Amptelike Nuusblad : NG
Kerk in Oos-Kaapland
OosKaap eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die
gemeenskap van die heiliges
Jaargang 6 - Nommer 23 - 31 Julie
2008 - www.ngkok.co.za/enuus
Oos-Kaapse
Leraarspaar op pad Japan toe vir sendingwerk
Cradock-Moedergemeente
kry bykomende leraar met die oog op Veritas-bediening
Augustus
is Maand vir Barmhartigheid
Konsep-Handves vir Godsdiensvryheid: Christen,
Jood, Moslem en Tamil werk saam
Men of
Passion - ontbyt met Floyd McClung
Gereformeerd en/of charismaties?
Oos-Kaapse Leraarspaar op pad Japan toe
vir sendingwerk
Dis amptelik: Stéphan
en Carina van der Watt van Aliwal-Noord is deur Missie Japan gekeur om vanaf
volgende jaar sendingwerk in Japan se doen. Carina is die dogter van Tobie en
Annalie de Wet wat reeds in 1974 begin het om daar sendingwerk te doen.
Dr Gideon van der Watt vertel die hele storie:
NUWE SENDELINGE NA JAPAN!
Dit is nou reeds ‘n
hele tydjie wat Missie Japan besig is met ‘n proses om ‘n nuwe sendeling-paar te identifiseer. Ons het
die keuringsproses baie huiwerig aangepak, diep onder die besef wat alles op
die spel is. Hoe besluit mens wie die regte persone is om uit te stuur? Waar
kry jy jong kandidate wat dit hulle lewensroeping sal maak? Mense wat nederig
is en bereid sal wees om offers te bring? En wat vir die Japanners aanvaarbaar
sal wees en daar sal kan aanpas? Talentvolle mense, toegewyde mense? Waar kry
ons iemand wat Missie Japan se
ondersteuners opgewonde deel van hulle roeping sal kan maak?
Ons het die proses biddend deurgegaan, saam met die RCJ Ring van
Shikoku. In die geloof dat die Here sal voorsien – in die regte mense én in die
fondse om hulle uiteindelik te kan uitstuur. Die hele projek het vir ons so
onmoontlik gevoel. Maar soos wat ons gevorder het, het ons al hoe meer
opgewonde geraak. Ons het al hoe meer beleef dat die Here die hele proses
oorgeneem het. Hyself het die regte mense geroep en gestuur. Ons kon ook ervaar
hoe Hy ons almal roep om saam met hierdie gestuurdes van Hom op hulle nuwe pad
te gaan. En ons het mekaar aan God se belofte herinner: Hy sal voorsien!
Duidelik het ons die Here se roepstem gehoor. Uiteindelik kon ons nie anders
nie as om in verwondering te antwoord:
“Ja Here. hier is ons, stuur ons.”
Dis daarom vir ons lekker om amptelik bekend te maak dat ons graag vir Dr Stephan van der Watt en sy vrou Carina
volgende jaar na Japan wil uitstuur.
Stephan is tans leraar van die NG Gemeente Aliwal-Noord. Hy is ‘n
gebore Oos-Kapenaar, van Humansdorp se wêreld. Hy het op Stellenbosch teologie
studeer en akademies sommer baie goed presteer – daarom kon hy so vroeg reeds
sy Doktorsgraad in die Praktiese Teologie voltooi. Maar hy het ook netso goed
op sportgebied en as leier in die studentegemeenskap presteer. Stephan is met
Carina getroud. Sy is netso ‘n begaafde mens, met ‘n meestersgraad in Ekonomie.
Op Aliwal het sy reeds ‘n organisasie gevestig wat besondere ontwikkelingswerk in die arm gemeenskap doen.
Carina en Stephan het ‘n pragtige dogtertjie Annlie. Beide van hulle is oortuig dat die Here hulle
vir die werk in Japan geroep het. Hulle sien kans vir die taalstudie en al die
opofferinge en hulle is baie angstig om so gou moontlik uitgestuur te word.
Wat so besonders is, is dat Carina die dogter is van Ds Tobie en
Annalie de Wet, ons huidige sendelinge in Japan. Die Here het hulle dus geroep
om in die voetspore van hulle ouers te gaan loop en hulle werk daar te gaan
voortsit. Vir Tobie en Annalie is dit natuurlik ‘n hele emosionele (en sekerlik
ook ‘n diep dankbare) ervaring.
