OosKaap
eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap
van die heiliges
Jaargang 5 - Nommer 5 - 15 Maart
2007 - www.ngkok.co.za
Die storie van Antonius, eerste
Afrikaan oor wie ‘n biografie geskryf is
Kerkhereniging: Baie geslaagde konferensie te Cradock, 2-3 Maart 2007
Terugvoer: Bosberade met
leraars in ringsverband
Leraars van Jeffreysbaai besoek
verskeie gemeentes
Netwerkbestuurder
vir Vroue-bediening soek kontakbesonderhede
Grondhervorming in
Mpumalanga het impak op Sinode van Oos-Transvaal
Bybel-Media: Nog Seisoen-van-Luister-produkte verskyn
Oulike gratis agtergronde vir jou media
Empiriese navorsing oor die funksionaliteit van psalmsang in die NG Kerk in S.A. en Namibië
Ds Zachie le
Roux beskikbaar vir algemene predikantswerk
CFN: Opleiding as Fasiliteerder of as Gevorderde Fasiliteerder
[Besoek gerus www.ngkok.co.za en klik
onder “Kortpad” op die kennisgewingbord-skakel vir
die jongste inligting oor gebeure in Oos-Kaapland.]
Die
storie van Antonius, eerste Afrikaan oor wie ‘n biografie geskryf is
Verplaas jouself na die middel van die derde eeu n.C. na
Egipte. Die bekende kerkvader Atanasius is die biskop
van Aleksandrië, die groot kosmopolitaanse sentrum aan die Middelandse
See, op die kus van Egipte. Die Grieks-Hellenistiese
kultuur is in hoogbloei en die stad is ‘n wêreldbekende sentrum van
geleerdheid. Hier gebeur dit nog van tyd tot tyd dat mense vervolg word vir
hulle geloof in Jesus Christus, die Here. Verder is dit ‘n moderne stad met
Griekse as voertaal.
Beweeg nou
suidwaarts na een van die dorpies in die Nyldelta. Hier leef die eerste
Afrikaan wie die moeite werd geag is dat ‘n biografie oor sy lewe geskryf is.
Sy naam is Antonius. Sy dorp is Christelik, en verteenwoordig ‘n mondelingse
kultuur. Antonius hoor die Woord weekliks soos dit voorgelees word in
eredienste. Hy hoor hoedat Jesus se volgelinge uitdaag om hulle kruis op te neem,
dit wat hulle het ter verkoop en die opbrengs aan die armes te gee. Hy hoor ‘n
boodskap van radikale Christenskap.
Antonius besluit
om die Here op ‘n radikale manier te volg. Hy verkoop al wat hy het, deel die
opbrengs met armes. Sonder ‘n sent op sy naam begin hy mense besoek wat buite
die dorpies van die Nyldelta woon en ‘n lewe van gebed lei. Hierna wend hy hom
tot die woestyn weaar Hy bid en lofsange sing. Die
woestyn is vir hom nie ontvlugting van die wêreld nie. Die punt is dat die
woestyn die woonplek van demone is. Demone het nie liggame nie, sê Antonius,
maar gebruik ons liggame om hul bose werk te doen. In die woestyn kondig hy
deur lofsange en gebed Christus se oorwinning oor die bose aan.
Antonius word op
‘n keer bebloed en bewusteloos in ‘n begraafplaas gekry. ‘n Vriend neem hom na
‘n kerk waar mede-gelowiges oor hom waak en vir hom
bid. Laatnag herwin Antonius sy bewussyn en dring aan om dadelik teruggeneem te
word na die begraafplaas. Hy vertel dat hy die duiwel hier aangetref het, en
dat dié hom probeer oorwin het - later selfs met geweld. Vandaar sy wonde. Hy
moet die oorwinning in Christus se naam gaan voltooi.
Die gevolg is dat
die woestyn ‘n stad word. Van heinde en verre kom besoek mense Antonius en voer
geestelike gesprek met hom. In sy plattelandse eenvoud begelei hy talle ander
gelowiges op ‘n pad van oorwinning. Antonius se wêreldbeeld en sy stryd vir
Christus het ‘n veel groter omvang as die wêreldbeeld van die moderne,
wetenskaplike opvatting. Sy Christus is radikaal. Sy Christus verlos van bose
magte wat die lewe verwoes. Antonius is ‘n gewone gelowige wat absoluut toegewy
aan Jesus Christus is.
