OosKaap eNuus
Visie: Een,
heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges
Jaargang 4
- Nommer 7 - 24 Julie 2006 -
nuus@ngkooskaap.co.za
INHOUD
Verbondsverbintenis tot Hereniging
van die Familie van NG Kerke
Vigsbewussyn en kruis-kulturele
kommunikasie
Kobus Jonker oor
dwelmafhanklikheid en okkultisme
Missie Japan Streeksvergadering
– met Tobie de Wet
Kritiese vrae van ‘n kerkraad oor Heartlines
Heartlines: Reaksie op kritiese vrae
Kursus in Fasiliterende Leierskap
ProChristo Korttermyn Uitreik na die Kore-Kore in Zimbabwe
Lees gerus ook die twee aanhegsels. Die eerste is ‘n
artikel van prof Piet Naudé wat oor die bekende en begaafde teoloog Moltmann
handel, en die tweede is die nuusbrief van die Fakulteit Teologie aan die
Vrystaatse Universiteit.
Verbondsverbintenis tot Hereniging
van die Familie van NG Kerke
Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG
Kerk, skryf (na aanleiding van ‘n gesamentlike vergadering van die Algemene
Sinodale Kommissie van die VGKSA en die Moderamen van die NG Kerk aan die einde
van Junie 2006): “Die Here het die ontmoeting tussen die ASK van die VGKSA en
die ASM van die NG Kerk wonderlik geseën! Kerkhereniging het nuwe lewe en
momentum gekry!”
In ‘n gesamentlike verklaring wat
sedertdien uitgereik is, word die verhaal soos volg vertel:
Die Algemene Sinodale Kommissie van die VGKSA en die Moderamen van die NG
Kerk (die uitgebreide uitvoerende
komitees) het die afgelope drie dae saam vergader om te praat oor die
herenigingsproses van die Familie van NG Kerke.
Dit was ‘n historiese byeenkoms – die eerste keer dat so ‘n groot groep
uit die leierskap van die twee kerke saam vergader het.
Ons het by die vergadering gou
bewus geraak van ‘n nuwe gees van versoening, samehorigheid en ‘n bereidheid om
uit te reik na mekaar. Ons het ervaar
dat ons almal nederiger is, meer bereid is om na mekaar te luister en gretig is
om mekaar te help op die pad van hereniging.
Ons het ook ‘n nuwe dringendheid bespeur dat ons nie langer met die saak
van hereniging kan sloer nie.
Tydens die eerste sessie van
die byeenkoms het die leierskap van die NG Kerk weereens om verskoning gevra
vir die pyn en hartseer wat hulle die VGKSA en sy lidmate in die verlede aangedoen
het. Hierdie belydenis is met groot
ontroering deur die VGK leierskap aanvaar – ’n daad wat die toon vir die
verdere verloop van die vergadering aangegee het. Op die laaste dag het die VGK leierskap op
hulle beurt om verskoning gevra vir die pyn wat hulle die NG Kerk aangedoen
het. Die NGK leierskap was hierdeur diep
geraak het en het die verskoning in nederigheid aanvaar. Hierdie gees van versoening en openheid
teenoor mekaar is bevestig in ’n viering van die Nagmaal aan die einde van die
vergadering.
Ons is die Here diep dankbaar
vir hierdie nuwe gees onder ons. Ons
weet dit kom van Hom.
Ons het aan die einde van die
vergadering onsself as leiersgroep eenparig verbind om – in lyn met die wens
wat ons onderskeie kerke by verskillende geleenthede uitgespreek het – ons
kerke daadwerklik te begelei in ‘n proses van eenwording. Ons beoog om die proses binne drie jaar te
voltooi.
Ons gebruik die woord
verbondsverbintenis met huiwering - wetende dat verbond ‘n groot woord in die
Skrif is. Ons doen dit omdat ons onsself
en die proses van eenwording, onder die gesag van die woord van God en die wil
van Christus wil bring. Ons maak die
verbintenis nie uit onsself nie en ook nie onder die druk van politieke en sosiale
prosesse nie, maar doen dit omdat ons glo dat die Here wat Homself in genade
aan ons verbind het dit van ons vra.