Missie Japan is nou besig om saam met Stephan hulle, maar ook saam met
hulle huidige gemeente, die pad vorentoe te beplan. Daar lê groot werk voor.
Soveel gemeentes moontlik moet besoek word; ‘n hele ondersteuningsbasis moet in
plek gesit en uitgebou word; daar moet met die Japanners onderhandel word;
Stephan hulle moet hulleself vir die vertrek voorberei, ens. Dis baie belangrik
dat ons eers genoeg ondersteuning vind voor hulle uitgestuur kan word. Maar ons
glo die Here sal voorsien. Daarom vra ons baie mooi dat alle Missie Japan
medewerkers ons hiermee sal help. Laat weet asseblief van adresse van moontlike
medewerkers. Of as Stephan hulle of iemand van Missie Japan dalk julle gemeente
kan kom besoek. En natuurlik: bid asseblief vir Stephan en Carina. En vir al
die voorbereiding, hier en in Japan. Bid asseblief vir Missie Japan, dat ons
almal saam getrou sal bly aan ons roeping: “Gedring
deur God se liefde om die mense van Shikoku dissipels van Jesus Christus te
maak”
Cradock-Moedergemeente kry bykomende
leraar met die oog op Veritas-bediening
Ds Riaan Terblanche
was lank in Mosambiek werksaam, en is die afgelope aantal jare reeds by Veritas
Kollege betrokke, met standplaas Cradock. Veritas fokus daarop om gelowiges toe
te rus om die Bybel uit te lê en toe te pas.
Nou vertel Riaan van
‘n opwindende verwikkeling:
“Soos die Here wil,
word ek Sondag, die 3de Augustus bevestig as leraar van die NG Gemeente
Cradock (Moedergemeente) as tentmaker, met die opdrag: Veritas College.
Ons dank die Here vir die gemeente en kerkraad met wie ek nou kan saamwerk in
opleiding, veral ook met die Amos Projek wat sterk begin posvat op
Cradock. Dank die Here saam met ons dat ons nou ‘n versorgingsbasis
mag hê en bid saam met ons dat daar ‘n hartlike samewerking sal wees tot
uitbreiding van die koninkryk van God!”
Riaan doen groot
opleidingswerk op verskeie plekke in die Oos-Kaap, waaronder die Transkei. Hy
kan gekontak word by 082 77 34 684.
Pastoor Ron Reynolds vertel meer oor hierdie bediening
en rig ‘n versoek aan gemeentes:
Die Saaiers-in-die-Selle
Bedienings is ‘n groep mans en vroue wat deur die Here geroep is om ons gevalle
broers en susters in die gevangenisse met Sy Woord te gaan bedien, op te help
en by te staan sodat hulle weer die regte koers, in Jesus, vir hul lewe kan vind.
Ons kan dit nie alleen doen nie.
Hy het self gesê dat die oes groot is, die arbeiders min en dat ons na
Hom toe moet bid vir gewillige helpers.
Ons het dit gedoen…ons doen dit steeds… en Hy het ons gelei om te gaan
getuig van presies hoe hard Hy aan die werk is in hierdie vergete deel van ons
samelewing. Presies hoe gretiglik Sy
woord in die gevangenisse ontvang word.
Dis waarom u nou hierdie skrywe in die hand het. Ons wil ‘n ernstige beroep op u doen dat u
ons in ons taak sal ondersteun deur ons toe te laat om tydens ‘n oggend-diens
ons getuienis in diè verband te kom bring.
U Kan selfs daardie dag lekker agteroor sit en rus want ons kan die
getuienis-lewering deel maak van die bring van die boodskap en sommer die hele
diens waarneem, indien u so sou verlang.
Ons is daartoe opgelei en bevoegd.
Ons benodig minstens 20 tot 30 minute om die gemeentelede behoorlik in
te lig. Om dit so interessant moontlik
te maak, maak ons gebruik van ‘n kort video/DVD en bring selfs oortreders en/of
eks-oortreders saam om hulle verhaal te deel!
Enigiets minder, tydsgewys, het ondervinding ons geleer, is baie
ondoeltreffend en oneffektief en vind die aanhoorders nie juis baat daarby nie.
Ons dienste is heeltemal gratis…ons verwys nie eens na finansies nie…ons
enigste versoek sal wees vir betrokkenheid op ‘n vrywillige basis met Jesus se
laaste opdrag soos wat in Mattheus 28 gelees word.
