Amptelike Nuusblad : NG Kerk in Oos-Kaapland
OosKaap eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges
Jaargang 5 - Nommer 14 - 12 September 2007 - www.ngkok.co.za
XtremeActventures reël wegbreek vir matrieks
Die Youtube en Facebook-generasie, en die kerk
Om ‘n minderheidsgroep Christene in ‘n vyandige publieke
konteks te wees
Ester-Konferensie
16-18 November te Jeffreysbaai
Konsephandves van Godsdiensregte
Op soek na ‘n skriba of administratiewe beampte?
Kry jou kerk se klokhorlosie weer op dreef
TYDENS
‘N KONFERENSIE OOR KERKEENHEID
* VS laat eenheid in NGK-familie sloer
* Onenigheid oor belydenis van Belhar sleep voort
* NG Kerk soek feite oor ‘knoeiery’ in Vrystaat
* Verklaring deur die 4 Moderators van die Kerke
van die NG Kerkfamilie
Die Sinode vergader vanjaar
weer by die (opgegradeerde) Willows-Vakansieoord net buite Port Elizabeth. Dit
is goeie nuus - mens kan darem so ‘n tydjie afknyp om die tien tree tot by die
branders te stap en die vars seelug in te asem.
Die vergadering is van 12-15 November. Die sakelyste word in die eerste week van
Oktober aan gemeentes gestuur. Inhoud
XtremeActventures reël wegbreek vir matrieks
Van 26 November tot 2
Desember kan matrieks lekker opwindend dog veilig wegbreek saam met
XtremeActVentures. Dit beloof baie opwinding. Spring om in te skryf - slegs 24
matrieks kan weens logistiese rede geakkommodeer word. Hier is die inskrywingsvorm. Inhoud
Jy weet dit dalk nog nie,
maar jy wil definitief - as jy ‘n predikant is, of ‘n verantwoordelikheid
rondom Woordbediening in ‘n gemeente het - gaan kuier op ‘n baie, baie
besondere webblad: www.wikiletics.com.
Dit behoort tot die breër wikipedia-familie, en word onder andere deur
akademici van die kaliber van Leonard Sweet bedryf.
Op die voorblad, terwyl ek nou daarna sit
en kyk, is onder andere ‘n preek van Steve Sjogren, getiteld: Arsonist’s Guide to Living beyond Self.
Mens is sommer net lus om weg te val en te lees. Sjogren is mos die ou wat
soveel werk rondom diens as die bediening van die evangelie.
Hoe klink hierdie titels vir preke: The First The Final and The Finest Edition
The Search is Over. (Kan jy uit dié
titel raai uit watter boek van die Nuwe Testament hierdie preek kom?) Of: Our Great escape with Rambo the LAMBo.
Laat weet hoe beleef julle hierdie webblad.
My vermoede is dat dit baie kan help met ‘n meer eietydse benadering tot die
prediking. Inhoud
Die Youtube en Facebook-generasie, en die kerk
My twee tieners maak my
radeloos met die groot hoeveelheid bandwydte wat hulle verorber met Youtube en
Facebook - en so ‘n paar ander mp3-webblaaie. Nie net laai hulle verbete op- en
af nie, maar die produkte van die aflaai word bulderend in die huis gespeel.
So is ek ook nou al “op” Youtube en
Facebook. If you can’t beat them, join
them. Dis absolute merkwaardige sagteware (en daar is baie meer hiervan op
die web) waarin mens spelenderwys en blokkie vir blokkie bou aan ‘n identiteit
en interaksie wat volledig binne jou eie beheer is, met volle bemagtiging deur
die sagteware, en vrye omgaan met ander. So het ek nou al bande opgetel met ‘n
voormalige lidmaat wat in Japan woon en volledig deel geword van sy wêreld op
daai eilandjie aan die ander kant van die aardbol. Video’s ontsluit vir jou ‘n
ongekende diversiteit van perspektiewe en lewensbeskouinge. Daar is dikwels ‘n
ondertoon van humor en pret en ‘n verbasende gemoedelikheid te bespeur.
Mens wonder hoe die vrye deelname, die
interaksie, die skeppende vermoë, die groot aanbod van verskeidenheid
(kwadraat) en die vermoë om self te kies ons saam-wees in die kerk, veral in
die erediens, beïnvloed. Eredienste is dikwels voorspelbaar, daar setel gesag
in die voorganger wat op kennis eerder as ervaring gebaseer is, die
veronderstelling geld van een korrekte, onveranderlike Skrifgebaseerde antwoord
wat rasioneel uitgelê en verduidelik word, die behoefte is om aan die verlede
georiënteer te wees eerder dan aan wat hier en nou moontlik is, asook die
beperkte “spyskaart” - ons kan net met een ding op ‘n slag besig wees. \
Danksy webblaaie soos Youtube en Facebook
sal die wyse waarop sinvolle deelname
aan die erediens, soos die Woordbediening en sakramente, plaasvind
deurslaggewend word vir ons kinders se belewing daarvan.
