OosKaap
eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap
van die heiliges
Jaargang 5 - Nommer 2 - 5
Februarie 2007 - www.ngkok.co.za
Waarop vestig die Here ons aandag hier in die Oos-Kaap?
Bosberade met predikante in ringsverband
Kerkhereniging: Ontmoeting van Ringskommissies te Cradock
VBO: Voortgesette Bedieningsonderrig kry prioriteit
Kommentaar: Verwagtings van VBO
Op die web: Sinodale Inligting en Bronne
DVD-pakket met die oog op lidmaatbemagtiging
Amazing Grace, William Wilburforce en slawerny
Sinodale Werkswinkel: Verdieping
van Spiritualiteit Retraite (12 tot 15 Maart 2007)
Groot nuus van Dordrecht-gemeente
Studietoer na die VSA: 12 November - 14 Desember 2007
o.l.v. Malan Nel
Waarop vestig die Here ons aandag hier in die
Oos-Kaap?
Tydens
die SK-Dagbestuur se onlangse strategies-teologiese gesprek, is gevra waarop
die Here tans die sinodale verband se aandag vestig. Uit die gesprek het ‘n
paar sake helder na vore gekom:
● God is aktief aan die werk in
die wêreld, soos uitgedruk in die teologiese term missio Dei. God is op ‘n missie. Die sleutelvraag vir ons is: wat
is God besig om te doen? Waarheen nooi Hy ons om by Hom aan te sluit. Hierdie missio Dei moet bepalend wees vir die
wyse waarop ons ons kerk-wees verstaan.
● Die gesprek binne die Algemene
Sinode oor kerkhereniging en homoseksualiteit plaas hierdie sake ook op ons
agenda.
● Hoe verstaan ons die wêreld?
Hoe maak mens sin van dit wat aan die gebeur is en hoe reageer jy ooreenkomstig
die evangelie daarop?
● ‘n Studiesentrum vir lidmate en
predikante is noodsaaklik, sodat kerkmense voortdurend gevorm word om God se
roeping uit te voer. Ons is by die punt waar die bedieningsbydrae van lidmate
baie ernstig geneem word.
● Ons benodig die kultuur van ‘n “learning
organisation” (Peter Senge) waar ons nie vooraf oor al die antwoorde beskik
nie, maar leer soos ons vorder deur Skrifgetroue nadenke oor die praktiese
bediening. Aksie en refleksie in ‘n voortdurende siklus van
geloofsonderskeiding is nodig.
● Die dienskarakter van die kerk
na die wye gemeenskap kom al hoe sterker in die Oos-Kaap na vore. Dit word in
ringsprojekte gereflekteer. Dit behoort te groei uit gelowiges wat hul gawes
tot beskikking van die bediening stel en gerig wees op ‘n diversiteit van
behoeftes.
● Die insluiting van diegene wat
tans nie deel van die kerk is nie - sonder dat hulle eers hoef te verander om
genooi te word - is ‘n sleutelkenmerk van die nuwe pad wat die Here wys.
● Aanpassende verandering is in ‘n
tyd soos hierdie nodig. Geloofsgemeenskappe moet self verander om vir God
bruikbaar te wees - nuwe maniere van kerk-wees en kerk-doen. Dit kan nie altyd
voorspel word nie, en mens weet nie by die aanvang van die reis hoe die Here
jou wil verander om aan sy missio Dei diensbaar te wees nie. Daarom moet jy
verander, en selfs in jou verandering voortdurend aanpassend wees.
● Ons raak toenemend minder en
minder ge-institusionaliseerd in ons denke oor die kerk. Ons is verby die punt
waar die evangelie ‘n instrument is om die instituut in sy gebaande weë
diensbaar te wees. Die evangelie is nie die kerk se instrument om haarself en
haar belange te dien nie. Die evangelie is die goeie nuus van God en ons is in
diens daarvan - die evangelie vorm ons en stuur ons. Hier is werklik bekering
nodig vir die kerk-instituut.