Help ons asseblief!!! Kontak
ons leier, Pastoor Ron Reynolds, op 072 884 2667 ter enige tyd of kom besoek
hom, op afspraak, by die Port Elizabeth Korrektiewe Sentrum, Patersonweg,
Noordeinde.
Mag die Here u ryklik seën!
Augustus is Maand vir Barmhartigheid
Die
Algemene Diensgroep vir Getuienis stuur die volgende boodskap:
Die viering van ‘n Sondag of ‘n maand van
Barmhartigheid is ‘n gebruik wat jare lank reeds in kerke wêreldwyd
bestaan. Die doel van hierdie
geleenthede is gewoonlik om die gemeente te herinner aan die Here se opdrag aan
die kerk om barmhartig te wees en om geleenthede te skep waartydens die
gemeente ingelig kan word oor barmhartigheidsdiens waarby die gemeente betrokke
kan wees. In Suid-Afrika het die gebruik in verskillende kerke die afgelope
jare posgevat om welwillendheidsweke of barmhartigheidsweke te hou saam met die
viering van Pinksterfees. Sommige kerke
vier barhartigheidsmaand ook in Augustus
of Oktober.
Die Verenigende Gereformeerde
Kerk in SA (VGKSA) vier die afgelope jare barmhartigheidsmaand in Augustus met
die hoogtepunt op die laaste Sondag van Augustus. Sedert 2005 het Sondag vir Barmhartigheid ‘n
gesamentlike projek van die vier kerke in die NG Kerk familie (die NG Kerk,
VGKSA, NGKA en RCA) geword en dit word nou as ‘n projek van die Verenigde
Diensgroep vir Diens en Getuienis (Algemene Sinodes) bestuur. Alhoewel sommige gemeentes steeds verkies om
die hoogtepunt van die maand op die laaste Sondag te vier stel die Diensgroep
voor dat gemeentes Barmhartigheidsmaand vier op enige Sondag in Augustus soos
dit kan inpas by die gemeente se program.
Die tema vir vanjaar se Maand vir
Barmhartigheid is: Vanuit God se sorg vir Sy kerk,
word Sy kerk ‘n sorgende kerk in die wêreld. Die Verenigde Diensgroep vir Diens en
Getuienis (Algemene Sinodes) het ‘n brosjure voorberei met wenke vir die
viering van ‘n Sondag vir Barmhartigheid. Dit sal op die webwerf van die NG Kerk
beskikbaar wees.
Konsep-Handves
vir Godsdiensvryheid: Christen, Jood, Moslem en Tamil werk saam
Rapport, 27.07.2008, Carien Kruger
Die reg op
godsdiensvryheid staan swart op wit in ons Grondwet. Maar eintlik is dit
nog net ‘n stippellyn. Om die grenslyne van dié reg vet en duidelik te
kan trek, het Suid-Afrika ‘n handves van godsdiensregte en -vryhede
nodig... Christen Jood, Moslem en Tamil het hande gevat om die taak aan
te pak en reeds tot by ‘n derde konsephandves gevorder, wat nou vir kommentaar
versprei word.
Prof Pieter Coertzen, een van die inisieerders en drywers van die
proses om die handves in die wetboek te kry, verduidelik dat die reg op
godsdiensvryheid soos die meeste ander regte net in kriptiese, vae en algemene
terme in die Grondwet se Handves van Regte beskryf word...
Coertzen, hoogleraar in kerkreg aan die Universiteit van Stellenbosch
se fakulteit teologie, het onlangs op ‘n simposium van die Suid-Afrikaanse
Akademie vir Wetenskap en Kuns daarop gewys dat die Grondwet byvoorbeeld niks
sê oor die reg om van geloof te verander nie, die reg om godsdiens privaat te
beoefen of die reg om in die openbaar oor ‘n mens se godsdienstige oortuigings
te getuig nie. "Dit is belangrike godsdiensvryhede dié en hul
afwesigheid maak dit noodsaaklik dat godsdiensgroepe die inisiatief neem en hul
godsdiensregte te omskryf teen die agtergrond van Suid-Afrikaanse
wetgewing."...
