OosKaap
eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die
gemeenskap van die heiliges
Jaargang 4 - Nommer 10 - 6
November 2006 - nuus@ngkooskaap.co.za
INHOUD
Oos-Kaapse
Ringskommissies van die NG Kerk en VGK in 2007 byeen
Drie-talige
uitleg van die Belhar-Belydenis
Toerusting van lidmaat-leiers
om met amptelike sanksie bedieningsverantwoordelikheid
te neem
Die Gereformeerde Siening van Belydenis
Die NG Kerk en Gay-verbintenisse
Matriek Wegbreek saam met Xtreme Actventures 26 Nov -3 Des
2006
Paidion Kinderbediening-Werkswinkel
Bekendstelling: Venootskap
vir Gestuurde Gemeentes
Oos-Kaapse Ringskommissies van die
NG Kerk en VGK in 2007 byeen
Praktiese kerkherenigingsprosesse in die
Oos-Kaap het ‘n lekker energie-inspuiting beleef met
die eerste, historiese byeenkoms op Woensdag, 25 Oktober 2006 van die Oos-Kaapse leiers van die VGK Kaapland en die moderatuur
van die NGK Kerk in Oos-Kaapland. Die gesprek is
moontlik gemaak deur ‘n besluit van die Konvent vir Eenheid dat die Oos-Kaapse VGK-leiers bemagtig
word om herenigingsprosesse in die eiesoortige Oos-Kaapse konteks saam met die NG Kerk te begelei. Hierdie
besluit moet nog formeel deur die onderskeie sinodale kommissies goedgekeur
word. Dit is egter in lyn met die beleid van die onderskeie sinodes.
By die eerste byeenkoms
is die RCA in die persoon van ds Wikus van der Walt, leraar van die enigste RCA-gemeente in die Oos-Kaap (Malabar in PE) ook verwelkom.
Die posisie van die NGKA, wat nie oor ‘n leraar in
die Oos-Kaap beskik nie, en by die Vrystaatse sinode inskakel, moet nog
uitgeklaar word.
Een van die belangrikste
aanbevelings van die eerste Oos-Kaapse byeenkoms op
25 Oktober is die hou van ‘n gesamentlike saamtrek van ringskommissies te
Cradock oor die naweek van Vrydag tot Saterdag 23-24 Februarie 2007. Die
bedoeling met die saamtrek is om die proses van verhoudingsbou
amptelik te lanseer. Die deelnemende sinodes sal versoek word om hul moderators
en assessors na hierdie byeenkoms te stuur om deelnemers oor die stand van kerkhereniging en die pad vorentoe in te lig. Daar sal ook
voldoende kleingroepbesprekings en vraetyd wees.
Ringskommissies word
versoek om hul eie kostes te dra. Die Uitvoerende Komitee van die Konvent vir
Eenheid sal om subsidie genader word vir ringskommissies wat finansiële tekorte
ervaar.
Die NG Kerk Cradock-Oos tree as gashere vir die byeenkoms op. Die vyf
NG Kerk-familie gemeentes op Cradock sal soveel as
moontlik afgevaardigdes aan huis by lidmate laat oorslaap (opsigself
‘n oefening in die bou van verhoudinge). Ringskommissies word versoek om die
skriba, ds Danie Mouton, nie later as 23 Januarie
2007 te laat weet wie almal namens ringskomissies kom
nie. Ons vertrou dat sal vir ‘n almal prakties moontlik wees om die historiese
byeenkoms by te woon. Waar ringskommissielede nie kan
kom nie, vra ons dat sekundi opgeroep word.
Die program begin die
Vrydagaand om 20:00 (registrasie vanaf 19:00) en sluit die Saterdag om 13:00
af, waarskynlik met die gesamentlike viering van die nagmaal.
Hierdie sentrale, streekswye byeenkoms sal opgevolg word met kleiner,
plaaslike byeenkomste waar soveel as moonrtlik
lidmate betrek sal word. Toepaslike prosesse, soos waarderende ondersoek, “Healing of the memories” e.s.m.
sal op hierdie vlak aandag kan kry.