Sy biograaf, Atanasius, beskryf die gevolge van Antonius se bediening en
oorwinning oor die bose. Verskeie mense in meer dorpe is van hul siektes
genees. Diepgewortelde stryd en twis in van die dorpe is beëindig.
Antonius het uit
die gewone, alledaags Christelikheid van sy dorpie tot ‘n radikale vorm van Christenskap tot bekering gekom. Hy is nie ‘n bekeerling
uit die heidendom nie, maar uit die gewone Christelikheid van die gemeenskap.
Hiermee begin Antonius ‘n radikale vorm van Christenskap
wat op soveel plekke en tye so ‘n beslissende invloed op die Christelike kerk
sou hê.
Antonius se
verhaal is een van vele wat prof Andrew Walls
vandeesweek tydens sy absoluut merkwaardige lesingsreeks
by Buvton se eerste week van Voortgesette Bedieningsopleiding (12-15 Maart 2007) vertel het. Walls het ‘n
merkwaardige verhaal van die ontplooiing van die Christelike geloof deur die
eeue vertel. Bo
Kerkhereniging:
Baie geslaagde konferensie te Cradock, 2-3 Maart 2007
Meer as sestig verteenwoordigers van ringskommissies van die
NG Kerkfamilie het op 2 en 3 Maart by die NG Kerk Cradock-Oos
bymekaar gekom om kerkhereniging in die Oos-Kaap ‘n
tree verder te neem. Die NG Kerk, VGK en RCA was amptelik verteenwoordig.
Hoewel die NGKA uitgenooi is, en aangedui het dat een of twee verteenwoordigers
die byeenkoms sou bywoon, het niemand opgedaag nie. Baie goeie
verteenwoordiging is van die ander drie kerke verkry. Aangesien die RCA slegs
een gemeente in die Oos-Kaap het, skakel hulle op gemeentelike vlak in.
Afgevaardigdes het
in breë geografiese eenhede in kleingroepe mekaar
leer ken en saam gesels oor die toekoms van die kerk. Dit was opvallend hoe
vriendskaplik, bemoedigend en eensgesind die gesprekke verloop het. Heelwat
predikante van die NG Kerk het na afloop van die byeenkoms aangedui dat kerkhereniging nou vir hulle na ‘n baie meer praktiese
werkbare saak lyk. Dr allan Boesak
het ook ‘n baie goeie indruk op NG predikante gemaak. Meer as een, veral die
lede van sy kleingroepie, het hom as sag, toeganklik
en getemperd beskryf.
Die twee
moderators, ds Hansie Schutte
en dr Allan Boesak, het Saterdag ‘n oorsig oor die
kerkherenigingsproses gegee. Dit is aangevul deur ‘n bydrae van ds Wikus van
der Walt, leraar van die RCA Calvary-gemeente en ook
aktuarius van die RCA.
Uit die terugvoer
blyk ‘n oorweldigende gewilligheid, behoefte en vasberadenheid om aan kerkeenheid gestalte te gee op die vlak van gemeentes, en
wel op inisiatief en onder toesig van plaaslike kerkrade. Daar is ‘n bewussyn
dat ons dit nie sonder mekaar in ons verskillende kontekste kan maak nie, veral
nie op die platteland nie. Die kerke het mekaar nodig. Ons het ook nodig om
mekaar beter te leer ken - daarom is meer byeenkomste van hierdie soort -
miskien in kleiner eenhede - nodig.
Die konsep-notule van die byeenkoms, waarin die toesprake,
terugvoer van kleingroepe en ander bydraes verwoord
word, is op die web beskikbaar. Dit sluit ook ‘n opsomming van dr Allan Boesak se toespraak in.
Dis Hansie Schutte het die volledige
teks van sy voordrag beskikbaar gestel. Dit is op die web beskikbaar. Bo
Terugvoer: Bosberade met leraars in ringsverband
Die lede van die moderatuur het reeds by die skryf hiervan
twee bosberade of daglange
konferensies met leraars uit ses ringe afgehandel. Die byeenkomste het geloofsonderskeiding in ringe met die oog op toekomstige
ringsprojekte ten doel. Verder word daar ook gesels oor geloofsonderskeiding
tydens kerklike vergaderings en terugvoer gegee oor die kerkherenigingsproses.