Hoewel dit die regering se rol is om die toepassing van regte te
reguleer en duideliker te omskryf raak dit gevaarlik wanneer dit oor
godsdiensvryheid gaan... Byvoorbeeld maak die Suid-Afrikaanse Skolewet
dit moeilik vir skole om leerlinge in ooreenstemming met hul godsdienstige
beginsels te onderrig. En ouers wat hul kinders om godsdienstige redes
tuis wil onderrig, moet aan onbetroubare en subjektiewe assesseringsvereistes
voldoen, sê Coertzen. Omdat dit so moeilik is om aan die voorgeskrewe
standaarde te voldoen, het tuisonderrig nou vir hierdie ouers ‘n baie
ingewikkelde taak geword.
In die Grondwet se klem op individuele regte lê daar ‘n knoop vir
godsdiensregte, sê Coertzen. Byvoorbeeld, indien die bepaling wat
onbillike diskriminasie verbied op godsdiensinstellings van toepassing
is, sou ‘n hof kon bevind dat kerke nie op grond van geslag kan diskrimineer wanneer
hulle hul priesters kies nie. ‘n Handves van godsdiensregte sal egter die
verhouding tussen godsdiens en die staat duideliker omlyn. Dit kan
volgens Coertzen toekomstige onnodige staatsinmenging in godsdiens voorkom en
kan onsekerheid, misverstande en onnodige wrywing tussen godsdiens en die staat
uitskakel.
"As godsdiensinstellings ‘n konsensusvoorstel aan die staat kan
voorlê, sal die staat dit beswaarlik kan ignoreer. "Só kan
godsdiensinstellings dan self hul stempel afdruk op die inhoud van die reg op
godsdiensvryheid en op die altyd aanwesige vraag oor die verhouding tussen
godsdiens en die staat.." Die konsephandves kan gelees word by www.sun.ac.za/theology/nuus_gebeure.htm.
Kommentaar moet voor 1 Augustus na Coertzen gestuur word by pc@sun.ac.za of bel hom by 021 887-2619...
Die vraag wat vir my gegee is, is: ‘Doen die Afrikaanse
kerke genoeg om rassisme in eie geledere te bestry?’
Die kort antwoord, ten minste wat betref die
NG Kerk en die Hervormde Kerk oor wie dit lyk my vandag hier gaan, is
natuurlik: ‘Nee.’ Maar terwyl ek 10 tot 15 minute gegee is om dit te sê, laat
my ‘n paar perspektiewe daarop toe.
By die
Hervormers het ek dit gesien in die debatte en die voorstelle oor die herstel
van verhoudinge met die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die verhouding
met die swart Hervormers in die Maranatha Reformed Church of Christ.
By die
NG Kerk het ek dit gesien in die debatte oor kerkeenheid.
Die
studente onder ons sal te jonk wees om dit te onthou, maar mense van my geslag
sal weet dat dit die soort taal is waarmee die hele apatheidstelsel destyds
onder Afrikaners goedgepraat is.
Jare
gelede, lank voordat hy nog professor was, het ek by Russel Botman geleer dat
die onderliggende leer van die onversoenbaarheid van mense, ten diepste berus
op ‘n ontkenning van die versoenende krag van Jesus Christus.
Dan
wil ek daarop wys dat dié leiers se hande deur die kerkreg taamlik sterk gebind
is. Hulle
Ek
wonder hoeveel mense besef dat die NG Kerk se ASM nie eens direk met gemeentes
mag kommunikeer nie. As daar binne die ASM ‘n voorstel sou kom dat hulle dit
moes doen, sou die Noord-Kaapse afgevaardigdes baie gou daarop wys dat die
algemene sinode ‘n sinode van sinodes is. Hulle mag slegs met die streeksinodes
kommunikeer. In praktyk besluit die leierskap op streeksinodevlak dan of en hoe
hulle die boodskap van die ASM verder na gemeentes deurvoer. En as dit by gemeentes
kom, besluit die dominees of en hoe hulle dit aan lidmate gaan deurgee.
In die
Hervormde Kerk het die vorige kommissie van die AKV moedig probeer om die kerk
weg van apartheid te stuur. Hulle is uit sekere kringe baie kwalik geneem,
onder meer oor die hou van ‘n colloquiem, wat baie gou as ‘n onkerkregtelike
struktuur afgemaak is. En toe die algemene kerkvergadering kom, het die kerk
daar besluit om ‘n ander koers in te slaan.