Drie-talige uitleg van die Belhar-Belydenis
Dit is algemeen bekend dat talle lidmate van die NG Kerk glad nie bekend
is met die inhoud van die Belhar-Belydenis nie. Dit
is ook ‘n feit dat die inhoud ten beste in gesprek met lede van die familiekerke verken behoort te word.
Om gesprek oor grense
heen te vergemaklik, het die Uitvoerende Komitee van die Konvent vir Eenheid
pas ‘n drie-talige uitleg van die Belhar-Belydenis
bekend gestel. Die Afrikaanse teks is tydens die laaste Konvent goedgekeur. Die
dokument is sedertdien in Engels en Xhosa vertaal (laasgenoemde een van die
laaste dinge wat ds Themba Nyatyowa
van die VGK voor sy dood vroeër vanjaar gedoen het).
Die dokument is uiters
bruikbaar vir NGK Gemeentes wat gesprek met lidmate van die VGK oor die Belhar-Belydenis wil voer. Laai dit af vanaf ons webblad.
Die Afrikaanse teks van Belhar is ook hier
beskikbaar. Bo
Toerusting
van lidmaat-leiers om met amptelike sanksie bedieningsverantwoordelikheid
te neem
‘n Werklik opwindende nuwe
moontlikheid in Oos-Kaapland is die geakkrediteerde
opleiding van geskikte lidmaatleiers vir die
lewer van bedieningshulp - onder toesig - ten opsigte
van veral prediking en pastorale sorg in gemeentes, gebaseer op ‘n goeie
Gereformeerde ekklesiologiese grondslag (gemeentebou).
Die bedieningsbehoefte
by talle gemeentes wat nie langer ‘n voltydse leraar kan bekostig nie, is aan
basiese bediening rondom prediking en pastoraat. Verder: by feitlik alle
gemeentes - ook dié met een of meer predikante - bestaan die behoefte om die kapasiteit
vir bediening betekenisvol te verhoog - en hiervoor is goed toegeruste lidmaatleiers nodig.
Op sinodale vlak het ons die toerusting
van leiers as een van die sentrale prioriteite vir ons sinodale gebied
onderskei. Dit het die SK op 18 Mei 2006 laat besluit om die SK-Dagbestuur met volmag opdrag te gee om oplossings te
ondersoek en te implementeer. ‘n Taakspan bestaande uit Barnard Steyn, Jan
Viljoen, Chris van Wyk en Danie Mouton het die
ondersoek waargeneem. Uit ons navorsing blyk dat die Sentrum vir Kontekstuele
Bediening (SKB) aan die Universiteit van Pretoria (met prof Malan Nel as
direkteur) verreweg die beste opsie bied om hierdie toerusting in die Oos-Kaap
te implementeer.
Die werkgroep het ‘n uitgebreide onderhoud
met prof Nel gevoer en ‘n volledige plan van aksie opgestel, wat deur die SK-Dagbestuur van 27 Oktober 2006 goedgekeur is. Die
volledige beplannng is op ons webblad beskikbaar.
Lees dit gerus deeglik deur.
Kortliks opgesom:
Die opleidingsmodel
kom op die volgende neer:
· Minstens een
aanbieder (‘n predikant) word per ring opgelei om op ringsbasis
die opleiding van lidmate in daardie gebied waar te neem. Hierdie aanbieder
word ‘n geakkrediteerde van die SKB (en moet vir hierdie doel alreeds oor ‘n
nagraadse teologiese kwalifikasie beskik).
· Hierdie leraar
(die dosent) word uit elke ring se geledere deur die ring self (ringskommissie)
genomineer;
· Gemeentes
nomineer lidmate wat geskik is vir hierdie opleiding. Nadat hulle die opleiding
suksesvol deurloop het, en deur die Universiteit van Pretoria gesertifiseer is,
word hulle name in die ring se opleidingsregister
aangeteken en by hulle onderskeie gemeentes aangemeld. Hierna verleen die
betrokke kerkraad aan hulle die bevoegdheid om met die gemeente se bediening
behulpsaam te wees.