Oor die algemeen
was die energievlakke tydens die Port Elizabeth-byeenkoms
nie altyd deur die hele dag ewe hoog nie, hoewel wonderlike terugvoer hier oor
die verloop van die ringsprojekte ontvang is. Die byeenkoms op Uitenhage was
veel meer energiek, met dieselfde positiewe vlak van terugvoer oor die
ringsprojekte.
Dit blyk dat
ringsprojekte daadwerklik besig is om gemeentes te transformeer. Die lewering
van praktiese diens aan mense in nood, om maar een voorbeeld te noem, het ‘n
geweldige impak op lidmate gemaak. Bo
Leraars
van Jeffreysbaai besoek verskeie gemeentes
In die ware tradisie van pioniers en trekkers het die vier gemeenteleraars van Jeffreysbaai verskeie ander gemeentes
gaan besoek om meer te leer oor verskillende gestaltes van kerk-wees
in die NG Kerk. Willie de Koker, Evert de Kock, Komatie van Niekerk en
David Higgs vertel in meegaande bydrae dqat dit glad nie so sleg gaan met die NG Kerk nie. Op ‘n
onderhoudende manier vertel hulle wat hulle geleer en beleef het. Klik
gerus hier vir die volledige verslag.
Bo
Netwerkbestuurder vir Vroue-bediening soek
kontakbesonderhede
Christine Higgs, die sinode se netwerkbestuurder vir vroue-bediening,
versoek gemeentes wat oor ‘n vroue-bediening beskik
om asseblief hul kontakbesonderhede aan haar te stuur. Meld die naam van die
kontakpersoon, asook haar telefoonnomers, posadres en
e-pos. Christine wil dit graag gebruik om direk met gemeentes te kommunikeer
oor sake van belang.
Sy wil ook graag
weet watter interessante dinge julle vir die jaar beplan. Christine se
kontakbesonderhede is:
E-pos: dhiggs@telkomsa.net
Tel: 042 296-0531 (na-ure)
Sel: 082 449 4780
Faks: 042 293-2112 Bo
Hansie Schutte vertel die afgelope week hoe geseënd
die onlangse byeenkoms van moderators by die Wildernis was. In hierdie bydrae
vertel Schalk Pienaar, een van die moderators - van Namibië, die storie:
Die Algemene Sinode van
die NG Kerk in Suider Afrika, word saamgestel uit die tien streeksinodes van
die kerk. Dit sluit die Namibiese Sinode in. In elke streek dien ’n Moderator,
of as jy wil sommer ’n voorsitter van die streeksinode. Vir die afgelope
amper 15 jaar word daar ’n jaarlikse moderatorskonferensie
gehou met die doel om kerkleiers se batterye te laai deur ’n retraite, saambid
en saamgesels oor die uitdagings wat ons elkeen in ons eie sinode moet
hanteer. Die grootste deel van die koste word oor al die jare
geborg deur Anton le Roux, ’n besigheidsman van George met ’n passie vir
die werk van die Here.
Vanjaar is die
konferensie weer in Wildernis in die Suid-Kaap gehou. Soos vir die
afgelope paar jaar, het ek ons sinode daar verteenwoordig. Maar vanjaar was dit
so bietjie anders. Die was nie net ons nie. Ook die Moderators van die
Verenigende Gereformeerde Kerk, die NG Kerk in Afrika sowel as die Reformed Church in Africa was saam met ons daar. Soos ander jare, was
daar geen formele vergadering met agendas en notules nie, maar het ons elkeen
vertel wat in ons sinodes tans gebeur, wat goed gaan en waar ons swaarkry.
Ons het uit verskeie
gedeeltes met mekaar saam Bybelstudie gehou, saam gebid, saam gekuier en sommer
saam gaan stap.