En nie net ons kinders nie. Dit val my
toenemend op hoe ook ouer mense, en ek kan ‘n paar pensioenarisse opnoem, deur
nuwe tegnologie gevorm word om groter spontaneïteit en ‘n meer deelnemende
benadering op te soek. En sulke mense voel al hoe minder veilig wanneer die
waarheid met gesag van bo geproklameer word. Iewers, vertel hul webgene hulle,
is iets nie reg nie....
Ek is nie seker of mens hierdie soort
fenomeen vreeslik moet beoordeel nie. Dit is gewoon deel van die landskap
waarin geloofsgemeenskappe funksioneer en ons moet vra hoe die evangelie in so
‘n landskap vir mense hoop, ‘n tuiste, wegspringblokke na ‘n sinvolle toekoms,
en vreugde kan bring. Anders gestel: hoe die evangelie ook hierdie landskap kan
bevry deur heling, geregtigheid en vreugde daarvoor te bring. Om dit te kan doen, sal ons die Youtube en
Facebook geslag moet toelaat om ons te leer hoe om hulle - in vennootskap - te
bedien. Die wyse waarop ons almal (pre- en post-Facebook) in hierdie proses sal
leer om in interaksie met die evangelie self te verander, kan ons as ‘n geskenk
van die Here ervaar. Inhoud
Die Evangeliese Inisiatief
het in onlangs ‘n skrywe aan alle predikante gerig. Lidmate wat insae in die skrywe
wil verkry, kan
hier klik.
Die NG Kerk se leierskap het onderneem om in
gesprek met die Evangeliese Inisiatief te bly. Die mening is op verskeie vlakke
uitgespreek dat die NG Kerk die EI se verstaan van die evangelie onderskryf.
Vrae word ook gevra oor die interessante standpunte (dis nogal uiteenlopend oor
sake soos homoseksualiteit en gereformeerdheid) wat deur die leierskap van die
EI verteenwoordig word. Inhoud
Om ‘n minderheidsgroep Christene in ‘n
vyandige publieke konteks te wees
Net verlede Sondagaand sit
ons in die erediens en luister na pastoor Martin de Lange, voormalige werker in
Malatya, Turkye. Sowat 5 maande nadat hulle permanent na SA teruggekeer het, is
drie van sy kollegas wreedaardig deur ekstremiste vermoor. Dis aangrypend om te
hoor wat dit beteken om ‘n gelowige te wees in ‘n konteks waar die ganse
publieke opinie nie net teen jou gekant is nie, maar jou ook as ‘n vyand van
die publieke orde sien. Teen hierdie agtergrond kan mens gerus hierdie
verklaring lees wat pas deur die Turkse Protestantse Gemeenskap (sowat 3,500 Protestante
in Turkye in ‘h bevolking van meer as 70 miljoen) uitgereik is. Dit alles in ‘n
staat wat konstitusioneel sekulêr is.
A
Summary of the
Concerns of theLocal
Protestant Community in
Turkey
01 September 2007
Various organisations and individuals involved in religious liberty issues
have expressed that it would be helpful to communicate the current concerns of the Protestant
community in Turkey in more specific terms. Below is an attempt to convey our
concerns in a concise manner.
For those of you who would
appreciate some background on the subject of freedom of religion in Turkey and
the situation for Christians please refer to the reports put out by a number of
organisations such as the US Commission on Freedom of Religion, Christian
Solidarity Worldwide, OECD etc., all of
which can be viewed on their respective websites. Please do not hesitate
to contact us if you have questions or would like more information on any
related issues or on the topics below.
* The Protestant Community
is negatively affected by contemptuous, disinformative media coverage which
also has the effect of showing
Christians and, in particular, persons who have converted to
Christianity, as targets for acts of violence.
It is crucial to put a stop to this. Where such coverage is found, it is
the community’s desire to see the relevant state institutions initiate
prosecution within the framework of necessary limitations to freedom of
expression; as well as in accordance with ICCPR Art.20 prohibiting ‘advocay of national, racial or
religious hatred that constitute incitement to discrimination, hostility or
violence’ and its counterpart in Turkish Penal Code enshrined in Art. 312.
* In order to secure
harmonious living together in a multi-cultural society, it is important to take
steps, starting with education, to create a culture of tolerance. This is important not only for Protestants
but for all other ‘identities’ which do not conform to the majority. All
efforts should be made to avoid ‘stigmatising’ minorities of any sort.
* It is crucial for
proselytising to be seen within the context of freedom of expression and
freedom of religion or belief and to take pro-active steps so that it is also
perceived as such by the public. Similarly,
it is necessary to put an end to the false understanding of the term
‘missionary,’ which portrays it as a Christian threat to the State and
public. Missionary activity needs to be
taken out of the National Security Council’s list of threats to the country.