● Mense vra al hoe minder wat die
kerkorde sê en al hoe meer wat die Here sê. Dit is ‘n prysenswaardige
ontwikkeling in soverre dit op de-institusionalisering dui en gaan nuwe
strukture vra - nie struktuurloosheid nie. Daarom moet die kerkorde ons bly
help om toepaslike bedieningstrukture te skep, en dit nie verhinder nie.
● Institusionalisering: wat
gemeente en kerkverband nou institusionaliseer - want ons moet tog strukture
vorm - is van kritiese belang vir ons toekoms. Ons behoort die kruisweg, die
weggee van mag, diensbaarheid, ontlediging, soos Christus, te
institusionaliseer. Mens moet as’t ware daagliks kies teen die konsentrasie van
mag in die kerkinstituut.
● Wat gaan vorm gee aan ons
Christelike verbeelding - ons vermoë om deur geloof God se voorkeur-toekoms vir
ons raak te sien? Gaan dit ‘n diep luister na die Woord, Gees en konteks wees? Ons
Godgegewe roeping? Of gaan dit die vorm van die kerk-instituut, ons belange en
ideale wees?
● Die sinode se visie en missie is steeds
relevant:
Missie: Die NG Kerk in
Oos-Kaapland begelei gemeentes en ringe, en bou hulle kapasiteit, om deur ‘n
proses van geestelike onderskeiding God se roeping te ontdek en uit te voer.
Visie: Die NG Kerk in Oos-Kaapland is een, heilige, algemene,
Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges.
Dit sal interessant wees om te hoor wat
kerkrade en gemeentes oor hierdie opmerkings dink. Bo
Bosberade met predikante
in ringsverband
Die
bosberade, wat die moderatuurslede die afgelope twee jaar gelei het, het soveel
waardevolle uitkomste gelewer, dat besluit is om weer vanjaar ontmoetings
tussen die moderatuur en die leraars in ringsverband te organiseer. Ons skenk
vanjaar weer hoofsaaklik aan verhoudinge en gesamentlike geloofsonderskeiding
aandag.
Alle ringsleraars word genooi om die
byeenkomste by te woord, wat weer op vier plekke in die sinodale gebied
plaasvind.
Plekke en tye:
|
Datum |
Ringe betrokke |
Plek |
Gemeente waar vergader |
|
6
Maart |
Algoa,
PE, PE-Wes |
PE |
PE-Lorraine |
|
7
Maart |
Uitenhage,
Sondagsrivier, Humansdorp |
Uitenhage |
Uitenhage
De-Mist |
|
19
Maart |
Cradock,
Albanie, Graaff-Reinet |
Cradock |
Cradock-Oos |
|
20
Maart |
Queenstown,
Burgersdorp, Oos-Londen, Dordrecht |
Word
nog gefinaliseer |
Word
nog gefinaliseer |
Program:
|
09h00 - 09h15 |
Tee/koffie en broodjies / Registrasie |
|
09h15 - 11h15 |
Bespreking |
|
11h15 - 11h30 |
Tee/koffie en verversings |
|
11h30 - 13h00 |
Bespreking |
|
13h00 - 14h00 |
Ete |
|
14h00 - 16h00 |
Bespreking |
Ons
sal dit hoog op prys stel om alle ringsleraars by hierdie byeenkomste te
verwelkom. Verlede jaar was die bywoning gemiddeld meer as 80%, werklik
briljant. Bo
Kerkhereniging: Ontmoeting van
Ringskommissies te Cradock
‘n
Vriendelike herinnering dat alle ringskommissies genooi word na ‘n byeenkoms
van die Familie van NG Kerke se ringskommissies in die Oos-Kaap. Die VGK het
sowat 15 leraars in die Oos-Kaap en hulle sal almal teenwoordig wees.
Dis nou krities belangrik dat
ringskommissies vir hulle oornagplek
op Cradock bespreek vir Vrydagaand, 2 Maart. ‘n Lys van
verblyfplekke is hier beskikbaar.