As ’n samevatting
Woensdag het ons vir mekaar gesê ons het die volgende by mekaar gehoor wat ons
ook help met ons gesprek oor kerkeenheid;
Ons het mekaar nodig want nie een kerk kan op
sy eie wees nie. Geen kerk kan die koninkryk van God help kom deur alleen
te probeer werk nie. Ons het elkeen swakpunte
waarmee die ander kan help. Bv. ‘n Swakpunt van ons
NG Kerk is dat ons in een kultuurgroep vasgevang is en dat dit vir ons moeilik
is om oor etniese grense heen mense te bereik. By van die ander kerke het ons
weer gehoor hulle het veral ’n tekort aan leraars, gemeentes kwyn
omdat by party net 60% van gemeentes leraars het.
Geen kerk is ’n
bedreiging vir die ander nie, want elkeen het ’n posisie en identiteit wat nuttig
kan wees in die geheel, en wat so behou moet word.
Ons besef dat ons ons in die verlede nie altyd op persoonlike vlak met mekaar
moeite gemaak het nie, daarom mekaar net op vergaderings ontmoet en geken het.
Die volgende getalle van ons 4 kerke (bereken uit gegewens wat die
moderators beskikbaar gestel het) wys hoe ’n klein deeltjie van die Christene
in Suidelike Afrika ons maar uitmaak, selfs al sou ons een kerk wees:
VGK ±900,000 lidmate, 753 gemeentes, ±70% van
gemeentes het leraars
NGKA ±80,000 lidmate,
150 gemeentes, ±60% van gemeentes het leraars
RCA ±2,000 lidmate, 12 gemeentes, 7 leraars
NGK ±1,16 miljoen lidmate, 1158 gemeentes,
1700 leraars
(Schalk Pienaar, oorgeneem uit Feldmuis,
Nuusblad van die Namibiese Sinode) Bo
Grondhervorming in
Mpumalanga het impak op Sinode van Oos-Transvaal
U verdryf my van my grond
af; Beeld, 05.03.2007
Kyk ’n mens na ’n kaart van
Mpumalanga waarop die dele aangedui word wat deur grondeise geraak word, is
daar min wat van die provinsie oorbly. Hele plattelandse gemeenskappe word
ingrypend daardeur geraak en die kerk wat hulle bedien, uiteraard ook.
*Ds. Henry van der Schyff,
uitvoerende amptenaar van die NG Kerk se Oos-Transvaalse
sinode, sê een vlak waarop die kerk geraak word, is deurdat lidmate se
sekerhede en uiteindelik selfs hul geloof aangetas word. Uit gesprekke met
dominees en uit ’n sinodale verslag oor die situasie kom ’n prentjie na vore
van sommige lidmate – nie almal nie – wat soos die Bybelse Job in ’n worsteling
met God gedompel word. Mense wat geslagte lank op een plaas boer, wie se hele
lewe in die landbou gewortel is, voel hulle word van dit alles ontneem. Ds. Hancke van Blerk, predikant van
Piet Retief, verwys na die sielkundige Maslow se
teorie van menslike behoeftes. Op die heel basiese vlakke – die behoeftes aan
kos en klere, aan die sekuriteit van woonplek – dáár word mense getref, sê Van Blerk. Dié ondermyning van sekerhede gebeur op verskillende
maniere. Van Blerk vertel van ’n boer wat sy grond
aangebied het vir grondhervorming, maar dat die proses so gesloer het dat die
eiendom later heeltemal deur vandale geplunder is, sonder dat die saak
afgehandel is. Dié tema, van boere wat met die proses wil saamwerk, maar
gefrustreer word deur burokratiese onbeholpenheid, duik telkens op. Ds. Erik
Botha van Badplaas vertel van boere wat ingewillig het om afstand te doen van
hul grond en in afwagting van die proses opgehou boer het. In die twee, drie
jaar se wag vir die afhandeling van die proses het hulle geen inkomste gehad
nie en is hulle in skuld gedompel. Dan is daar ook faktore buite die wetlike grondhervormingsproses, soos boere wat vermoor word, mense
wat gedreig word, selfs twee maal met ’n lem teen die keel in die geval van een
lidmaat. Dis in sulke omstandighede, waar party lidmate voel hulle word deur
God verlaat, dat die kerk hulle wil help om in die geloof aan Hom te bly
vashou.
Aan die hand van Bybelboeke
soos Job en die Psalms, wil die kerk lidmate help om deur die krisisse te kom,
om in geloof met God te worstel totdat hulle berusting in Hom vind.