* The terrible event that
resulted in the murder of one German and two Turkish Christians in April 2007
in the city of Malatya is the result of
the contemptuous, disinformative media campaign and the ongoing
indoctrination carried out by some state and civil organisations. In order to
avoid such events from happening again it is vital that the precautionary
actions described above are taken without delay.
* In order to understand
and appreciate the needs and concerns of the Protestant community, it would be
very helpful for relevant State officials to recognize representatives of this community and have
meetings with them. So far, the officials have preferred to ignore this
community.
* A possible legal means of
existence for the new churches has been created by allowing the establishment
of religious associations. However, enormous problems remain in getting a
building designated for church use within a city. There are a number of
churches (Karatas (Izmir), Odemis among others) which have applied to their
local municipality for their church buildings to be recognized as places of
worship or for the municipality to designate an alternative place that can be used as a church building
but with no result. It is the community’s desire to worship in places that are
classified by the authorities as legal places of worship and, in order for that
to happen, it is now the state authorities turn to act promptly. It is
important that facilitation of freedom of religion through registration and
other regulations do not have the affect of restricting expressions of this
freedom.
* Similarly, the State is
the guarantor of the right to worship individually or as a group. In the last
year, there have been scores of threats or attacks on congregations and church buildings. The perpetrators have not
been found. At times, the security authorities, acknowledging that there is
such a threat, advised the use of private security companies. However, this is unacceptable when the State
should be guaranteeing freedom of religion and the security of individuals and
property.
* In the long run, Turkey
needs to create a comprehensive law which regulates the individual and
collective expression of freedom of religion or belief for the existing groups
in Turkey, including granting equal status before the State in terms of
immunities, religious education of children, the right to train clergy,
recognition etc.
Legal Committee
The Alliance of Protestant Churches of Turkey
Ester-Konferensie 16-18 November te Jeffreysbaai
'n
Ester-Konferensie vind op genoemde datum by Mentorskraal net buite Jeffreysbaai
plaas. Kyk gerus na meegaande plakkaat wat al die inligting verskaf, asook na die inskrywingsvorm. Inhoud
Konsephandves
van Godsdiensregte
'n Konsep Handves
van Godsdiensregte soos ontvang van prof Pieter Coertzen tesame met 'n begeleidende
brief is op ons webblad beskikbaar.
Persone wat daarop kommentaar wil lewer, kan dit doen tot die einde
van September 2007. E-pos
besonderhede is op begeleidende brief.
Inhoud
Op soek na ‘n skriba of administratiewe beampte?
Ingrid de Lange is ‘n dame
wat eersdaags van Cradock na PE verhuis en graag in ‘n kerkkantoor wil werk as
skriba of administratiewe beampte. Sy het in 1971 matrikuleer. Julle kan Ingrid
se CV sommer by haarself aanvra - skakel haar by 048 – 881 3030 (w), 048 – 881
4408 (h) of 082 877 1095 (sel) Inhoud
Kry jou kerk se klokhorlosie weer op
dreef
Wicus Wait van
PE-Moedergemeente skryf: Roché (072 548 9026) het ons gemeente se kerkhorlosie
weer aan die loop gekry met minimale herstel uitgawe. Hy het my versoek om sy
info deur te gee aan gemeentes wat dalk dieselfde dienste benodig- gemeentes
kan self onderhandel oor 'n prys.
So kan jy weer die ding-dong terugsit in
jou dorp se dag! Inhoud
TYDENS ‘N KONFERENSIE OOR KERKEENHEID
Aan die einde van Augustus
het ‘n Konferensie oor Kerkhereniging te Belhar plaasgevind. Drie persberigte
uit die pen van die altyd betroubare Neels Jackson vertel die soms stamperige
verhaal van dié gesprek (elektroniese weergawe met dank aan ABID): Inhoud
VS laat eenheid in
NGK-familie sloer
Burger, 31.08.2007
BELHAR. – Die spanning in die Vrystaatse NG Kerkfamilie is besig om die soektog
na kerkeenheid in die hele NG Kerkfamilie onder druk te plaas. Dit het gister
duidelik hier geblyk toe prof. Thias Kgatla, moderator van die Verenigende
Gereformeerde Kerk, aan ’n konferensie oor kerkeenheid terugvoer gegee het oor
die verloop van en probleme met die kerkherenigingsproses. Kgatla het aan die
konferensie gesê dat hy vroeër vandeesweek op ’n vergadering van die vier
moderature aangedring het op ’n skietstilstand, aangesien VGK-lidmate en
-gemeentes in die Vrystaat steeds deur dreigbriewe van die NG Kerk in Afrika
(NGKA) geteister word. Dié briewe vorm deel van die voortslepende dispuut oor
eienaarskap van kerkgeboue en pastorieë, nadat die NGKA besluit het om nie deel
van die VGK te word nie en verskeie gemeentes geskeur het.