Ons stel in die vooruitsig ‘n
nuwe, organies-verenigde, gereformeerde kerk, georganiseer volgens
sinodaal-presbiterale beginsels, wat
missionêr leef en verbind is aan die Bybelse opdragte van liefde, versoening,
geregtigheid en vrede. Ons is
tegelykertyd verbind aan nie-rassigheid en inklusiwiteit en aan die aanvaarding
en viering van ons multikulturele samestelling.
Die verskillende tale wat in ons kerke gepraat word, sal gekoester word.
Vanuit ons gesamentlike geloof
in die Drie-enige God van die Bybel wil onsself opnuut verbind aan die
kontinent waar die Here ons geplaas het – Afrika, en in besonder
Suider-Afrika. Ons wil ons roeping hier
saam opneem en ‘n verskil probeer maak aan die lewensbedreigende probleme wat
ons lande in die gesig staar. Ons
verbind onsself om as deel van ons verkondiging van die evangelie ook saam te
werk aan
* die bestryding van armoede
* bystand en steun aan weerloses
en siekes (soos MIV en Vigslyers),
* die vestiging en uitbouing van
die morele waardes van die Woord,
* die bevordering van geregtigheid
teenoor alle mense
* versoening wat meer is as blote
toleransie van mekaar
* en aan die beëindiging van alle
soorte geweld in ons samelewing.
In die gees van versoening en
ondersteuning van mekaar op die weg na hereniging het die ASK van die VGKSA die
oortuiging uitgespreek dat die hantering van die Belharbelydenis nie ’n
struikelblok in weg van hereniging moet wees nie. Hulle volledige besluit lui as volg: Ons
aanvaar die uitdaging om binne drie jaar een verenigde kerk te wees. In die verband mag die Belhar Belydenis nie
as voorwaarde vir eenheid geld nie. Die
boodskap van Belhar sal steeds vir ons die inspirasie en gids wees vir beide
die proses tot en die formasie van die nuwe kerk. In lyn met die besluite van beide die kerke
sal die Belydenis van Belhar ’n volwaardige belydenisskrif van die nuwe kerk
wees en sal ons saamwerk om die kerk te help om te groei tot ’n volledige
aanvaarding van die belydenis. Ons sal
die besluit vir volledige goedkeuring na ons volgende sinode neem.
In hulle reaksie op die
verklaring van die VGKSA het die leierskap van die NG Kerk hulle diepe waardering
en dankbaarheid vir die dapper besluit uitgespreek en die VGK verseker van
hulle vaste verbintenis aan die Bybelse opdragte van eenheid, geregtigheid en
versoening, die drie groot temas van die Belydenis van Belhar. Die NGK se
leierskap is van mening dat hierdie verklaring van die ASK van die VGK die
standpunte van die twee kerke oor die Belhar Belydenis feitlik in lyn met
mekaar bring.
In die proses van eenwording
verbind ons onsself om daadwerklik aan die volgende sake aandag en uitvoering
te gee:
- die daarstelling van eenheidsbedienings op grondvlak waar gemeentes die
begeerte het en gereed is daarvoor
- dit moontlik maak vir gemeentes, ringe en sinodes wat gereed is
daarvoor om te verenig
- die aanpak van gesamentlike projekte waardeur ons uitvoering gee aan
ons roeping soos bo geformuleer
- die skep van geleenthede vir ons lidmate om mekaar beter te leer ken,
mekaar se vrese en drome te hoor, mekaar se geloof en hoop te deel en ook oor
ons verskille te praat en ons vooroordele te oorkom
- dringend aandag te gee aan die hofsake in die Vrystaat, Phororo en elders
en alles moontlik te doen om die groepe tot versoening te bring buite die hof
deur middel van ‘n gestruktureerde versoeningsproses
- te werk aan aanvaarbare wyses waarop sake wat te doen het met die
Belydenisbasis, kerkorde en administrasie van die nuwe kerk hanteer kan
word.