Die doel van die byeenkoms is
verhoudingsbou, saam luister na die luisterskap van die VGK Kaapland en NGK
Oos-Kaapland, en saam beplan aan praktiese maniere om kerkhereniging op
grondvlak vorentoe te neem in die Oos-Kaap. Dr Alan Boesak, ds Lukas Plaatjie,
moderator en assessor van die VGK-Kaapland en ds Hansie Schutte en dr Chris van
Wyk, hul eweknieë in die Oos-Kaap, sal insette lewer.
Ringskommissies het reeds kennis ontvang.
Dink asb in jul voorbidding aan hierdie belangrike byeenkoms. Bo
VBO: Voortgesette Bedieningsonderrig kry
prioriteit
Voortgesette
Bedieningsonderrig kry vanaf vanjaar baie groter prioriteit in die NG Kerk met
die prioriteit wat die Algemene Sinode na verwagting in Junie 2007 daaraan sal
toeken. Met die goedkeuring van die A-Z predikante-handleiding sal VBO ‘n
noodsaaklike deel van die predikant se opdrag word.
Opleidingsinstansies en teologiese
fakulteite voor die uitdaging te staan om ‘n groot aantal predikante met
betekenisvolle, praktiese en relevante onderrig te bedien.
Tydens die onlangse strategies-teologiese
beplanningsessie van die Sinodale Kommissie se dagbestuur het dr Frederick
Marais van Buvton die raamwerk geskets waarbinne VBO geïmplementeer sal word.
‘n VBO-forum, wat uit belanghebbende rolspelers soos Buvton (Stellenbosch, NGK
en VGK), Shepherd (Bloemfontein), Excelsus (Pretoria), verteenwoordigers van
die NGKA en die noordelike seminarium van die VGKSA bestaan, is tans besig om
‘n gemeenskaplike VBO-sisteem te ontwerp.
Aandag word tans gegee aan die volgende
komponente van die nuwe VBO-stelsel:
Een:
Akkreditasie: kursusse sal as
VBO-kursusse geakkrediteer moet word by die VBO-forum of die deelnemende
instansies (bv Buvton, Excelsus of Shepherd).
Twee:
Krediete: Dit word op hierdie
stadium voorgestel dat predikante jaarliks 100 ure VBO blootstelling moet hê om
genoeg krediete te verwerf. Die krediete bestaan uit akademiese en
professionele krediete. Vir die akademiese krediete sal ‘n vorm van
eksaminering nodig wees.
Die voorgestelde stelsel is so ontwerp dat
meer krediete verwerf moet word hoe meer tyd verloop het sedert die predikant
afgestudeer het. Die maksimum jaarlikse krediete moet verwerf word indien ‘n
leraar 10 jaar of meer gelede afgestudeer het.
Spesifiek wat Buvton betref, word daar tans
‘n Roepingsretreat ontwikkel wat as portaal tot ‘n VBO-program kan dien. In
hierdie retreat word predikante tot roepingsverheldering en -fokus begelei. Die
retreat spruit voort uit Buvton se navorsing oor drie jaar rondom amp en
leierskapsontwikkeling. Hieruit blyk dat die Gereformeerde verstaan van die amp
primêr rondom roeping wentel, en nie om die professionaliteit of amptelike
posisie van die predikant nie. Die roepingsretreat ondersteun dus die
roepingsontwikkeling van die predikant soos sy/haar bediening ontplooi.
Vanuit die roepingsretreat word predikante
bemagtig om ‘n persoonlike roepings-ontwikkelingsplan te formuleer wat
sinkroniseer met hulle VBO oor die volgende drie jaar.
