kom
* Faks asseblief die inbetalingsbewys na 021
957 7181
* Ons weet daar is ook ander kerklike
noodfondse, maar ter wille van eenvoud en geriefshalwe, gee ons slegs die
volgende gegewens deur:
Kaapse
Bankbesonderhede:
Bank: ABSA
Rekening se naam: NG
Kerk in SA
Rekening se nommer:
360740579 (Tjek)
Takkode is: 632005
(Bellville)
Vir verdere inligting – skakel gerus met Kobus Odendaal (dr) van die
Kommissie vir Getuienisaksie (KGA) in Bellville by 021 957-7204, of 082 732 4752,
of e-pos kodendaal@kaapkerk.co.za
Lees in Kerkbode se laaste uitgawe van
2008:
Kersfonds laat alle vorige rekords spat met kwartmiljoen rand
NG Kerk vra ingryping van buite in Zimbabwe
7de Laan se “Neville”
is nou vigsburo se beskermheer
Swaziland se vigsbediening ontvang
internasionale toekenning
Seisoen van Luister – maar wie hoor? – Kerkbode vra kritiese
vrae
Is die charismatiese invloed ’n Trojaanse perd vir gereformeerde kerke?
Kersfees: God se skoonheid – Wat is skoonheid? Is dit iets wat net in
die oog van die mens lê, soos die Engelse spreekwoord wil hê? Of gaan dit oor
méér as ’n bepaalde manier van kyk?
Kerkbode resenseer talle boeke en ook ’n CD – daar mag dalk net iets
vir jou Kerskous wees ...
Versoening is nie goedkoop nie – Piet Meiring
Nuwe publikasies nou beskikbaar:
Om
Christus beter te ken deur dr Annes Nel
(R99.95)
Hierdie publikasie is spesifiek gemik op gemeenteleiers wat eredienste
moet lei. Dié preekbundel bestaan uit 13 volledige eredienste, onder
andere vir Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag en Pinkstersondag. ’n Volledige
erediens vir ’n begrafnisdiens is ook ingesluit.
Pluspunte:
Goeie teologiese inhoud
Verskeidenheid van temas
Eredienste vir spesiale feesdae in die kerkjaar
Voorgestelde liedere kom uit Die
Liedboek
Hulpmiddel vir elke ouderling
Jeugfokus 2009
’n Wye verskeidenheid produkte
vir junior en senior kategese, kleuter- en kinderkerk en jeugbyeenkomste is
beskikbaar. Opwindende nuwe hulpmiddels vir senior en junior jeuggroepe –
onthou jou gemeentekinders wag vir die LP3, GPS en die splinternuwe JPEG.
Bestel sommer dadelik by 0860 26 33 42 om die regte voorraad vir 2009 betyds te
ontvang.
Inligting, Navrae en
Diensverskaffing:
Skakel 0860 26 33 42
Of stuur jou
bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za
Of koop direk met jou
kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.co.za
’n Geseënde Kersfees – dis ons wens vir jou!
Hans Steyn
Hoof: Bemarking en
Fondswerwing
E-pos: hans@bmedia.co.za
Tel: 021 864 8223
Arts
in Outreach
African Enterprise
bied van 12-15 Desember 2008 ‘n Arts in Outreach Conference
by hul Sentrum in Pietermaritzburg aan. Kyk gerus na die brosjure.
Vir meer informasie kan jy 033 347 7050 skakel of AE kontak by registrar@ae.org.za
Nellie
Westraadt vertel ‘n verhaal
met ‘n belangrike les:
'n Brood val uit 'n bewegende broodwa en rol 'n entjie verder. 'n Stukkie
breek af en bly in die straat lê. Drie mossies peil af op die stukkie wat
afgebreek het. 'n Hewige bakleiery breek los. Een kry die oorhand en begin die
krummels gretig oppik, terwyl die ander twee met luide protes in 'n boom gaan
sit. Nie een van hulle het die groot brood 'n entjie verder raakgesien nie.
Hulle was besig om oor die krummels te baklei!
Ons maak rusie oor klein
dingetjies en ignoreer dit wat eintlik belangrik is. Oor die nietighede word
ons vir mekaar so kwaad dat kosbare verhoudinge verbreek word. Voordat
ons oor die krummels twis, kom ons kyk eers rond en sien die brood raak! Die
krummels is nie die gevolge van die twis werd nie!
Here, laat ek vandag onderskei
tussen krummels en die dinge wat werklik saakmaak.
'So Dad left when he found
out about Mom and the Panda.'
Sinodale Kommunikasie