- ‘n behoorlike proses uit te werk waardeur gemeentes en lidmate ingelig
kan word oor die eenheidsproses en al sy implikasies en die geleentheid kry om
daarop te reageer
Die leierskap verbind hulself
om gereeld saam te vergader, sover moontlik saam besluite te neem en saam op te
tree - as ’n konkrete uitdrukking en simbool van ons verbintenis aan mekaar en
aan die eenwordingsproses.
Hierdie verbondsverbintenis het
gegroei uit bilaterale ontmoetings van die leierskap van die VGKSA en die
NGK. Ons begeer en bid dat die twee
ander kerke van die familie van NG Kerke so gou as moontlik deel sal word van
die proses. Die familie sal nie heel
wees sonder hulle nie. Ons sal sou gou
moontlik met hulle in verbinding tree hieroor.
Ons wil ook die hoop uitspreek
dat ons eenwording ‘n tree kan wees in die rigting van ‘n die vorming van ‘n
groter verenigde gereformeerd- presbiteriaanse kerk in Suider-Afrika.
Namens die Moderamens / Algemene Sinodale Kommissies van die VGKSA en
NGKSA
Thias Kgatla, Coenie Burger, Allan Boesak, Kobus Gerber, Collin Goeiman
en Nelus Niemandt Bo
Vigsbewussyn en
kruis-kulturele kommunikasie
Hanneke Friedl, Jeugproponent
vir die gemeentes Cradock-Oos, Cradock-Noord, Cradock Moedergemeente en Hofmeyr,
vertel die volgende:
Gedurende die naweek
van 8-10 September 2006 het ons in die sinode van Oos-Kaapland 'n tot nog toe
unieke geleentheid om deel te neem aan 'n toerustingsgeleentheid wat aan ons
nuwe kennis en vaardighede rondom Vigsbewussyn en kruis-kulturele kommunikasie
gaan gee. Geaffilieer met die Hugenote kollege in Wellington is daar buro's vir
kruis-kulturele kommunikasie en Vigsbewussyn, en Dr Ryk van Velden en Ds. Nelis
du Toit van dié twee instansies kom op Vrydag 8 September 'n werkswinkel op
Jeffreysbaai aanbied. Die werkswinkel sal bestaan uit 'n inligtingsessie oor
kruis-kulturele kommunikasie van 10h30 tot 11h30 die oggend, gevolg deur 'n
gespreksgeleentheid en middagete. Van 13h00 tot 16h00 volg 'n vigs-werkswinkel.
Hopelik gee hierdie programindeling aan soveel as moontlik predikante
geleentheid om die werkswinkel by te woon, omdat dit poog om ruimte te
laat vir reistyd na en van Jeffreysbaai.
Ons sal bly wees as u in die komende twee
weke, d.w.s tot Maandag 7 Augustus, u belangstelling te kenne kan gee aan
hierdie adres: hak1friedl@telkomsa.net
Die finale reëlings t.o.v. die lokaal en
(minimale) kursuskoste sal dan, na gelang van die getal belangstellendes, in
die week van 7 tot 14 Augustus afgehandel word en aan u deurgestuur word. Van
14 tot 21 Augustus het u die geleentheid om u bespreking te finaliseer – en in
hierdie week kan enige verdere belangstellendes ook graag nog inskryf. Ons gaan
probeer om die kostes tot die uiterste toe te minimaliseer ('n bedrag tussen
R50 en R100 word in die vooruitsig gestel), en betalings kan op die dag self
hanteer word.
Vir gemeentes in die nader
Jeffreysbaai-omgewing (bv. uit die ringe van Humansdorp, Algoa en Port
Elizabeth) is daar verder die geleentheid om Dr. Ryk van Velden op Saterdag 9
September te nooi vir enige vorm van toerusting. U kan hier dink aan deelname
van verskillende persone in u gemeentes of ringe, bv. predikante, leiersgroepe,
vrouegroepe, jeuggroepe e.d.m., aangesien sy werk oor verskeie velde strek.