VBO-weke: Buvton beoog jaarliks twee
VBO-weke (een in elke semester) waartydens ‘n verskeidenheid VBO-kursusse in
Stellenbosch aangebied sal word. Tydens die eerste van hierdie weke tree proff
Andrew Walls en Kwame Bediako op rondom gemeentes se missionêre uitdagings in
Afrika. Vanaf 27-30 Augustus word ‘n week wat fokus op aanbidding en
spiritualiteit beplan. Bo
Die
Sinodale Kommissie en die Dagbestuur het reeds by minstens twee geleenthede
gesprek gevoer oor die identifisering van VBO-vennote vir die Oos-Kaap. Ons het
op hierdie stadium ‘n eerste ooreenkoms met die Sentrum vir Kontekstuele
Bediening van prof Malan Nel rondom die opleiding van leraars as aanbieders vir
lidmaattoerusting ten opsigte van prediking en pastoraat. Ons is besonder
opgewonde oor hierdie opleiding wat reeds in hierdie kwartaal ‘n aanvang neem.
Die SK-Dagbestuur het ook in beginsel
besluit om van Buvton as vennoot gebruik te maak, en sal ook graag na ander
vennote se bydraes kyk, Ons sal na alle waarskynlik ook Oos-Kaapse inhoud
ontwikkel en met die ander vennote saamwerk om dit te akkrediteer en aan te
bied. Bo
Kommentaar: Verwagtings van VBO
Indringende
gesprek is tydens die SK-Dagbestuur oor die toepaslikheid van VBO-programme
gevoer. ‘n Duidelike aanvoeling bestaan dat VBO nie ‘n akademiese oefening moet
wees waar eksperte bloot ‘n bepaalde kennisinhoud kommunikeer nie. VBO sal
deeglik kennis moet neem van die landskap(pe) waarin bediening plaasvind, en
innoverend saam dink oor die uitdagings waarmee predikante gekonfronteer word.
Leraars moet bemagtig word om kreatief te reageer op die kontekste waarin die
kerk geroep word om die evangelie te bedien.
Wat vorm die bedieningspraktyk? Toe ons
studente was, is tydens die vergadering gesê, is ons in abstraksie voorberei
vir bedieningskontekste wat nog net in beperkte mate bestaan het toe ons die
dag wel predikante geword het. Die kernvraag: Is ons toegerus om teologies na
te dink oor ons konteks en ‘n nuwe bedieningspraktyk te skep wat in
ooreenstemming is met die evangelie wat ons bely? Vorming wat ons in staat stel
om in wyd-uiteenlopende situasies teologies-getrou en kontekstueel effektief te
wees, is nodig. Mens dink hier aan Peter Senge se konsep van ‘n “learning
organisation” wat nie vooraf al die antwoorde het nie, maar leer soos ons
vorder.
Oos-Kapenaars bepleit ‘n benadering waar
VBO-leweransiers deeglik luister na bedienaars en gemeentes om te verseker dat
die VBO-toerusting toepaslik is. Bo
Op die web: Sinodale Inligting en Bronne
Lesers
van OosKaap eNuus is welkom om ons sinodale webblad waarop inligting en
brondokumente vervat word, te besoek by www.ngkok.co.za.
Jy vind hier verskeie besluite van die Algemene Sinode en ander dokumente wat
dalk vir jou van belang mag wees.
Kyk
veral na die kennisgewingbord (klik op “Kennisgewingbord” onder die opskrif “Kortpad”)
vir inskrywingsvorm en inligting oor sinodale projekte. Jy kan ook riglyne vir
ringsprojekte en ander informasie iewers op die blad verkry.
Ons sinodale nuus word geplaas op die NG
Kerk se webblad by www.ngkerk.org.za. Bo
DVD-pakket met die oog op lidmaatbemagtiging
Rinel Hugo, sameroeper van die Algemene Sinode se Diensgroep vir
Gemeente-Ontwikkeling skryf as volg aan alle gemeentes:
Beste Kollega
Die Algemene Sinode se Diensgroep vir Gemeente
Ontwikkeling (ADGO) het as deel van haar opdrag, die taak om lidmate van die NG
kerk te help om hulle roeping tot diens, duidelik te verstaan en beter hiervoor toegerus te
word. Met die oog daarop is die Taakspan Lidmaatbemagtiging besig om aan verskillende projekte te werk om
materiaal te ontwikkel om mee te werk aan die ideaal dat elke lidmaat sal weet
waar hulle binne die koninkryksplan met hulle unieke gawes en passie inpas.