Die NG
Kerk se ASM het hard gewerk, hart en siel sou ek kon sê, aan kerkeenheid. En
toe die gemeentes (deur die streeksinodes se strukture natuurlik) gevra word om
terugvoer op die voorstelle, het ‘n beduidende deel van die kerk gesê (as ek
dit effe kru mag parafraseer): “Te hel met julle eenheid.”
Toe
die kerkhervormers ná die reformasie nuwe kerkregeringstelsels bedink het, het
hulle dit goed reggekry om te keer dat daar binne die kerke van die reformasie
‘n herhaling sou wees van pouslike magsvergrype, maar hulle het dit nie
reggekry om kerkleiers te bemagtig om kwessies soos kerklike verhoudinge en
kerkeenheid te hanteer nie.
Ek het
onlangs ‘n paar keer met die Russies-Ortdokse priester in Midrand gesels, en as
‘n mens hoor hoe hy oor sy patriarg praat, is dit wêrelde verwyder van hoe
dominees en gemeentes in ons kerke oor hul leiers praat. By ‘n wit Anglikaanse
priester hier in Waterkloof, het ek ‘n groot lojaltieit teenoor sy swart biskop
gehoor.
Miskien
is dit ‘n Afrikanerding, maar uit ons kerke hoor ek daai soort lojaliteit glad
nie. Inteendeel. Uit ‘n beduidende sektor van ons kerke hoor ek wantroue.
Ter
illustrasie: ‘n jaar of twee gelede skryf ‘n verslaggewer in Rapport, in ‘n
bedenklike stukkie joernalistiek moet ek bysê, dat daar reeds op ‘n nuwe naam
besluit is vir die nuwe kerk wat uit die NG Kerkfamilie se eenheidsproses tot
stand moet kom – en sy haal so ‘n lang Engelse naam aan.
In ‘n
ringsbesluit distansieer die ring van Louis Trichardt hulle van dié sogenaamde
besluit, al is daar by herhaling deur kerkleiers gesê daar is nog geen besluite
oor sulke goed geneem nie. Al
Ek het
vir een van die dominees van daai ring gesê: ‘Julle glo Rapport soos die
evangelie, maar julle glo nie julle eie leiers nie.’
In die
Hervormde Kerk is die vure van wantroue teenoor die kommissie van die algemene
kerkvergadering ook verlede jaar sterk aangeblaas. Ek hoop vir prof. Dreyer se
onthalwe dit gaan nou beter daar.
Ek is
nie heeltemal seker of ek dit net so oor die Hervormde Kerk sou kon sê nie,
maar my indruk in die NG Kerk is dat baie dominees geabdikeer het van die rol
om te praat oor kwessies wat te naby die politiek lê.
Dis
asof daar ‘n gevoel is dat ons voorheen ons vingers verbrand het toe ons ons op
politieke terrein begeef het, en daarom wil ons dit nie weer doen nie. Daarom,
is my indruk, preek dominees nie oor goed soos rassisme nie.
Daar
is natuurlik ‘n paar wat dit probeer het en hulle vasgeloop het, wat hulle in
die proses heeltemal van hul lidmate en gemeentes vervreem het. Dit is dus nie
‘n eenvoudige ding om te doen nie.
Miskien
lê iets van die antwoord daarin om nie oor rassisme te preek nie, maar oor die
liefde van Christus, oor ‘n liefde wat so wyd en diep loop, dat dit geen ruimte
laat vir enige vorm van rassisme om te bly bestaan nie.
As ek
my analitiese, dalk siniese, joernalistieke bril opsit, dan moet ek sê nee. Ek
sien nie lig vorentoe nie.
Maar
nou het ek in my lewe al so gevoel oor verskillende vasgeloopte situasies en
dan gaan daar deure oop waar ek nie gedink het deure is nie. Ek moet seker nou
ook bly vashou aan die hoop dat niks vir God onmoontlik is nie.
Verlede jaar was die terugvoer oor hierdie liturgiese werkswinkel in die
idilliese Bedford-natuurskoon aangrypend. Persone was diep geraak deur die
teologiese raamwerk waarbinne liturgie geplaas, bedink en gedoen word. Dit
beloof om weer so ‘n geseënde ervaring te wees, veral as mens kyk na die lysie
sprekers. Skryf gerus in.