*’n Tweede vlak waarop die kerk geraak
word, is in die onderlinge verhoudings tussen lidmate. Botha sê naas die
spanning waaraan elke boer deur die proses onderwerp word, gebeur dit ook dat
spanning tussen mense ontstaan omdat hulle die proses verskillend hanteer.
Party mense wil die grondeise op hul grond teenstaan terwyl ander met die grondeisekommissaris wil saamwerk en hul grond van die hand
wil sit. Op dié manier kan daar twee kampe in die gemeente ontstaan. Ds.
*’n Derde vraag voor die kerk is hoe die
kerk sy lidmate kan help om te midde van die gespanne situasies waarin hulle
hul bevind, ’n Christelike getuienis uit te leef. Predikant ná predikant vertel
hoe hulle lidmate probeer help om ’n positiewe gesindheid te probeer behou – en
hoe moeilik dit gemaak word deur die behandeling wat hulle soms van grondeisekantore kry. Van die amptenare, sê Van der Schyff, behandel die boere asof hulle misdadigers is. Teen
dié agtergrond word daar van kerkleiers verwag om helder en duidelik met die
regering te praat oor lidmate se klagtes dat hulle in die proses verontreg
word. Luidens die Oos-Transvaalse sinode se
besprekingsdokument moet die kerk help toesien dat reg en geregtigheid vir
almal geskied. Daarby moet die kerk ook help om verkeerde persepsies en valse
stereotipes by sy eie lidmate, in die gemeenskap én by die regering reg te
stel. Terwyl die kerk op dié manier deur sy bediening betrokke is by die grondhervormingsproses en die gevolge daarvan, kom die
bediening self ook op die spel. Van der Schyff sê
sowat 60 van die 86 gemeentes van die NG Kerk se Oos-Transvaalse
sinode lê in die platteland en word deur die proses geraak. Baie van hulle is
klein gemeentes en almal saam het miskien 25% van die sinode se lidmate, maar
die bediening in dié gemeentes kan drasties geraak word. Dit gebeur omdat
grondhervorming onder meer tot gevolg het dat lidmate trek. Die gemeente
Hazyview het byvoorbeeld twee jaar gelede nog 360 belydende lidmate gehad, sê
Van der Schyff. Nou is daar 240 oor. By Badplaas, sê
Botha, was daar 136 belydende lidmate. Dit het afgekom tot 105 met die
vooruitsig dat dit tot 82 kan daal. Dié gemeente kan klaar nie meer ’n volle predikantspos dra nie. Só ’n verlies van ’n derde van ’n
gemeente se lidmate is volgens Van der Schyff “byna
fataal”.
Dan kom opsies op die tafel soos dat twee
of drie gemeentes in kombinasie gaan om saam een predikant te hê of dat ’n
dominee ander werk ook moet begin doen om die pot aan die kook te hou. Van der Schyff sê in Limpopo en Mpumalanga is 88% van bewerkbare
landbougrond onder grondeise. As dié grondeise realiseer, gaan die bediening op
die platteland ingrypend verander. Gemeentes soos Komatipoort, Malelane,
Letsitele, Gravelotte en Hazyview sal ’n skadu wees van wat hulle nou is. Nie
alle gemeentes loop egter so erg deur nie. Dorey is
nie te bekommerd oor sy gemeente se toekoms nie. Min mense wat hul plase
verlaat, beweeg weg uit die omgewing. Hulle vind ander werk en bly in die
gemeente. Ds. Japie du Plessis, voorsitter van die plattelandse streek van die Wes-Transvaalse sinode, sê dat die vier plattelandse ringe
van die verre Wes-Transvaal ook geraak word– party
erger as ander. Hy noem sommer sonder om te dink tien gemeentes op wat sal
sukkel om te oorleef as die grondeise deurgaan. Die sinode van Oos-Transvaal kom reeds 30 van sy plattelandse gemeentes
tegemoet wat hul sinodale bydraes betref. Dit beteken die helfte van die sinode
se plattelandse gemeentes se voortbestaan is al in gevaar.