Baie dankie
aan almal vir die positiewe reaksie op
’n vorige versoek rakende die materiaal wat gemeentes gebruik!!
Die
taakspan stel tans in samewerking met Bybel-Media
’n DVD/CD pakket saam. Die doel is om die DVD te versprei sodat gemeentes
bymekaar kan leer en mekaar inspireer en energeer. Daarom wil ons u vriendelik versoek om die
taakspan weereens te help asseblief.
Ons is
op soek na “ lidmaatverhale” wat hoop
bring of wat die harte aangryp.
Daar is pragtige stories waar gewone lidmate aktief betrokke geraak het in die gemeenskap, of waar
lidmate met ’n bediening of uitreik
begin het en hulle Christenskap prakties uitleef. Enige storie is welkom en die
idee is om ’n paar stories by die gemeente te gaan opneem en op die DVD te
plaas. Ons is tans besig met ’n siftingsproses en kan nie belowe dat ons alle stories gaan gebruik nie, maar wil u nie
in een kort paragraaf die essensie van die storie deurgee nie, asb. Indien die
storie gebruik kan word sal iemand u kontak sodat die volle besonderhede uitgeklaar
kan word.
Stuur
asb die opsomming (paragraaf) storie voor 20 Februarie aan ons. Ons besef dit
gee u nie baie tyd nie, maar die opnames gaan tydrowend wees en ons wil graag
stad, platteland en alle streke bereik en steeds die DVD voor Junie vir die Algemene sinode gereed
hê.
Dit sal
werklik hoog op prys gestel word as u so gou moontlik kan reageer. U kan dit
epos na kotiew@gmail.com of per faks stuur na (012) 342 0380.
Dankie vir u samewerking.
Vriendelike groete
Mev Rinel Hugo (Sameroeper) Bo
Amazing Grace, William Wilburforce en
slawerny
‘n
Nuwe film oor die lewe van William Wilberforce (1759-1833), Britse
parlementariër wat die leier van die slawerny abolusie-beweging in Brittanje
was, word op 23 Februarie internasionaal bekendgestel. Wilberforce het sy
veldtog om slawerny af te skaf op 12 Mei 1783 met ‘n toespraak in die Britse
parlement geloods. Eers teen 1807 (vanjaar 200 jaar gelede) kon hy daarin slaag
om Britse deelname aan die slawehandel verbied te kry, terwyl slawerny self eers
in 1833 - ‘n maand na sy dood - in die Britse Ryk afgeskaf is.
Jy kan gerus meer oor Wilberforce se lewe
lees - hy is ‘n goeie voorbeeld van iemand wat in die greep van sy Godgegewe
roeping geleef het.
Een van sy mentors was die Anglikaan John
Newton, skrywer van die bekende Amazing
Grace. Dit is ook die titel van die film oor Wilberforce se lewe.
Jy kan ‘n voorskou van die fliek hier sien. Bo
Sinodale
Werkswinkel: Verdieping van Spiritualiteit Retraite (12 tot 15 Maart 2007)
Vanjaar se sinodale
werkswinkel word as retraite aangebied en is vir ‘n beperkte aantal persone
beskikbaar.
Hoe kan my en my gemeente se spiritualiteit verdiep word?
Dr Willem Nicol en ds Deon
Loots bied ‘n retraite aan waarin ons saam ervaar en besin oor:
*
Gereformeerde Skrifmeditasie
* Gebed van
die hart
* Ervaring
van meditatiewe liturgiese vierings
* Liggaamlike
kant van spiritualiteit
* Die
geestelike reis
* Daaglikse
bewussyn.
Die retraite word op die private wildplaas, Asante
Sana (voorheen Petersburg), tussen Graaff-Reinet en Pearston aangebied. Die
roete sluit 38 km grondpad in (roetekaart ibeskikbaar) wat per motor gery kan
word. Kom met ‘n bakkie, indien moontlik, om die plaas te besigtig. Die
slaapplek te Asante Sana is ou plaashuise en die kamers word meestal gedeel.