Liturgie vir die
Lewe
Aangebied deur die
Ring van Albanie en die Sinode van Oos-Kaapland
Sprekers: Theo Geyser, Marina Strydom en Carel Anthonissen
Ons tweede jaarlikse
werkswinkel vind hierdie jaar plaas op Maandag 29 en Dinsdag 30 September 2008
op Bedford. Kom kuier en wees saam met ons terwyl ons dink en praat oor ons
eredienste, musiek en eintlik oor die hele Christelike lewe.
Kontak Rudi Swanepoel
084 581 9537 of rudiswan@telkomsa.net
vir meer inligting.
Vir akkommodasie
besprekings besoek www.bedford.co.za
Gereformeerd en/of charismaties?
Prof Piet Naude skryf:
Ons almal
wat op grondvlak in die kerk werk, weet van die hoogbloei van die charismatiese
beweging en hoe dit ons opvattings oor ervaring, liturgie en die doop
beinvloed.
Prof Kees
van der Kooi van die Vrjie Universiteit in Amsterdam besoek die NMMU op
Donderdag en Vrydag 21-22 Augustus as deel van 'n landswye lesingreeks in
Pretoria, Bloemfontein, UWK en Stellenbosch. Hy is 'n wêreldkenner van die
verhouding tussen Gereformeerde en charismatiese opvattings, en is redakteur
van die Bulletin voor Charismatiese Theologie in Nederland.
Kom ons
luister na hom (voertaal Nederlands en Engels) en gesels daarna saam op VRYDAG 22 AUG van 11h00-12h30 by die
BYBELHUIS (Cotswoldlaan 31, Port Elizabeth). Bly dan agter vir
'n ligte vingerete en stap weer 13h00 uit vir die naweek se dinge.
Dis heeltemal
gratis en almal is welkom. Om die kos te bestel, moet ons ‘n idee hê van getalle.
Dus: Kontak
Nellie Westraadt, sekretaresse by die Direkteur Begeleiding
se kantoor (db@ngkok.co.za of 041
365-3159) teen DINSDAG 19 AUGUSTUS om jou bywoning te bevestig.
Dit met groot opgewondenheid dat ons die volgende werkswinkel oor aanbidding
en musiek aan u wil bekendstel:
Datum: 24 en 25 September 2008
Plek: NG Gemeente Stellenberg, Eversdal,
Durbanville.
Teikengroep: Predikante, orreliste,
aanbiddingsleiers, begeleidingsgroepe en “bands”, kantoryleiers en kantorylede
Hooftema: Aanbidding en Musiek in die NG Kerk
vandag
Onderwerpe: Hoe lyk goeie
aanbidding?
Aanbiddingstyle (klassieke, kontemporêre, meditatiewe en ‘”blended
worship”) in die praktyk met ‘n paneelbespreking daarna
Spiritualiteit en Musiek
Meer inligting oor FLAM en VONK. Hoe kry ’n mens hulle musiek in die hande?
Inligting oor kopiereg-vereistes van liedere en musiek
Aanbieders: Bekende persone soos
drr. Johan van der Merwe, Breda Ludik, André Bartlett, Ferdie Clasen en musici
soos proff. Wim Viljoen en Daleen Kruger sal as aanbieders optree
Praktiese belewing: Kursusgangers sal dmv
’n belewingsdiens die geleentheid hê om ook aanbidding in die verskillende
aanbiddingstyle prakties te beleef
Praktiese onderrig : Op Dag 2 ontvang die
predikante, orreliste, aanbiddingsleiers, begeleidingsgroepe en kantory(koor)leiers
apart van mekaar praktiese onderrig. Predikante kry opleiding ivm liturgiese
vaardighede (oa. oor Power Point-aanbiedings) en die aanbied van meditatiewe
eredienste.
Akkreditasie: Die Lenteskool is by
die VBO-Forum geakkrediteer en predikante sal daarvoor VBO punte kan verdien
Koste: R450 per persoon. Kerkrade word
gevra om in belang van die saak van aanbidding in ons gemeentes hulle
predikante, orreliste, begeleidingsgroepe en ander betrokkenes na die
Lenteskool te stuur en dit te sien as indiensopleiding. Kerkrade word ook gevra
om die reis-, verblyf en inskrywingskoste hulle leraars, orreliste en ander
betrokkenes na die Lenteskool te betaal of andersins dit dan ruim te
subsidieer.