· Elkeen van die
kursusse vir lidmate (onderskeidelik in gemeentebou,
prediking en pastoraat) bestaan uit twee modules elk. ‘n Module word oor vier
dae aangebied met ‘n opdrag wat oor twee maande afgehandel moet word voordat
die tweede module aangebied word.
· Die kursus in gemeentebou is die basiskursus.
Lidmate moet dit slaag voordat hulle kan voortgaan om óf die kursus in
pastoraat óf die kursus in prediking te voltooi. Die verwagting is dat die
meeste lidmate dus twee kursusse sal voltooi (en nie al drie nie) om ooreenkomstig
hul gawes (hetsy pastoraat of prediking) diens te doen in gemeentes.
Meegaande dokument verwys na
gevorderde en basiese kursusse. Die dosente word opgelei in die eerste twee
modules van die gevorderde kursus, maar hierdie twee modules is ook dieselfde
as die eerste modules van die basiese kursus. Die basiese kursus word vir
lidmate benut, en is voldoende vir sertifisering deur UP.
Op hierdie vlak kan enige lidmaat inskryf, ongeag akademiese kwalifikasies.
Wat dit prakties beteken:
Prakties beteken dit dat elke
ring nou bemagtig word om ‘n teologiese skool in die kleine te bedryf,
geakkrediteer by ‘n tersiëre instelling wat die
sertifisering hanteer. Leraars word bemagtig om toerusters
te wees, en om die bediening op ‘n verantwoordelike en volhoubare wyse “terug
te gee” aan lidmate. Hierdie lidmate kan hul bediening met geloofwaardigheid in
hul gemeente uitvoer. En die lidmate wat help bedien, geniet vooraf reeds die
vertroue van die plaaslike gemeente. Julle verstaan waarom ek dit ‘n deurbraak
noem.
Ander kerke welkom:
Let ook op dat hierdie ‘n ekumeniese
onderneming is. Ons sal baie bly wees as lidmate uit die hele NG Kerk Familie
van die opleiding gebruik maak. Ringe of gemeentes kan gerus sodanige persone
bemagtig om die opleiding by te woon. Ook ander kerke is welkom. Versprei dié
woord asseblief.
Besonderhede dosente-opleiding:
Gemeentebou:
Week
1: 26 Febr - 01 Maart 2007.
Week
2: 25 - 28 Junie 2007.
Prediking:
Week 1: 26 -
29 Maart 2007
Week 2: 16 - 19 Julie 2007
te
Eersterivier Kampterrein. Dit sal vir die
eerste module wees.
Koste: Die sinode neem verantwoordelikheid vir die reis- en verblyfkoste van die ringsdosente.
Ringe is welkom om meer as een leraar te nomineer, maar neem dan self
verantwoordelikheid vir die koste verbonde aan die opleiding van ‘n verdere
leraar(s). ‘n Volledige skrywe hieroor is reeds aan elke ringskommissie gestuur.
Vrae? Rig
julle vrae asseblief aan dr Jan Viljoen by da@ngkok.org, tel 041 365-3159, faks 041
365-3156. Bo
Die
Gereformeerde Siening van Belydenis
Prof Dirkie Smit het ‘n uiters leeswaardige
artikel geskryf oor die Gereformeerde siening van belydenisskrifte. Wat hierdie
artikel so belangrik maak, is die huidige debat oor die aard van belydenisbinding in die Gereformeerde tradisie. Vir ons
gesprek oor die Belhar-Belydenis is dit bv van groot
belang. Klik hier
om die dokument te lees. Bo
Die NG Kerk en Gay-verbintenisse
Die
voorlegging van die NG Kerk aan die parlementêre portefeuljekomitee rondom die
sg huwelikswet het wyd opslae gemaak.
Ds Hansie Schutte,
voorsitter Sinodale Kommissie van ons sinode, lewer die volgende kommentaar oor
die voorlegging:
Die berig in DIE BURGER (Woensdag 18
Oktober) oor die NG Kerk se voorlegging oor die Konsepwet vir Burgerlike
Verbintenisse aan ‘n Portefeuljekomitee het sommige ampsdraers en lidmate van
die Kerk verwar. Amptelike verklarings wat daarna gevolg het, vanaf die kant
van die Algemene Sekretaris asook die Moderatuur van die Algemene Sinode, het
ongesiens by sommige onrustiges verbygegaan. Skrywers
in die briewekolom van die koerant lug sedertdien hul
onsekerheid en ontsteltenis.