Dit is nie net die NG Kerk wat so geraak
word nie. Die gemeentes van die Verenigende Gereformeerde Kerk loop ook deur
omdat baie van hul lidmate plaaswerkers is wat in die proses sonder heenkome
gelaat word. Botha vertel van een plaas waar 300 heeltydse werkers hul werk só
verloor het. In seisoentyd het tot 700 werkers ’n
inkomste verdien op grond wat nou onbewerk lê. Daarom dat die NG Kerk en die
VGK se leiers die regering saam wil nader. Hartseer verhale wat illustreer hoe
’n gemeenskap in duie stort, is daar baie. Só word daar vertel van ’n spogplaas
naby Hazyview waar daar ook ’n gastehuis bedryf is. Nadat dit van hande
verwissel het, het dit ’n bordeel geword. Vir lidmate is dit swaar, sê
Van der Schyff.
Luidens die sinodale
besprekingsdokument is die gevoel van verlies as ’n boer se grond onteien word,
vergelykbaar met dié van stedelinge wat hul werk as gevolg van regstellende
aksie verloor. “Dit dompel mense in ’n bestaanskrisis.
Vir sommige is dit meer traumaties as vir ander en elke gemeenskap reageer op
sy eie manier daarop.”
Dis in dié trauma dat die kerk, sover hy
kan, saam met sy lidmate wil stap. Bo
Bybel-Media: Nog
Seisoen-van-Luister-produkte verskyn
Hans
Steyn skryf:
1. Vergaderings:…nuwe publikasie beskikbaar einde Maart!
Hierdie boek help leiers
om beter te luister. Dit lê die fondament vir die onafwendbare
kreatiewe ontploffing
wanneer leiers saam luister en hulle roeping hoor.
Leiers wat na hierdie boek luister gaan
hulle gemeentes en kerke help om te groei van reëlgebonde
vergaderings na luisterende vergaderings. Hulle gaan ontdek dat die sleur om ’n
agenda deur te werk, verander in die opwinding van ’n byeenkoms voor God se
aangesig.
Dit is ’n
nuwe wêreld met die belofte van ’n skuif van demokrasie na geloofs-onderskeiding
en van besluite na geloofsoortuigings.
Teen slegs R44-95 kan
niemand bekostig om sonder dié besondere hulpmiddel te wees nie.
2. In April verskyn “God praat – leef luisterryk, vir stiltetyd”
Die bekende geestelike begeleier Willem Nicol gebruik
die luistersiklus om gelowiges voor God tot rus te
laat kom. Hy begelei lesers stapsgewys om die boodskap van die Evangelie van
Johannes nuut te hoor en dan gehoorsaam te leef.
Die
N G Kerk glo dat sy ‘n besondere roeping in Afrika het. So sê ons roepingsverklaring. Vanselfsprekend kan ons daardie roeping
net vervul in vennootskap met ander kerke. Veral die kerke in die breër N G
Kerkfamilie is daarvoor van kardinale belang. En verder is dit ‘n uitgemaakte
saak dat teologiese opleiding ‘n uiters strategiese middel tot daardie doel is.
As die kerke in Afrika gesamentlik hulle roeping wil uitleef, moet ons seker
maak dat ons oral op hierdie vasteland mense oplei om te verstaan wat God
vandag van ons in die Afrikakonteks vra. Die
dringende behoefte is dus: relevante teologiese opleiding op ‘n hoë standaard.
Vir Bybel-Media
is dit ‘n wonderlike voorreg om ‘n klein bydrae tot laasgenoemde te lewer deur
‘n skenking van R10 000 vir die aankoop van teologiese boeke aan elk van 8
verskillende teologiese skole in Afrika suid van die Sahara. Dit is almal
inrigtings wat ook verbonde is aan NetACT (“Network for African Congregational Theology”). Die
lande wat geraak word is Kenia, Malawi, Mosambiek, Zambië, Zimbabwe en Namibië.
Die Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER) se “Library
and Textbook Program” sal help om die skenking te
administreer. Die 8 inrigtings sal dmv hierdie GER
program elk R10 000 se teologiese handboeke of biblioteekboeke kan bestel by
die bekendste teologiese uitgewers in die wêreld teen afslae
van tot 50%.