Op Sondagoggend 10 September is Ds. Nelis
du Toit beskikbaar vir enige gemeente in dié omgewing wat graag in 'n
eredienskonteks meer aandag aan die brandende tema van Vigs in ons land sou wou
gee.
Indien daar predikante van die verder-geleë
gemeentes is wat oornaggeleentheid vir Donderdag- en/of Vrydagnag benodig, kan
ons dit ook op Jeffreysbaai reël. Die uiteindelike inskrywingsvorm sal plek hê
om dit daarop aan te dui, maar dui dit asseblief ook reeds in u voorlopige
antwoord aan t.w.v. ons beplanning.
Vir navrae oor elkeen van hierdie dae,
kontak my, Hanneke Friedl, asb. by 048-881-3388 of 082-580-8753 of hak1friedl@telkomsa.net
Ek sien uit daarna om van u te hoor, en bid
dat hierdie naweek 'n besondere groeityd vir elkeen wat deelneem, sal word! Bo
Kobus Jonker oor
dwelmafhanklikheid en okkultisme
Wimpie Kritzinger van Jeffreysbaai-Gemeente laat die volgende weet:
Die NG Gemeente Jeffreysbaai
het vir Dr Kobus Jonker, bekende spreker en kundige op die gebiede van
Dwelmmiddel afhanklikheid en Okkultisme, genooi om die naweek van 3 tot 6
Augustus 2006 by ons te kom kuier.
Die beplanning is DV dat Kobus Donderdagaand ‘n gesprek sal hê
met ouers en grootouers. Hier sal hy vrae beantwoord en kennis deel met die
volwasse groep. Vrydag oggend sal hy skole besoek en dan gesprekke hê met Graad
6 en 7 leerlinge. Vrydagaand besoek hy ons Tienerbediening(EPIC), dus Gr 8 tot
12. Sondagoggend sal hy tydens die Formele Eredienste(8:00 by die Kompleks en
10: 30 by Da Gama kerk), gesels en dan Sondag aand die Jeugdiens om 18:00 in
die kompleks. Hierdie diens is veral gerig op die mense onder 30.
Ons sou graag Vrydagmiddag
tussen 15:00 en 17:00 ‘n werkswinkel wil aanbied vir Predikante, Pastore,
Geestelike werkers, Jeugwerkers, Mediese Dokters, Maatskaplikke werkers,
Onderwysers, of enige professionele persone, wat as hulpverleners werk met
kinders wat dwelmmiddels gebruik en/of by okkultisme betrokke is. Hy sal dan
met ons praat oor Identifisering, Verwysings en Nasorg. Die werkswinkel sal
plaasvind by die Kompleks van die NG
Gemeente van Jeffreysbaai. Dit kos R50, 00 per persoon.Ons sal spoedig na
inskrywing aan u meer inligting verskaf. Almal wat belangstel in die
werkswinkel word gevra om Wimpie Kritzinger te skakel nie later as Vrydag 27
Julie 2006. (Sel: 082 672 3332, Huis: 042 293 2540) Bo
Missie Japan
Streeksvergadering – met Tobie de Wet
Van Wikus van der Walt, leraar van die RCA Malabar en sturende gemeente
van Tobie en Annalie de Wet, verneem ons die volgende:
Liewe broers en susters,
Ons nooi julle uit om te kom saam bid en gesels oor Missie Japan. Ons
gaan kyk na waar ons huidig staan en na die pad vorentoe.
Tobie en Annalie de Wet gaan
waarskynlik in ‘n nuwe veld in Japan begin werk en ons wil graag julle insette
rondom die hele Missie Japan bediening hoor. Kom ervaar ook meer oor wat die
Here deur ons daar wil doen. Ons gaan lekker saam eet en kuier met die De Wets.
Dit sal heerlik wees om julle te ontmoet en beter te leer ken.
Hieronder word al die
besonderhede saamgevat:
Missie Japan
Streekvergadering
Tobie en Annalie de Wet met afgevaardigdes van die Reformed Church in
Japan
en Oos Kaap gemeentes en ondersteuners.