Kgatla het die NGKA as ’n verkleurmannetjie
en ’n tweegatjakkals bestempel, omdat dié kerk aan die een kant deel wil wees
van gesprekke oor versoening en kerkeenheid, maar andersyds voortgaan om
VGK-gemeentes en -predikante uit kerkgeboue en pastorieë te jaag. Ná ’n
feitesending by hoofsaaklik Vrystaatse gemeentes het Kgatla verskeie voorbeelde
genoem van gebeure wat sy kerk as skreiend beleef. Só is daar gevalle waar die
NGKA op kerkgeboue en pastorieë aandring, maar as hy dit kry, dan verhuur hy
dit aan sekulêre instansies, omdat sy gemeentes – wat uit enkele gesinne
bestaan – dit nie kan benut nie. Aan die ander kant sit VGK-gemeentes met
honderde lidmate dan op straat. Kgatla het van een predikant vertel wat nou
sonder ’n dak oor die kop sit.
Binne die VGK is daar ook sterk bedenkinge
oor die rol wat die Vrystaatse NG Kerk speel. Daar word geredelik van ’n derde
mag gepraat. Kgatla het aangedui dat ’n ondersoek in die aktekantoor getoon het
dat die meeste van die eiendomme wat in dispuut is, in die naam van die NG Kerk
geregistreer is. Kaapse VGK-leraars hier het duidelik ’n sterk gevoel van
solidariteit met hul Vrystaatse kollegas. Ds. Mary-Ann Plaatjies-Van Huffel,
aktuarius van die Kaapse sinode, het byvoorbeeld reguit gevra of die Kaapse
deel van die VGK kan voortgaan met die verenigingsproses soos wat hulle dit nou
doen, terwyl hul Vrystaatse kollegas so ly. Een van die gedagtes wat hier
geopper is, is dat daar in die Kaapse VGK ’n fonds gestig kan word om sy
Vrystaatse kollegas te ondersteun. Kgatla het gesê Vrystaatse VGK-lede dreig om
die NG Kerk in Afrika en die NG Kerk in talle gemeentes na die gelykheidshof te
sleep. Een só ’n saak is reeds in die VGK se guns beslis. Hulle oorweeg ook om
hul sake na grondeisehowe te neem of om politici te betrek en só die hele
kwessie te verpolitiseer. Kgatla het hulle aangeraai om te wag met sulke
drastiese stappe terwyl hy ’n skietstaking probeer beding. As die NGKA hom nie
daaraan steur nie, kan die Vrystaatse VGK besluit om sy planne uit te voer.
Neels Jackson Inhoud
Onenigheid
oor belydenis van Belhar sleep voort
Grondslag ‘moet eers
uitgesorteer word’; Burger, 31.08.2007
BELHAR. Die posisie van
die belydenis van Belhar in die proses van hereniging van die NG Kerkfamilie is
klaarblyklik nog glad nie uitgesorteer nie. Nadat die VGK se leiers verlede
jaar aan die NG Kerk gesê het dat dié kerk die aanvaarding van Belhar nié as
voorwaarde vir kerkeenheid stel nie, is daar wyd geglo dat Belhar nou nie meer
’n struikelblok op die pad na kerkeenheid is nie. Op ’n konferensie oor
kerkeenheid was hier gister egter duidelik kommer in VGK-geledere oor die
manier waarop daar nou oor Belhar gepraat word. Ds. James Buys, vorige
moderator van die VGK se algemene sinode, het klem daarop gelê dat die
belydenisgrondslag van ’n nuwe kerk uitgesorteer moet word voordat daar tot
kerkeenheid oorgegaan word. Dit klop blykbaar ook met ’n regsmening wat deur
die moderature van die vier kerke ingewin is. Buys sê die belydenisgrondslag is
belangrik omdat dit die raamwerk verskaf waarbinne die Skrif in die kerk
vertolk kan word. As daar geen belydenisgrondslag was nie, sou iemand
byvoorbeeld kon sê dat God op grond van sy vertolking van die Bybel as ’n
Vier-eenheid gesien kan word. Dit sou ’n krisis vir die kerk skep as daar nie
’n belydenisskrif is om die vertolkings te kontroleer nie.
Prof. Thias Kgatla, huidige moderator, het
egter daarop gewys dat daar destyds met die aanvaarding van Belhar deur die NG
Sendingkerk en met die latere kerkvereniging om die VGK te vorm, ruimte geskep
is vir mense wat nie dadelik gereed was om Belhar te aanvaar nie. Daar was ’n
wye gevoel by konferensiegangers dat die ooreenkoms tussen die vier kerke oor Belhar
só ’n ruimte wil skep, maar dat dit nie op ’n vrye keuse vir altyd neerkom nie.