Die volledige voorlegging en begeleidende
brief is in Afrikaans sowel as Engels by die kantoor van die Algemene Sinode (algemenesinode@ngkerk.org.za) asook op die Kerk se
webwerf (www.ngkerk.org.za) beskikbaar. Verontrustes kan
baat vind deur dit met aandag te bestudeer.
Ondubbelsinnig word die Kerk se standpunte
gestel :
-
Die Woord van God het vir ons die hoogste gesag, en die Grondwet van die land
is nie vir ons gelykstaande aan die Bybel nie
-
Die Kerk bevestig die beginsel van die gelykwaardigheid en menswaardigheid van
alle mense, en dat die Grondwet dit moet beskerm
-
Vir ons as Gereformeerdes is die erkenning van die huwelik tussen een man en
een vrou onverhandelbaar
Die verslag praat konsekwent van die
verbintenis tussen mense van dieselfde geslag, en nooit van daardie
verbintenis as ‘n huwelik nie. Dit opsigself
sê tog duidelik dat die Kerk nie met sy voorlegging so ‘n verhouding bekragtig
nie.
Natuurlik is daar in die Gereformeerde kerkwêreld (en trouens ook in ander tradisies) tans ‘n
debat aan die loop oor homoseksualiteit, en verskil mense (soms hewig!) oor die vraag
of mense van dieselfde geslag in ‘n verhouding van liefde en trou legitiem
verbind mag word. Die NG Kerk self worstel tans met die vraag of al die bybelstekste wat tradisioneel gebruik is om
homoseksualiteit as sonde af te wys, regtig daaroor handel. Die Sinode van 2007
sal hieroor uitsluitsel moet gee.
Intussen versoek die Kerk die staat om die
Huwelikswet grondig te hersien, aangesien dit tans nie voorsiening maak vir die
huwelike van Moslems, Jode, Hindoes, Boeddhiste en tradisonele
Afrika-godsdienste nie. En aangesien die
Konstitusionele Hof reeds (einde 2005)
opdrag gegee het dat die Huwelikswet uitgebrei moet word om die verbintenis
tussen mense van dieselfde geslag in te sluit, en die tyd die huidige proses
gaan inhaal, raai die NG Kerk die Portefeuljekomitee aan om intussen al
bogenoemde huwelike en verbintenisse in die bestaande wetgewing tuis te bring,
om dan later met omsigtigheid en ná konsultasie met al die belanghebbendes die
Wet te herskryf. Die versoek is dat hierdie ‘n interim reëling sal wees, en die
Kerk behou haarself die reg voor om ter gelegener tyd haar insette te maak.
En dit is waarom dit nou gaan. Bo
My Droomkerk
Ds Hansie Shutte
het ook ‘n pragtige uiteensetting van sy droomkerk
geskryf. Dit
is op ons webblad beskikbaar. Hy droom oor die eietydse Bybelse gestaltes
van die kerk wat aan die Here gehoorsaam en vir Hom bruikbaar is. Bo
Matriek Wegbreek saam met Xtreme Actventures 26 Nov -3 Des
2006
Dis
die 3de jaar wat hierdie uitsonderlike geleentheid aan Skoolverlaters gebied
word. (Rom 12:2) [Transforming you from the
ordinary to the extra-ordinary ]. Vir ‘n
volle week beleef hulle ‘n unieke Wegbreek ervaring teen net R1,000 vanaf
Uitenhage, via Patensie en die Baviaanskloop, na Oudthoorn, Calitzdorp, Buffelsbaai
en Tsitsikamma Falls. Van die heerlike saamdoen
dinge, behels o.a. Paintbsall, Abseil,
Booskiet, Kompas & Vlotbou,
Bergfiets, Kayak en Snorkelduik, Ziplines,
ens. Bring dit asb. spoedig onder die aandag van u Matrieks van vanjaar en
plaas dit ook in u Sondagbulletin. Navrae vir meer
besonderhede en ‘n aansoekvorm by Ds Danie Nel (Uitenhage) Tel/Faks:
041 9925645 Sel: 083 650 3282 Epos: danienel@absamail.co.za
of by Ds Johan Enslin (Addo) 082-7767817 Epos: jenslin@xsinet.co.za Bo
Paidion Kinderbediening-Werkswinkel
Saterdag, 18 November 2006, AGS,
Kensington, PE
Die beste uur in die kind se
week!