Saterdag 19 Augustus 2006
Plek: Calvary Reformed Church Malabar PE (padaanwysings hieronder).
Tyd: 9 uur.
Bevestig asb. hoeveel julle sal wees by:
Wikus van der Walt 041 457 4377 / 083 415 9660 / wikus1@absamail.co.za
‘n Heerlike middagete sal bedien word.
Directions
to
N2 West
Turn right to Bethelsdorp
At third set of robots turn left into Beetlestone.
Carry on till T junction and turn right into
Turn right into Oceanview Dr. and then left at nr. 2
Churchbuilding behind manse. Bo
Hans Steyn stuur die volgende berig:
Bybel-Media se nuwe Hoof: Mediabedieninge (Missionêre Gerigtheid):
Dr Hennie van Deventer (van Malawi) is pas in die pos aangestel. Ons is
baie opgewonde en dankbaar dat hy binnekort by ons sal aansluit.
Bybel-Media is bevoorreg om die dienste van ’n bekwame teoloog en iemand
met Hennie se ervaring te verwelkom. Hy sal ook dienste lewer vir die
Christelike Lektuurfonds en die NG Kerk se Diensgroep vir Diensgetuienis.
LIG
Het jy geweet dat jy té goed kan wees vir jou kind? Dink jy dit is nog 'n
goeie idee om te trou of is saambly dalk eerder die antwoord op ons hoë
egskeidingsyfer? En megakerke ... is groter noodwendig beter? Die
Augustus-uitgawe van jou Afrikaanse Christelike Gesinstydskrif, LIG, gee
antwoorde op hierdie vrae.
In dieselfde uitgawe vertel Chris Chameleon (7de Laan se
"Liam") waarom hy "chameleon" is en lesers kry die
geleentheid om Chris se jongste CD, 7de hemel, teen die weggeeprys van R89,50
te bestel. Om die uitgawe af te rond, is daar 'n kaggelvuurgesprek oor die
(her)vestiging van waardes in ons samelewing. Sien jy kans om 'n bydrae te
lewer? Kry nóú jou kopie van LIG - en ontdek die ware Lig!
Bedieningsvennoot!
Werk dit regtig?
Sedert Maart vanjaar het ek besondere reaksie op die e-nuusbrief ontvang.
Baie dankie vir jou terugvoer; die boekbestellings wat geplaas is; die
waarderende reaksie vir die noodsaaklike inligting wat deurgegee is; die
preekbeurte wat gereël kon word, is van die dinge wat vir ons hier by
Bybel-Media bevestig dat ons vennootskap verstewig moet word.
Baie dankie dat Bybel-Media met jou kon kommunikeer en iewers hulp kon
verleen. Ons almal by Bybel-Media wil in die toekoms op meer punte tot diens
wees.
Inligting, Navrae
en Diensverskaffing:
Alle bestellings: Skakel 0860 26 33 42 of 0860 BMEDIA (op jou selfoon) –
boeke,
CD’s, DVD’s, kategesemateriaal, inligtingspamflette en katalogi.
Inligting op webwerf: www.bmedia.co.za
Groete uit Wellington en voorspoed vir 2006 se tweede helfte.
Hans Steyn
Hoof: Departement Ontwikkeling
Tel. 021 864 8223
E-pos: hans@bmedia.co.za Bo
Kritiese vrae van ‘n kerkraad oor Heartlines
Van een van die kerkrade in die
Oos-Kaap ontvang ons die volgende kritiese opmerkings na aanleiding van die
eerste episode van Heartlines, die
TV-reeks oor waardes:
Ons as Kerkraadslede het vrae waarop ons eerstehandse
antwoorde soek.
*
WIE is die persone wat die inisiatief hierin geneem het, en WIE VERTEENWOORDIG hulle? (kerke,
regering, ens?) (Dit sluit in wat en wie is die MASS MEDIA PROJECT en HOE het
hulle tot stand gekom en hoe werk hulle INSPRAAK in die kerke se agendas?). Daar
word bloot genoem
“Dit is ‘n inisiatief wat die
kragtige invloed van die media wil gebruik om sosiale issues vanuit ‘n Christelike perspektief aan te spreek deur
Bybelse waardes te bevorder.”