Mense wat nie gereed of gewillig is om Belhar te aanvaar nie, moet volgens Buys
hulself uit die Skrif daarvoor verantwoord en hulle moet deur die kerk begelei
word om Belhar te aanvaar. Buys sê in die inligtingstukke wat die NG Kerk aan
sy gemeentes gestuur het, sien hy niks van só ’n proses nie. Dit lyk
daarvolgens of mense bloot kan kies om Belhar nie te aanvaar nie.
Kgatla het sy teleurstelling uitgespreek
omdat die NG Kerk ná sy algemene sinode op sy eie inligtingstukke aan sy
gemeentes gestuur het. Hy het gesê die vier kerke het vroeër ooreengekom om
gesamentlike stukke op te stel en gelykluidende inligting aan hul gemeentes te
versprei. Kgatla sê hy weet nie waarom die NG Kerk dié onderneming verbreek het
nie. Toe hy hulle daaroor gekonfronteer het, het hulle flou verskonings
gehad. Neels Jackson Inhoud
NG Kerk soek
feite oor ‘knoeiery’ in Vrystaat
Beeld, Sep 03 2007
Sit die feite op skrif. Dís
die NG Kerk se reaksie op beweringe uit die Verenigende Gereformeerde Kerk dat
die NGK ’n bydraende rol speel om verhoudinge tussen die VGK en die NG Kerk in
Afrika in die Vrystaat te versuur. Prof. Piet Strauss, moderator van die NGK se
algemene sinode, sê hulle het dié versoek verlede week tydens ’n vergadering
van die moderature van die kerke aan die VGK gerig. Strauss sê die bewerings
oor die Vrystaatse NG Kerk word nou al die afgelope paar jaar gemaak, maar
hulle het nog nie feite daaroor gekry nie. As hulle die feite kry, kan hulle
dit ondersoek, want ’n saak het altyd twee kante. Strauss sê die NGKA vind die
siening beledigend dat dit die NG Kerk is wat agter die NGKA se verset teen die
VGK sit. Dit impliseer dat die NGKA nie hul eie besluite kan neem nie, maar aan
hul neuse rondgelei word.
Die Vrystaatse moderatuur van die NG Kerk
se standpunt die afgelope jare is dat hulle nié kant wil kies tussen die VGK en
die NGKA nie. Hulle wil met albei kerke goeie verhoudinge hê. Oor die belydenis
van Belhar sê Strauss dat dit nie sy persepsie is dat die belydenis van Belhar
volgens die ooreenkoms wat die VGK en die NGK verlede jaar bereik het, ooit
verpligtend gemaak sal word nie. As dit sou gebeur, sal daar geweldige
weerstand daaroor binne die NGK wees, want daar is baie weerstand teen Belhar
in die NGK. Prof. Thias Kgatla, moderator van die VGK, het Donderdag op ’n
konferensie oor kerkeenheid in die Kaap gesê die gedagte is dat daar ruimte
geskep word vir mense wat nie nou die belydenis van Belhar wil aanvaar nie,
maar dat alle nuwe predikante in ’n verenigde kerk Belhar moet aanvaar. njackson@beeld.com Inhoud
Verklaring deur die 4
Moderators van die Kerke van die NG Kerkfamilie
Na afloop van die konferensie
is ‘n mediaverklaring deur die 4 moderators uitgereik. Ons sinode het nie die
verklaring ontvang nie, maar ek haal aan uit Vrydagnuus:
Die 4 Moderators van die kerke NG
Kerkfamilie in Suid-Afrika neem kennis dat sekere sake die huidige proses om
tot groter eenheid in NG Kerkfamilie te kom, strem of kan strem. Ons verwys na:
* Die voortslepende dispute oor kerklike
eiendomme en die vraag of hierdie eiendomme deur die VGKSA of NGKA benut moet
word.
* Bewerings wat in die geledere van die verskillende
kerke ten koste van sekere van die ander kerke in die familie gemaak word.
* ‘n Gebrek aan onderlinge vertroue wat verhoog
word deur skerp opmerkings wat onderling teen mekaar gemaak word.
* Onduidelikheid oor die toekomstige posisie
van die Belydenis van Belhar in ‘n nuwe kerkverband.
As uitgangspunt vir enige verdere optrede
of onderhandelings wil ons die volgende vertrekpunte wat reeds by die onlangse
eenheidskonferensies by Achterbergh aanvaar is, opnuut onderstreep.
* Ons bly moreel verbind tot groter eenheid in
die NG Kerkfamilie waaronder die vorming van een kerkverband.
* Terugslae op hierdie pad nie is nie onverwags
nie, maar struikelblokke wat uit die weg geruim moet word. Juis omdat ons
Christen-gelowiges in ‘n geestelik verdeelde Suider-Afrika is, het ons nou die
geleentheid en verantwoordelikheid om ‘n voorbeeld te gee van hoe sulke
probleme hanteer moet word. Die feit dat al vier kerke vanuit gereformeerde
belydenisse of dieselfde kernoortuigings werk, verhoog die moontlikheid om
hierdie probleme soos Christelike kerke te hanteer.