'The human mind, once stretched
by a new idea, never regains its
original dimensions.' O W Holmes
Aangebied deur:
PAIDION KINDERBEDIENING
082 574 0708 • paidion@paidionweb.co.za • www.paidionweb.co.za
'n Kind is net in die eerste 12 jaar van sy lewe in sy kinderfase. Die res van sy lewe word daarop
gebou! En as hierdie eerste 12 jaar verby is, kan hierdie fondament
nie weer oorgelê word nie! Ook nie wat sy belewing van die kerk
aanbetref nie. As 'n gelowige 'n passie vir kinders en hul toekoms
het, behoort hy daarom 'n passie te hê om kinders se belewenis by die kerk op
'n Sondag die beste uur in hul week te maak!
Jy word daarom na 'n werkswinkel oor die beste akkommodering
van die kind in die erediens en kategese uitgenooi.
Die werkswinkel begin in die eerste sessie met 'n noodsaaklike,
prinsipiële stimulus, waarna ons baie prakties raak. Ons vertrou dat
jy dit, soos alle vorige persone, as vars, verruimend en verrykend sal beleef!
Die program lyk soos volg:
|
08:15-09:00 |
|
Registrasie |
|
09:00-09:15 |
|
Opening,
verwelkoming & toewyding |
|
09:15-10:30 |
Tema 1 |
Wat is die
fondament vir die beste uur in die kind se week? |
|
10:30-11:00 |
Tema 2 |
Wat is die
beste manier vir die beste uur in die kind se week? |
|
11:00-11:30 |
|
Verversings |
|
11:30-12:30 |
Tema 3 |
Hoe lyk die
beste uur in die kind se week? |
|
12:30-13:00 |
Tema 4 |
Hoe lyk die
materiaal vir die beste uur in die kind se week? |
|
13:00 |
|
Afsluiting |
Werkswinkelleier
Danette le Roux
•
Oud Preprimere Onderwyseres (14 jaar)
•
Tans onderwyseres by Laerskool Stulting, Humansdorp.
•
2001 - Voltooi Paidion UNISA Sertifikaat (Topleerder)
•
2002 - 2006 Asseseerder van werkstukke –Paidion UNISA Sertifikaat leerders.
•
2002 - 2006 Asseseerder by praktiese evaluering van
bg. leerders.
•
Sedert 2002 betrokke by verskeie gemeentes se vestiging van Kinderbediening.
Koste & Betaling
•
R 50/ persoon.
•
Betaling slegs kontant of per tjek.
•
Tjeks moet uitgemaak word aan: D le Roux
•
Betaling geskied op 18 November 2006, tussen 08:15-09:00, met registrasie.
•
Kwitansies sal met betaling uitgereik word.
Navrae & Inskrywings na:
Mev
Danette le Roux
•
Tel: (042) 293 4169
•
Sel: 073 015 8702
•
E-pos: vlakte@grasslands.co.za
•
Faks: 086 675 4016
•
Posadres: Paidion Kinderbediening
Werkswinkel, Posbus 1968, Noorsekloof,
Jeffreysbaai, 6331.