* Daar word verder
genoem “Hulle wil gemeentes aanmoedig om deel
te neem aan die 8 weke – 8 waardes – een landswye gesprek!”
Wie is die “hulle”
wat gemeentes wil aanmoedig, en HOE
het dit tot stand gekom in die eerste plek, dat die NGK ook hierby betrokke
is.?
* Lê POLITIEK nie
maar weer hieragter nie (laat die kerk hom voorskryf deur nie-christelike
regerings inisiatiewe?). Die boodskap wat die film “ The Miners” aan
kerkraadslede gekommunikeer het, behels min of meer die volgende : “ Jy moet bereid wees om ’n
swartseun met jou dogter te laat uitgaan en te laat trou – dis die
“AANVAARDING” wat Heartlines bepleit”
IS DIT WAT DIE HERE VRA, EN WAT DIE NGK (wat hom hiermee op sleeptou laat neem)
VIR GEMEENTES KOM VRA?
* Los WARE bekering
dan nie al hierdie probleme op, omdat mense dan van hul verkeerde weë af
terugdraai en die Woord van die Here navolg nie? (Dus : moet daar nie eerder
“bekering” gepreek word, as “waardes...sonder dat persone bekeer is nie?”
* Daar word geskryf :
“Bid dat hierdie
televisieprogramme ‘n kragtige agent van morele verandering in ons land sal word” maar, sal die
regte MORELE verandering kom, sonder GEESTELIKE verandering? (Nl. Kan ’n
boom die regte vrugte dra, as die wortels nog verkeerd is.? Moet die kerk
“waardes” preek of “bekering” wat outomaties die regte waardes as vrug sal laat
voortbring? Bo
Heartlines: Reaksie op kritiese vrae
Ds Hansie Schutte,
moderator van die jongste Oos-Kaaplandse sinode, reageer soos volg op genoemde
kerkraad se skrywe:
HEARTLINES se
oorsprong lê by 'n toegewyde Christelike jong (blanke) mediese dokter iewers
aan die Rand wat vanweë die aard van sy werk diep onder die indruk van die
morele verval in ons land gekom het
Hy het
'n groepie Christene om hom versamel en sy droom met hulle begin deel, nl om
via die massamedia 'n gesprek rondom Christelike waardes in die land aan die
gang te sit. Genoemde groep het die Christelike kerke vir samewerking en groot
besighede vir finansiële ondersteuning genader.
Persoonlik het hy vroeg verlede jaar by 'n
vergadering van die Algemene Sinodale Moderamen sy droom met die NG Kerk kom
deel en ons ondersteuning kom vra. Intussen het hy die ondersteuning van alle
"groot" kerke vir die projek verkry, asook die finansiële
ondersteuning van etlike mega-maatskappye (Daar is geen finansiele
ondersteuning van enige regeringsinstansie nie, en dit is 'n multimiljoen rand
projek - so bv word alle lugtyd by die SABC gekoop).
Die NG
Kerk ondersteun die projek met groot entoesiasme - dit is wat die ASM betref 'n
projek waarvan die bone fides bo enige verdenking is, en wat 'n uiters
noodsaaklike gesprek stimuleer.
Miskien was die voorbeeld van aanvaarding
in die eerste program ekstreem, en word dit nou deur sommige kykers as kontroversieel
ervaar. Vir my het dit persoonlik nie gepla nie en ek het nooit die som gemaak dat rasgemengde
huwelike aangemoedig word nie. Die Bybelse voorbeelde rondom hierdie saak is
dikwels ekstreem - ek dink sommer vinnig aan die Gelykenis van die Barmhartige
Samaritaan!