* Ons erken ook die rykdom van die
verskeidenheid in ons kerke. Hierdie verskeidenheid gaan nie oor sake wat ons
geestelik verdeel nie, maar dinge soos die taal, bedieningstyl en identiteit
van elke kerk. Ons is oortuig dat enige vorm van eenheid in die familie hierdie
verskeidenheid in die eenheid van die kerk moet akkommodeer.
Tydens ‘n vergadering oor moontlike
struikelblokke in die huidige proses, het ons met dank van die volgende kennis
geneem:
* Die bewerings dat die NGKA “’n
tweegatjakkals” is, is nie die amptelike houding van die VGKSA nie, maar ‘n
opmerking wat vanaf die vloer tydens ‘n VGKSA-konferensie gemaak is.
* Die VGKSA beskou die aanvaarding van Belhar
steeds nie as ‘n voorwaarde vir kerkeenheid nie. Nie aan die begin nie en ook
nie later nie. Omdat Belhar ‘n belangrike rol in die VGKSA speel, is dit egter
verstaanbaar dat die aanvaarding daarvan deur lede van die NG Kerkfamilie
vreugde in die VGKSA sal veroorsaak.
* Bewerings dat die NG Kerk in die Vrystaat ‘n
derde mag agter die weerstand van die NGKA teen die prysgawe van eiendomme aan
die VGKSA is, sal in ‘n memorandum * van
die VGKSA in antwoord op ‘n memorandum van die NGKA oor struikelblokke,
aangespreek word.
Onderlinge verskille, dit bly
ons aanvaarde benadering, moet direk met mekaar bespreek word en nie deur ander
instansies soos die media nie. Die sensitiewe aard van die eenheidsproses maak
direkte gesprek noodsaaklik.
Prof Thias Kgatla (VGKSA)
Prof Piet Strauss (NG Kerk)
Ds Johannes Ramolahlehi
(NGKA)
Rev Bennett Shunmugam (RCA)
5 September 2007 Inhoud
Neels Jackson
Die moderatuur van die algemene sinode van die Verenigende Gereformeerde Kerk
(VGK) het dié kerk gedistansieer van ’n verklaring van die vier moderators in
die NG Kerkfamilie, onder wie die VGK se eie moderator, oor die belydenis van
Belhar.
Verlede week het die moderators van die vier kerke, onder wie prof. Thias
Kgatla, moderator van die VGK, in ’n gesamentlike verklaring gesê die VGK
“beskou die aanvaarding van Belhar steeds nie as ’n voorwaarde vir kerkeenheid
nie – nie aan die begin nie en ook nie later nie”.
Hieroor het prof. Piet Strauss, moderator van die NG Kerk, gesê soos hy dit
verstaan, beteken die ooreenkoms tussen die kerke nié dat daar van alle nuwe
predikante in ’n herenigde kerk verwag sal word om Belhar te onderteken nie.
As dit wel die geval moes wees, beteken dit moeilikheid, het hy gesê. Dit sal
nie in die NG Kerk aanvaar word nie.
Kgatla was huiwerig om kommentaar te lewer, maar het gesê daar moet verder
hieroor gepraat word.
Nou het die VGK se algemene sinodale moderatuur, onder wie Kgatla en dr. Allan
Boesak, in hul eie verklaring gesê die verklaring van die vier moderators
verteenwoordig nie die VGK se standpunt oor Belhar nie.
Vir die VGK is Belhar “onvervangbaar en onvervreembaar”.
Hul standpunt, wat volgens die VGK-moderatuur ook vervat is in die dokumente
oor kerkeenheid waaroor die vier kerke konsensus bereik het, behels:
* Dat die belydenis van Belhar in ’n
nuwe kerkverband as vierde belydenisskrif ingesluit word;
* Dat die ondertekening en aanvaarding
daarvan deur elke enkele predikant van die ander drie kerke nie as voorwaarde
vir kerkeenheid sal geld nie;
* Dat leraars en lidmate wat daartoe
bereid is, dit wel sal kan aanvaar en onderteken;
* Dat die groei na ’n volle aanvaarding
van Belhar as integrale deel van die prosesse van ’n nuwe kerkverband gesien
word; en
* Dat die gesprek oor Belhar tussen al
vier kerke voortgesit word met die oog daarop om ooreenkoms oor die Bybelse
inhoud van Belhar te bereik.
Die VGK se moderatuur sê hulle kan die proses van die volle aanvaarding van
Belhar nie as ’n voortdurende oop en onbesliste proses sien nie.
njackson@beeld.com Inhoud
Bybel-Media – jou bedieningsvennoot
HBI se kursusse gaan van
krag tot krag
Bybel-Media se
korrespondensiekursus wat deur die Hugenote Bybel-Instituut (HBI)
aangebied word, gaan van krag tot krag. 'n Rekordgetal van méér as 250 studente
volg op die oomblik een van HBI se kursusse.