Beddegoed word voorsien. Bring asseblief jou eie handdoek saam.
Klik hier vir
meer inligting, asook die inskrywingsvorm. ‘n Roetekaart
is ook beskikbaar. Bo
Groot nuus van
Dordrecht-gemeente
Rika
Potgieter, saakgelastigde, skryf opgewonde dat Dordrecht-gemeente so pas hul
nuwe leraar, ds Johan Marais, ontvang het. Hy is op 2 Februarie bevestig en het
sy intreepreek op 4 Februarie gelewer.
Dan herinner Rika ook aan die 150-jarige
fees van die gemeente. Dit vind van 6 tot 8 April plaas. Navrae kan gerig word
aan ds Johan Marais by 045 943-1065. Bo
Studietoer na die VSA: 12
November - 14 Desember 2007 o.l.v. Malan Nel
Prof Malan
Nel: Kan ons
iets by gemeentes in die VSA leer? Ek antwoord hierdie vraag sedert 1986 toe die
eerste studietoer met 49 predikante begin het. Hierdie is nommer 8 en ek is
oortuig dat dit een van die rykste ervarings van jou bediening kan wees - soos
vir die meeste wat al op so 'n studietoer was.
Besoeke aan: 21 plaaslike gemeentes
(waarvan ek van die meeste hulle bediening vir 25 jaar en meer monitor) met
insette van hulle leiers, 6 Teologiese Seminaria met insette en perspektiewe
van 14 teologiese leiers in hulle vakgebiede en byna daaglikse evaluering
en gesprekke as toergroep…kan mos niemand onaangeraak
laat nie. Ek is oortuig dat die breë en
gebalanseerde blootstelling nodig is wanneer iemand die VSA besoek.
Eensydigheid in daardie groot land is nie moeilik nie. Vir meer inligting
kontak Malan Nel by m.mcnel@mwebbiz.co.za. Bo
Die
aantreklike jong spraakterapeut vestig haar in die Kaap waar sy 'n praktyk
begin. Sy het 'n groepie hakkelende jong mans, maar maak nie eintlik vordering
met hulle nie. Uiteindelik besluit sy om 'n ongewone eksperiment te probeer: Sy
kom na die groepsessie met skamele klere aan en belowe hulle dat as enige van
die jongmans in die groep vandag 'n sekere ding kan regkry, sy hom 'n
ordentlike soen sal gee as beloning. Hy moet die dorp waar hy gebore is, se
naam kan sê sonder om te hakkel. So gesê, so gemaak. Opgewonde probeer die
eerste ou: "K-k-k-k-k-Kaapstad!" hakkel hy en sink moedeloos op sy
stoel neer. Die tweede ou staan op en sê: "MmmmmmmMalmesbuRy!" en
slaan moedeloos op sy heup. Die derde ou haal diep asem en sê: "Durban!"
"Mooi!" sê die spraakterapeut en soen hom 'n volle minuut lank met
oorgawe, soos sy beloof het. Toe sy klaar is, vra sy: "En wat sê jy
daarvan?" Waarop hy uitasem antwoord: ".....v-v-v-v-v-ville!" Bo
Eendag
merk die dominee 'n klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat
aandagtig na 'n groot gedenkplaat teen die muur staan en kyk. Dit was oortrek
met name en daar was klein landsvlaggies weerskante. Die sewejarige seuntjie
het vir 'n lang tyd aandagtig na die plaat gestaan en kyk. Toe loop die dominee
nader, kom staan langs die seuntjie, en sê saggies: 'Goeiemore my Seun.'
'More, Dominee sê hy, met sy oë nog
vasgenael op die plaat. Dominee, wat is dit hierdie?' vra hy.
Die dominee antwoord:'Wel, my seun, dit is
'n gedenkplaat vir al die jongmanne wat in die diens gesterf het.'
In doodse stilte en met groot eerbied staan
die twee toe voor die plaat en staar na die name.
Uiteindelik, in 'n skaars hoorbare
stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie: 'Watter diens Dominee? Die oggend-
of die aanddiens''