Ek
sou persoonlik verskriklik hartseer wees as van ons mense nou weer hierin
verskuilde agendas sien en so die kind met die badwater uitgooi. So mis hulle
'n uiters belangrike saak en gesprek! Bo
Coenie Burger, moderator van die jongste Algemene Sinode, skryf
die volgende oor grondhervorming:
3 Julie 2006
Geliefde Broers en Susters,
Groete in die wonderlike naam van ons opgestane Here, Jesus
Christus.
Die
Moderamen van die Algemene Sinode het by sy afgelope vergadering van 19-22
Junie 2006 kennis geneem van belangrike vrae wat daar by van ons lidmate en
ander groepe is oor die huidige verloop van die Grondhervormingsproses in ons
land.
Ons het in die
gesprek weereens bewus geword van die sensitiewe aard van die saak en dat dit
nie op ‘n enkelvoudige wyse opgelos kan word nie. Dit is ‘n komplekse vraagstuk wat ‘n
langtermynoplossing moet bied vir al die mense wat ‘n hartsverbintenis en
bestaansverbintenis aan grond het. Ons
is ook daarvan oortuig dat die korrekte hantering van die proses van wesenlike
belang is vir stabiliteit en vrede in ons land, vir die sekuriteit van baie
mense en vir die skep van blywende goeie verhoudinge.
Ons
kerk het in 2002 reeds sekere ononderhandelbare bakens vir ‘n konstruktiewe
proses geïdentifiseer.
Grondhervorming moet
·
positief aangepak word as noodsaaklike en integrale deel van die
nasionale versoeningsproses;
·
met sensitiwiteit, omsigtigheid en nugterheid hanteer word;
·
op 'n gesonde landbou-ekonomiese grondslag berus;
·
nie 'n politieke speelbal gemaak word nie;
·
'n gesonde juridiese basis hê;
·
deel uitmaak van 'n omvattende
ontwikkelingsprogram;
·
met ekologiese oorweginge rekening hou;
·
billik en so vêr moontlik markverwant wees;
·
so gou moontlik afgehandel word.
Die Moderamen is tans
dringend besig om die huidige proses aan die hand van die bakens te beoordeel
en sal na ‘n verslag hieroor by ons volgende vergadering in Augustus gedien
het, besluit oor die verdere hantering van die bevindinge. Dit word ook in die vooruitsig gestel dat
lede van die moderatuur die betrokke minister gaan ontmoet.
Intussen wil die
moderamen ons lidmate in die gebiede wat die meeste hierdeur geraak word
verseker dat die hele kerkverband haar hande onder u wil hou in hierdie tyd (1
Kor. 12:26). Ons wil ook herbevestig dat
die kerk ‘n belangrike profetiese taak het en nie sal huiwer om helder en
duidelik teenoor die staat en ander instansies te getuig indien die proses nie
aan die hand van bogenoemde riglyne verloop nie.
Ons is diep daarvan
bewus dat grond, soos alles wat ons het en is, ‘n gawe van God is en daarom bid
ons saam met U dat die Vader van ons lewe u in hierdie tyd sal help om nie moed
te verloor nie, maar om ook in hierdie proses in die naam van Jesus, HOOP te
bring en ‘n VERSKIL te maak! Bo
Maak asb gebruik van hierdie diens wat daar geskep is vir
geloofs-gemeenskappe om die MIV/Vigs pandemie aan te spreek. Omvattende
inligting met onder andere preke oor Vigs is op die webblad www.cabsa.co.za beskikbaar.
Preekhulp vir predikante
CABSA wil graag met 'n weeklikse wenk vanuit die Vigsburo die
kerk tot diens wees. Buvton se Leesrooster, Preekstudies en Riglyne vir
Kategese dien as vertrekpunt.
Die wenk word ook direk per epos gestuur. Teken in op die diens deur 'n
epos aan management@cabsa.co.za
te stuur. Die doel van die wenk is
om te help dat MIV en VIGS op een of ander manier (sinvol) in Sondag se
Erediens ter sprake kom.