83 studente het vir die gewilde kursus oor traumaberading, wat die bekende
skryfster Maretha Maartens opgestel het, ingeskryf.
Daar is nog vier ander kursusse: Jeugbediening, Sending, Bybelkunde en Etiek.
Met die oog op 2008 gaan die Etiekkursus heeltemal hersien word. Skakel
+2721 864 8283 vir meer inligting óf om vir een van die kursusse in te
skryf.
Die kursusse is per korrespondensie en op 'n na-matriekvlak. Al die kursusse is
by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening aan die Universiteit van Pretoria
geakkrediteer.
Christian Handbook
2007-2008 Nou Te Koop!
Die South African Christian
Handbook is onontbeerlik vir almal wat ernstig is oor die verskillende kerke se
werk in Suid-Afrika! Hierdie boek bied ‘n formidabele lys van inhoud en kan
tereg die "kerklike geelbladsye" van Suid-Afrikaanse kerke genoem
word. Behalwe vir inligting oor die hoofkantore van die onderskeie kerke, is
daar ook inligting oor kampterreine, huise vir vigswesies, beradingskantore en
nog talle meer.. Die boek bevat ook verwerkte statistiese inligting oor
byvoorbeeld mense sonder godsdiens; armoede en vigs en die kerk; waardesisteme;
kerk en sensus.
Prys per eenheid (boek):
R154.50 (14 % BTW ingesluit)
Inligting, Navrae en
Diensverskaffing:
Skakel +27 21
8736971
* Of stuur jou
bestelling per e-pos na: bestel@bmedia.co.za
* Of koop direk met jou
kredietkaart op die webtuiste: www.bybelmedia.co.za Inhoud
Ferdinand
Deist was ‘n geliefde prediker, spreker en leermeester en sy boeke is in die
1980’s en in die 1990’s uitgegee. Dit is egter só gewild dat Lux Verbi-BM
besluit het om dit nuut te verwerk en weer uit te gee. Hier word drie daarvan
bekend gestel.
Oorstaptyd
Gedagtes oor geloof in krisistye
Ferdinand Deist
Krisisse in ‘n mens se lewe kan óf rampe óf geleenthede wees. Geloof in die
nabyheid van God kan die verskil beteken tussen dié twee moontlikhede. ‘n Mens
kan jou die lewe voorstel as ‘n treinreis tussen twee stede sonder ‘n direkte
verbinding. Maar daar is ‘n belangrike verskil tussen ‘n gewone treinreis en
ons lewenstreinreis omdat jy in die lewe nie weet waar en wanneer jy na watter
nuwe trein moet oorklim nie. Jy het ook geen sê oor jou aankoms- en vertrektye
nie. Die “oorstapstasies” tydens jou lewensreis is meestal lewenskrisisse wat
jou onverwags, en dikwels teen jou sin, dwing om ‘n ander koers in te slaan.
Soos eensaamheid, teleurstelling, bekommernis, lyding, dood, ouderdom,
kleingeloof en vele meer.
Ferdinand Deist se aangrypende boek oor geloof in krisistye kan selfs die
mees siniese leser oortuig dat geloof in God die sinvolheid van die lewensreis
waarborg.
Prys: R89,95 Bestellings:
0860 231 231
Nagdissipels
Oor kwelvrae van die geloof
Ferdinand Deist
Daar sal altyd ‘n paar vrae wees wat denkende Christene kwel. In die boek
word dié vrae van naderby bekyk om sodoende lesers ‘n nuwe perspektief te gee
op sekere van die besware wat teen die Christelike geloof geopper word. Daar is
mense wat maklik, kinderlik, kan glo en dan is daar dié (en hul word al meer)
wat “moeilik” glo en voortdurend geteister word deur “hoekom”-vrae. Dink maar
aan Job, Jeremia, Tomas of Nikodemus – die vooraanstaande rabbi wat gefassineer
is deur Jesus, wat dalk sy dissipel sou wou word, maar te onseker was oor Jesus
se aansprake om Hom openlik te volg. Toe gaan besoek hy Jesus in die nag. Dit
is vir hierdie soort “nagdissipels” dat Deist hierdie boek geskryf het: mense
wat graag wil glo, maar sukkel om sonder vrae te glo.
Prys: R69,95 Bestellings:
0860 231 231
Nalopers ... of navolgers?
God se genade is gratis, maar nie goedkoop nie
Ferdinand Deist
Dit is maklik om die boodskap van die Bybel te verander in ‘n stukkie
goedkoop hemelpastei en dis maklik om die evangelie wat so duur gekos het, ‘n
betekenislose trooswoordjie te maak.
Die boodskap van die Bybel is juis dat die navolging van Christus moeilik
is. Ware uitlewing van jou geloof is harde werk. Dis dóén in plaas van net sê.