Inskrywings (Voor of op 13 November
2006) asseblief. Bo
Van: Strauss de Jager, NG Kerk
Albanie, 083 633 0881; 046 622 4598
Die Albanie gemeente is gestig in 1831, waarskynlik te
Grahamstad, waar die eerste kerkraadslede bevestig is en die eerste
kerkraadsvergadering ook gehou is. Maar in 1840, na die vertrek van baie
lidmate na die Noorde, het Riebeek-Oos die nuwe sentrum vir die gemeente
geword, met Mooimeisiesfontein van die trekker Piet
Retief, wat as kerkplaas aangekoop is. Eers in 1916
is ‘n gemeente te Grahamstad afgestig van die Albanie moedergemeente en op 31
Maart 2000 is moeder en dogter weer herenig. In 1970 is 'n militêre gemeente
afgestig, Grenspos, wat weer einde 1995 by Grahamstad ingelyf is. Die gemeente
langs die kus, Dias, is in 1981 afgestig, deels van Grahamstad en deels van
Alexandria. En in 1990 is 'n hele groep lidmate van die destydse NG Sendingkerk
as lidmate opgeneem, na ontmoetings en gesprekke met lidmate self en 'n
afvaardiging van die Gelvandale gemeente, vanwaar hulle destyds bedien is. Ongeveer
800 belydende en 280 dooplidmate is tans deel van die gemeente, met drie preekpunte: te Grahamstad, Riebeek-Oos en Fonteinskloof. Die huidige leraars is Strauss de Jager en Charlene van der Walt.
Die naweek van 18 /19 November bereik die 175-jarige
vieringe 'n hoogtepunt, met 'n feesprogram waar ALMAL WELKOM IS!
Saterdag 18
November
11:00 Feesprogram te Riebeek-Oos: kore
tree op; geselsprogram (Stoepstories!) oor ou
dae; springkasteel, ponieritte
vir kinders
12:30 Skaap spitbraai-ete
13:30 Basaar (al die basaar heerlikhede, en les bes:
‘n unieke afvolpotjie!)
14:00 Veeveiling
Sondag 19 November
09:00 Feesdiens te Grahamstad.
Prediker: prof Jaap Fürstenberg, oud-leraar; Nagmaal, Doop en lidmaatsbevestiging;
Kerkkoor
Gedenkartikels
Resepteboek met beproefde treffers van gemeentelede,
saamgestel deur Jo Hoole
(R50)
Gedenkglase met inskripsie (R15)
Navrae: Jo Hoole,
sameroeper van komitee, 046 622 7716; 083 501 8816 Bo
Bekendstelling:
Venootskap vir Gestuurde Gemeentes
Die SA Vennootskap vir Gestuurde Gemeentes help gemeentes op ‘n
praktiese, weldeurdagte wyse om die skuif te maak van instandhouding na missie
of gestuurdheid. Dit is ‘n weldeurdagte proses wat op
‘n baie diep vlak - die vlak van ons oortuigings oor God, onsself as sy kerk en
ons roeping - ‘n gemeentewye energering
tot gestuudheid te weeg bring. Die eerste geslag
gemeentes is deur die proses en wonderlike getuienisse word gehoor.
‘n Bekendstellingsgeleentheid
van die Vennootskap word op Maandag, 13 November, om 10:30 te PE-Hoogland Gemeente, Charlo,
Port Elizabeth gehou. Klik hier
vir ‘n kaart om by die gemeente uit te kom.
Navrae: Danie Mouton, tel 041 368-1832, 082 9234 178, danie@pehoogland.co.za.
Besoek gerus ook www.missionalchurches.org.za vir meer
inligting Bo
Johan
Gouws, leraar van die SA Gemeente in Londen, skryf as volg:
31 Oktober 2006
Groete vanuit ‘n koue Engeland!
Soos die
jaar einde se kant toe begin staan, is daar regoor Suid-Afrika ‘n klomp
opgewonde (en senuweeagtige…) jongmense wat weet dat die tyd nader kom vir
hulle om die tassies te pak en die son en see van Desembers te verruil vir die
serp en sneeu van Engeland!
Vir baie
is dit die wegbreek geleentheid waarna hulle al jare uitsien. Vir ander is dit
‘n nuwe begin. Sommige soek bloot net avontuur en opwinding!
Hoe dit ookal sy, ons hier by SA Gemeente sien uit om die nuwe
familielede hier te verwelkom!