Wêreldvigsdag 1 Des 2006
Beplan nou al reeds om 'n erediens die Sondag naaste aan 1
Des (wêreldvigsdag) in te rig rondom hierdie tema en maak sodoende
gemeentelede bewus van die nood en uitdaging wat daar is om as gelowiges
iets te doen. Kry meer inligting op die webblad: www.worldaidscampaign.com Bo
DATE: 18 July 2006
We would
like to invite you as our fellow Christians to engage with us in prayer and to convey
the following to your congregation on Sunday 23rd of July 2007:
The SABC has
unfortunately given final feedback to Radio Pulpit that we will be off FM
completely as from the 1st August 2006. They have not favoured our
request for the extension of our FM broadcast on Radio 2000 and will terminate
our presence completely on 1st August 2006.
We therefore
are calling for a National day of prayer for all Christians on Sunday 23rd
of July 2006 and request the following prayer items:
a) We ask all
Christians to pray for the extension of our broadcast on Radio 2000 until we have
a license (our license application has been submitted to ICASA already).
b) Pray for
ICASA to favour our license application promptly.
These are
the final days of our year long struggle with the SABC about our position on
Radio 2000 and prayers are needed now more than ever. We still gain inspiration
from 2 Chronicles 20 and put our faith in God.
Greetings in Christ. Bo
Kursus in Fasiliterende Leierskap
Hierdie is die
basiese kursus waarop al die ander hoëgehalte opleiding van CFN (Kerk en
gemeenskapsfasiliteringsnetwerk) bou. Dit het ten doel om ‘n fasiliterende
lewenstyl en die nodige vaardighede by deelnemers te ontwikkel wat hulle in tye
van transformasie kan help. Deelnemers word gehelp om hul eie gevallestudies te
ontwikkel van situasies wat gestagneer of vasgeval het. Dié kursus word van
14-17 Augustus in die Oos-Kaap aangebied.
Bo
ProChristo Korttermyn Uitreik na die Kore-Kore in
Zimbabwe
Datum: 18 Sept. – 1ste Okt. 2006
Beskrywing: ‘n Sending blootstellingsuitreik na die
Kore-Kore bevolkingsgroep Noord-Oos van Harare, in samewerking met die
Jesus-Film Span van die Noord-Kaap.
Taal tydens die
uitreik: Engels (en onderling: Afrikaans
waar verkies)
Benodigdhede: Christene wat ‘n hart het vir die onbereiktes
& jongmense wat ‘n lewensveranderende ervaring soek.
Voorbereiding:
Verpligte orïentasie direk voor die uitreik.
Vertrekpunte: Kimberley & Johannesburg
Verwagte
Koste: R2 500.00 p/p vir die twee weke
(afhangende van die wisselkoers & brandstofpryse).
Aansoek:
Vra ‘n aansoekvorm
aan by die PGM kantoor & pos dit voor die 1ste Augustus 2006 aan:
Die uitreikleier
ProChristo Global
Mission
Posbus 2491
KIMBERLEY
8300
Navrae: Ensie Enslin (083 – 296 4472)
Heilandi van
Niekerk (083 – 399 7878)
Tel/Faks: 053 - 832 7837
Epos: pgmsa@telkomsa.net
(Ensie) of: pgmproject@telkomsa.net (Heilandi)
Webblad: http://www.prochristo.org.za
Bo
Die passasier in 'n huurmotor tik die bestuurder op
die skouer om hom iets te vra.
Die
bestuurder gil, verloor beheer oor die voertuig, ry amper in 'n bus vas, jaag
oor die sypaadjie en stop millimeters van 'n winkelvenster af.
Vir 'n paar
oomblikke is alles doodstil. Die drywer sê toe, "Moet dit asseblief nooit
weer doen nie. Ek het my amper doodgeskrik."
Die
passasier vra toe om verskoning en sê hy het nie gedink 'n tikkie op die skouer
sou hom so laat skrik nie.
Die
bestuurder antwoord toe, "Dit is nie werklik jou fout nie. Vandag is my
eerste dag as huurmotorbestuurder. Vir die laaste 25 jaar het ek 'n lykswa
bestuur!!"