Geen predikant kan effektief sy roeping
vervul sonder boeke nie. Net so kan geen teologiese skool kwalifiseer vir
akkreditasie sonder ‘n ordentlike biblioteek nie. Die bg teologiese skole
sukkel almal om aan hierdie standaarde te voldoen. Meeste van hulle se
biblioteke kom nie naby die vereistes vir akkreditasie nie. Meeste van hulle
studente gaan in die bediening in met ‘n uiters karige voorsiening op hulle
boekrakke. Dis soos ‘n ambagsman sonder basiese gereedskap!
Bybel-Media se
bede is dat die Here hierdie skenking sal gebruik om sy Koninkryk te laat kom
in Afrika. Ons glo die ondersteuning van teologiese opleiding is een van die
heel belangrikste vennootskappe wat ons met ons kerkfamilie in Afrika kan
aangaan om te sorg dat die Evangelie die dringendste behoeftes van hierdie
vasteland aanspreek.
Nuwe Bybel-Media
publikasies:
1.
Die
derde boek in die reeks In gesprek oor
... het pas verskyn. Die nuwe titel uit die pen van Francois Wessels is: Wie was
Jesus regtig? Prikkelende vrae wat
bespreek word, is onder andere: Het ons werklik genoeg gegewens vir ‘n
histories betroubare beeld van Jesus? En kan ‘n historikus werklik iets oor ‘n
gebeurtenis soos die opstanding sê? Moet ons nie liewer heeltemaal
afsien van ‘n soeke na die historiese Jesus en slegs vertrou op die Christus
van ons geloof nie?
2.
Openbaring vandag, van Tiaan Jordaan, het teen die einde van 2006 verskyn. Die
simboliese taal van Openbaring teken vir ons ‘n skynbaar volledig vreemde
wêreld – hoe raak dit ons vandag? Die leser kry drie sleutels in die hand om self daardie verrassende boodskap
agter die vreemde beeldprente te verken.
Inligting, Navrae en Diensverskaffing:
Alle
bestellings: Skakel 0860 26 33 42 of 0860 bmedia – DVDs, CDs, boeke, kommen-
tare, kategesemateriaal, inligtingspamflette
en katalogi.
Méér
inligting op die webtuiste: www.bmedia.co.za
Bybel-Mediagroete uit Wellington.
Hans Steyn
Hoof:
Departement Ontwikkeling
E-pos:
hans@bmedia.co.za Tel 021 864-8223
NS.
In die Tydlose-Geloofskatte-reeks het
CS Lewis se “Mere Christianity” nou by Lux Verbi in Afrikaans verskyn met die titel: Doodgewoon Christen, teen R109,95. Bo
Deon van Staden laat weet:
Hennie Smit (Bertie van
Egoli) tree op 23 Maart 2007 om 19h00 op by VERKENNER LAERSKOOL in Linton Grange met "n Lag en Kuieraand".
U sal hom BAIE GENIET!
Kaartjies is R40-00 (Volw.)
en R20-00 (o/16) met 'n ligte ete ingesluit OF R30-00 (Volw) en R15-00 (o/16) sonder 'n ete.
Verversings (Worsrolle, kerrievetkoek
/ sosaties / pannekoek / koffie, ens. sal vanaf 17:30 beskikbaar wees en daar
sal ook verskeie stalletjies wees vanaf 17:30 (o.a. juwele, klere spesiaal vir
die dames, lekker nat beskuit, ens.
Vir kaartjies/navrae skakel:
0823458401 of 041 3605148 of 041 3601496 Bo
Oulike gratis agtergronde
vir jou media
Worshiphousemedia het hierdie maand ‘n BAIE nice freebie – ‘n reeks agtergronde vir Paasfees, asook ‘n motion background en
countdowns.
Mens moet registreer om dit af te laai. Dis egter die moeite werd om te
registreer, aangesien hulle elke maand ‘n freebie (van wisselende gehalte)
het.
http://www.worshiphousemedia.com/index.cfm?hndl=details&id=7002&tab=ST Bo
Empiriese navorsing oor
die funksionaliteit van psalmsang in die NG Kerk in S.A. en Namibië
Me
HJ Jankowitz maak die volgende mededeling oor ‘n
studie rondom psalmsang:
1. Motivering
Psalmsang het ongelukkig binne ons kerkverband ‘n hartseer geskiedenis; sodat die
kosbaarste Bybelse lofbundel besig is om in onbruik
te raak – die kosbaarste lofsang-erfenis wat die
hoogtepunt van ons lof aan God moet uitsing, is besig om traag en stemloos
geword. Selfs kosbare, vars omdigtings saam met heelwat nuwe wysies kon blykbaar nie
die saak beredder nie.