Inskrywings: Inskrywingsvorms sal
binnekort met elektroniese pos aan alle gemeentes gestuur word. Die
sluitingsdatum vir inskrywings is: 20
Augustus 2008
Navrae: Enige navrae kan gerig word aan
Kotie Wright by die ADGO-kantoor – telnr: (012) 342 0092 [uitbreiding 203] of kotiew@ngkerk.org.za
Gerhard
Botha bring die volgende onder ons aandag:
1.
Die Julie-uitgawe van Acta Theologica is gratis beskikbaar by die volgende
web-adres: http://www.uovs.ac.za/actatheologica
Navrae:
Francois Tolmie (tolmief.hum@mail.uovs.ac.za)
Inhoudsopgawe:
The eschatology of 1 Thessalonians in the light of its spirituality, Koinonia
(Deelgenootskap) - 'n gemis in ons 21ste-eeuse kerkbegrip, Appropriating the
closure of Jesuit missions: Fritz Hochwälder's Das Heilige Experiment, 'n
Empiriese ondersoek na preekvoorstelle oor Ou-Testamentiese tekste in die
Leesrooster van 2005, Psalm 51: Take not your Holy Spirit away from me, The
role of religious values in extending social protection: A South African
perspective, Eunug in die Antieke Nabye Ooste, Ritual as mechanism for securing
life and averting evil among the Krobo, Die ontwikkeling van 'n strategiese gemeentelike
ekklesiologie - Op pad na 'n missionerende bedieningspraxis, Bouwen aan morgen
met het bouwmateriaal van gisteren: Tobit 7-8 over de rol van geliefden als
hoeders en verzorgers van elkanders psychische kwetsuren, The double call for
joy, 'Rejoice and be glad' (Matt. 5:12), as conclusion of the Matthean
macarisms.
2.
VERANTWOORDELIKE VERNUWINGSKONFERENSIE - BLOEMFONTEIN - JESUS IN DIE MALL?: Hierdie
gewilde konferensie vind plaas vanaf 27 - 28 Augustus 2008 te NG Gemeente
Pellissier. Proff Dirkie Smit, Piet Naude en ook Retief Burger en Neels Jackson
sal die sprekers wees. Hierdie jaar is daar ook geleentheid vir tafelgesprekke
met al die sprekers. Hierby aangeheg die volledige program en registrasievorm.
Navrae kan gerig word aan Sandra Swart, tel no 051-422 4010 of by ngk@ngkerkpellissier.co.za
3.
DIE NUUTSTE TEOLOGIE@KOVSIES: Lyzette Hoffman skryf, "Sommige dinge
verander, sommige bly dieselfde". Prof Francois Tolmie neem eersdaags die
leiding by die Fakulteit Teologie. In hierdie uitgawe word aandag geskenk aan
ontwikkeling in die teologie en veranderinge in byvoorbeeld hermeneutiek en
dogmatiek. 'n Nuwe teologiese rubriek sal voortaan in Teologie@Kovsies verskyn.
Dogmatiek word in hierdie uitgawe uitgelig. Ontwikkelinge in die verskillende
teologiese velde sal in opeenvolgende uitgawes van die nuusbrief bespreek word.
Op hierdie wyse word predikante op hoogte gehou van die nuutste navorsing en
tendense in die onderafdelings van die teologie. Die eeue-oue waarhede bly
dieselfde, maar vir elke tyd en geslag moet dit weer nuut verpak word. Gelowiges
kan hul dan weer opnuut verwonder oor "Jesus in die Mall" en die
voorreg om met verantwoordelikheid eties te leef in hierdie era waarin die Here
ons geplaas het. Lees hiervan en nog meer by: http://www.uovs.ac.za/newsletter/newsletter.php?sid=85
Jannie
se ma loer deur die venster.
Jannie
en sy kat is besig om Kerk-Kerk te speel.
Hy
sit daar stil en preek vir die kat.
Glimlaggend
draai sy om en gaan aan met haar werk.
Die
volgende wat sy hoor is 'n vreeslike ge-rumoer, dit miaau en blaas - dit is 'n
vreeslike gedoente!!
Sy
hardloop terug en sien Jannie is besig om die Kat te DOOP in 'n bad water
"STOP
DIT!" SKREE SY VIR JANNIE: "die kat is bang vir die water"
Rustig
kyk Jannie op en antwoord sy ma: "Hy moes daaraan gedink het voordat hy by
my Kerk aangesluit het!"
Sinodale Kommunikasie