Ons kry
soveel vrae van mense wat wil oorkom Engeland toe, maar nie weet of hulle ooit
weer op ‘n Sondag ‘n Afrikaanse preek hier gaan hoor nie… Sommige wonder weer
of hulle kinders darem na ‘n Bybelstorie in hulle moedertaal sal kan luister.
Daarom
voorsien ons graag vir julle meer inligting van SA Gemeente in Engeland aan om
asseblief by julle dienste te versprei oor November, Desember en Januarie –
indien enigsins moontlik.
Die Word
dokument (klik
hier) is so geskryf dat hy as geheel of gedeeltelik gekopieer en in ‘n afkondigingsblaadjie of nuusbrief geplaas kan word.
Die PDF
dokument (klik
hier) is meer spesifiek om gedruk te word of om verder per e-pos aangestuur
te word.
Sou daar enige
navrae van enige aard oor SA Gemeente wees, kontak ons gerus – ons help graag!
Baie groete,
Johann Gouws
SA Gemeente London
49-51 Shoe Lane
London
EC4A 3BL
+44 (0)207 353 6124
+44 (0)207 353 5927
info@sagemeente.com
Sesde verdieping se knoppie buite werking. Druk asseblief knoppies
4 en 2 gelyk.
Ek is...
Ek
is so ontspanne, ek kan ‘n krokodil borsvoed.
Die boer se vyjarige sien vir die eerste
keer hoe sy pa een van die koeie help kalf. Die boer besef dat hy nou dalk sy
eerste toespraak oor die bytjies en die blommetjies sal moet hou. "Enige
vrae?" vra die boer. "Net een", sê die kind. "Hoe vinnig
het daai kalf getrek toe hy die koei getref het?"
Die fisika prof is besig om 'n moeilike konsep aan sy mediese
studente te probeer verduidelik toe 'n knaap vra: "Hoekom moet ons hierdie
gemors leer?" "Fisika red lewens" sê die prof. "Hoe kan
Fisika lewens red?" vra die voorbarige student weer. "Vir een
ding," antwoord die proffie '... dit keer dat idiote dokters word!"
Hier kort duskant middernag stap Gammat lekker geswaai saam met 'n
nuwe pel straat af. By 'n sekere huis in die straat gaan hy staan. "Sjien djy daai hekkie?" vra
hy swaar van tong. "Disj nou my hekkie
daai." Hy sleep sy vriend saam met hom voordeur toe. "Sjien djy die stoep? Disj nou my sjtoepie die."
Hy stoot die deur oop en sleep die pel deur die voorportaal, gang af. "Sjien djy die badsjkamer?
Disj nou my badsjkamer
die." By die slaapkamer aangekom, stoot hy saggies aan die halfoop deur en
se: "Sjien djy nou die
double bed? Disj nou my double bed daai. En sien djy die vroutjie daar op die bed? Dis nou my vroutjie.....
En sjien djy daai outjie
daar langsj haar? Disj nou
ekke."
Pa: "Sies, Jannie, jy gedra jou nes 'n otjie!" Jannie
kyk verbaas na sy pa. "Weet jy wat 'n otjie is?" vra Jannie se pa.
"Ja, Pa," antwoord Jannie. "Dis die seuntjie van 'n vark."
Hoekom het skepe altyd vroulike name?
Want hulle het rompe.
'n 30 jarige man nader 'n ou tannie in 'n rocking
chair op haar voorstoep.
"Ek kon nie help om
te sien hoe gelukkig tannie lyk nie. Wat is tannie se geheim vir 'n so 'n lang,
gelukkige lewe?"
"Ek rook 3 pakkies
skywe 'n dag", se sy "en maak 'n paar stywe kappe brandewyn om die
dag te begin. Voor ek gaan slaap rook ek 'n groot zol dagga. Verder drink ek 'n
bottle Jack Daniels elke weeksaand en eet net junk food. Ek drink ook hectic baie
pille elke naweek en doen geen oefening nie."
"Dis absoluut amazing tannie", se die man verstom, "hoe oud is
tannie?"
"Vier-en-twintig"
Mans is soos winkelwors
Selfs die bestes
het 'n bietjie vark in.