2. Plan van aksie
Die
identifisering van die stand van sake kan as ‘n beginpunt vir riglyne vorentoe
beskou word.
Derhalwe
is ‘n vraelys vir die inwin van statistieke rondom psalmsang
ten opsigte van funksionalieit en gebruiksfrekwensie
saamgestel en deur die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus goedgekeur. Dit vorm deel van ‘n PHD-studie
oor die Psalms in die Liedboek van die
Kerk deur ‘n ingeskrewe student onder leiding van prof Daleen Kruger, me HJ
Jankowitz.
3. Omvang van die navorsing
Die
navorsing sal die uitstuur van vraelyste aan 500 gemeentes van die NG Kerk in
Suid-Afrika en Namibië behels. Gemeentes
is gekies om ‘n bepaalde verskeidenheid te dek ten opsigte van ligging, bedieningstyl en lidmaattal. Dit word beplan om gedurende Maart uitgestuur
te word en terugvoering word ongeveer Mei tot Julie terug verwag. Die
aangehegte stukke sal elektronies aan die bepaalde gemeentes gestuur word.
4. Redes vir hierdie skrywe
Die
redes vir hierdie skrywe, is om u in te lig oor hierdie beplande empiriese
studie, die motivering daarvoor asook die omvang daarvan te beskrywe en te
versoek dat u dit, indien moontlik, die betrokke inligting kan deurgee aan u
sinodale gebied.
By voorbaat baie dankie vir u aandag en
ondersteuning. Met seënwense vir u
omvangryke taak.
HJ
Jankowitz. Bo
Ds
Zachie le Roux beskikbaar vir algemene predikantswerk
Ek ken ds. Zachie le Roux nie, maar hy
meld hy is beskikbaar vir algemene predikantswerk in enige gemeente in die
kerk. Miskien bevind u gemeente hom in
‘n oorgangstydperk en wil u nie nou iemand voltyds beroep nie. U soek dalk iemand vir Pinkster. Kontak hom gerus by 072-621-1149. Bo
CFN: Opleiding
as Fasiliteerder of as Gevorderde
Fasiliteerder
Die bekende
Church and Commmunity
Facilitation Network,
waarvan onder andere Buvton lid is, bied weer vanjaar
opleiding aan vir persone wat graag as fasiliteerders op as gevorderde
fasiliteerders opgelei wil word. Kyk gerus na www.cfn.org.za
vir meer inligting of kontak Letitia Sullivan by 021 685-6883.
Bo
Q. What kind
of man was Boaz before he married Ruth?
A. Ruthless.
Q. What do
they call pastors in Germany ?
A. German Shepherds.
Q. Who was the greatest financier in the
Bible?
A. Noah He was floating his stock while
everyone else was in liquidation.
Q. Who was the greatest female financier in
the Bible?
A. Pharaoh's daughter.. She went down to
the bank of the Nile and drew out a little prophet.
Q. What kind of motor vehicles are in the
Bible?
A. Jehovah drove Adam and Eve out of the
Garden in a Fury. David's Triumph was heard throughout the land. Also, probably
a Honda, because the apostles were all in one Accord.
Q.. Who was the greatest comedian in the
Bible?
A. Samson. He brought the house down.
Q. What excuse did Adam give to his
children as to why he no longer lived in Eden ?
A. Your mother ate us out of house and
home.
Q. Which servant of God was the most
flagrant lawbreaker in the Bible?
A. Moses. He broke all 10 commandments at
once.
Q. Which area of Palestine was especially
wealthy?
A. The area around Jordan . The banks were
always overflowing.
Q. Who is the greatest baby-sitter
mentioned in the Bible?
A. David. He rocked Goliath to a very deep
sleep.
Q. Which Bible character had no parents?
A. Joshua, son of Nun.
Q. Why didn't they play cards on the Ark ?
A. Because Noah was standing on the deck. (
Groan...)
Skriba Sinodale Kommissie