Die navolging van Christus eis veel, veel meer as om ‘n naloper van
Christus te wees, of om net saam te stem met die Christelike beginsels – jy sal
jou moue moet oprol en werklik volg!
Prys: R79.95 Bestellings:
0860 231 231
Een dag op ‘n slag: Bemoedigings
vir mense met kanker
Randy
Becton
Wanneer
‘n dokter die “k”-woord en jou naam in een sin gebruik, beland jy onverwags en
teen jou wil in ‘n onbekende en oorweldigende w�reld. As jy nie self in
die mediese veld is nie, moet jy baie gou ‘n hele nuwe taal aanleer. Jy moet
toekyk hoe jou geliefdes reageer op die nuus terwyl jy niks aan hul hartseer en
kommer kan doen nie. Jy kom tot die besef dat jy nie so in beheer van jou lewe
is soos wat jy gedink het nie. Jy voel weerloos en bang.
Vind
vertroosting in 33 dagstukkies en Skrifgedeeltes van iemand wat self kanker
oorwin het.
Navrae: Conette Hamman conette@luxverbi-bm.co.za Inhoud
Pieter van Niekerk; in
Rapport, 01/09/2007, skryf die volgende:
Pasop vir ’n manlike
Godsbeeld. Waak teen die koppeling van geloof in God en geweld, waarsku die
Anglikaanse Kerk in Engeland sy lidmate onlangs. Volgens Kerkbode het die kerk
dit daaroor dat ’n manlike Godsbeeld mans kan aanstig tot gesinsgeweld. Geestelike
leiers in die kerk het nuwe riglyne ontvang om te voorkom dat mans hul vrouens
slaan. Te veel mense beskou die Bybelse God en die Christelike tradisie as
potensieel onderdrukkend, meen die kerk. Veral die gewelddadige aksies wat in
die Ou Testament aan God toegedig word, het volgens die waarskuwing versigtige
uitleg nodig.... Vir geloofsgemeenskappe – alle geloofsgemeenskappe – beteken
dit selfondersoek, veral omdat die meeste Suid-Afrikaanse burgers hul geloof in
’n God erken of bely. Geloof veronderstel ook die bevordering van moraliteit.
Die algemene sinode van die NG Kerk het hom daartoe verbind om alles in sy
vermoë te doen om by te dra tot die genesing van ’n misdaadgeteisterde
samelewing. Sy lidmate word daaraan herinner dat niemand ’n vinger na ander kan
wys as sy/haar persoonlike integriteit en optrede nie onbesproke is nie. Reg
genoeg, maar dié verslag gee nie aandag aan die moontlike invloed van
geloofsbeskouings op geweld en misdaad nie. Christen-ekstremiste, Joodse
reaksionêre en Islamitiese fundamentaliste word deur hul geskrifte tot geweld
geïnspireer. Watter invloed het gewone mense se geloof (in my konteks die
Christelike geloof) op hul daaglikse handel en wandel? ...
Die meeste stories in die
Bybel wat God aan geweld koppel, moet deur die kulturele bril van die
Bybelskrywers gesien word. Die mense van die antieke tye het geglo God of die
gode het ’n rol in alle gebeure. Die Ou Testament het bestaan uit ’n rykdom van
aanhalings uit ou bronne soos die Boek van die oorloë van die Here, soos Numeri
20:14-15 aandui. Wanneer die skrywers nie die ou bronne gebruik nie, lyk hul
prentjie van God anders. Dan lees ons van God se deernis en ontferming soos
“God sorg dat die weduwees en weeskinders regverdig behandel word en Hy het
mense van ander volke ook lief en gee vir hulle kos en klere” (Deuteronium
10:18). Klaus Nürnberger skryf oor die geweld en misdadige tendense in die
Bybel “ons kan en mag dié uitsprake nie verdedig net omdat dit in die Bybel
staan nie. As ons God se liefde wil uitleef, kan ons vandag beslis nie meer
sulke taal gebruik en sulke sienings handhaaf nie.
“As ons sulke beskouings in
die Bybel nie aan kritiek mag onderwerp nie, kan ons ook nie die vrymoedigheid
hê om dit in die hedendaagse lewe te doen nie.” God word telkemale in die Bybel
met ’n moederhart en vroulike eienskappe uitgebeeld, soos die Gees wat
“geboorte gee” en God wat “wonde genees”, “versorg” en “troos”. Ek dink
ons moet meer en meer God se moederhart ontdek, integreer en illustreer. Dit is
belangrik dat mense God se sagte, strelende hande van liefde, deernis en
genesing beleef en dat ons dit uitleef. Christene – en ander geloofsgroepe –
kan ’n verskil in ons misdaadgeteisterde land maak deur oor God se moederhart
te getuig.
Dr. Pieter van Niekerk is ’n
predikant in die VGK, George.
Skriba Sinodale Kommissie