OosKaap eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die
gemeenskap van die heiliges
Jaargang 3 - Nommer 10 - 27 Junie
2005 - nuus@ngkooskaap.co.za
Stuur
OosKaap eNuus gerus aan jou
vriende en moedig hulle aan om in te teken.
INHOUD
(Hierdie uitgawe
handel grootliks oor die Algemene Predikantebyeenkoms.
Moet egter nie die opwindende nuus oor die Gemeentedienste-Netwerk miskyk nie.)
Algemene Predikantebyeenkoms
skep energie
Sentreer op Woord en Belydenis
So maak mens met ‘n teologiedosent
wat dwaal
Maak erns met die Bybel se kontekste
Opwindende nuus oor die Gemeentedienste-Netwerk
Wiele
rol vir Buitengewone Sinode
DAGBOEK
Positiewe Ouerskapkursus:
29-31 Julie 2005 - Suurberg
Asof
sy bakterieë was en hy Britse beesvleis teen kamertemperatuur...
Algemene Predikantebyeenkoms skep energie
‘n Werklik historiese byeenkoms van bykans 1,400 predikante van die NG
Kerk het die afgelope week in Bloemfontein daarin geslaag om predikante met
energie te vul, hoop vir die toekoms van die kerk te gee, en momentum te
verskaf aan die groei van ‘n nuwe visie van kerk-wees
op Bybelse voetspoor.
Volgens dr Coenie Burger is die byeenkoms gereël
om predikante se besef van samehorigheid
en eenheid te versterk; ‘n inspirasie
te wees; te praat oor sake wat na aan
die hart lê; en – natuurlik – veral om ons roeping as kerk en dienaars van God te versterk en te vier. “My
groot gebed vir die konferensie is dat die Here met ons sal praat oor ons
roeping. Ek dink nie ons het op die oomblik ‘n duidelike roeping wat ons almal
deel, wat ons saambind en waaroor ons almal saam opgewonde is nie”, het Burger
vóóraf by monde van Kerkbode (24 Junie) gesê. Daarom was die tema, Ons vier ons roeping, so gepas.
Belangrike insette is inderdaad oor ons roeping
gemaak. Miskien een van die heel belangrikste opmerkings het van die hoofspreker, prof Eddie Gibbs van die VSA, gekom: predikante is nie die enigste
geroepenes van God nie, inderdaad het elke lidmaat ‘n roeping. Dit is nie ‘n
geval van leraars wat ‘n roeping het om uit te voer los en teenoorstaande van
die “gewone” gelowiges nie. Ons is almal saam as kerk geroep om vir God tot
diens te wees. Hy noem die gedagte dat slegs predikante geroepenes is the myth of the limited call
en beklemtoon dat hierdie mite te veel verantwoordelikheid op leraars se
skouers plaas. Gibbs vervolg: In preparation for this session I
looked up the word “call” in my bible concordance. In nearly every instance it
relates to the call of the entire people of God –
‘n Duideliker visie op die roeping van die NG
Kerk is besig om uit te kristalliseer. Waar ons in die verlede sterk gedryf is
deur die versorging van hulle wat reeds lede van die kerk is, begin die wêreld
rondom die kerk al hoe meer aandag kry. Dis opvallend hoeveel gepraat word van
die Here wat die kerk stuur na die
wêreld. Die evangelie van Jesus Christus, wat gesê het: “Soos die Vader My
gestuur het, stuur ek julle”, kleur ons selfverstaan
as kerk al hoe meer.
Tekens van ‘n kerk wat haarself toenemend
verstaan as geroep en gestuur vir diens aan almal rondom haar, was opvallend.
Vandaar een van die kleingroepgesprekke waarin die
vraag gevra is of die NG Kerk by ‘n hoofsaaklik Afrikaner-identiteit
moet bly staan of ‘n skuif moet maak in die rigting van almal rondom haar op
grond van die evangelie. Hiervolgens sal almal waarheen die Here die gemeente
stuur, welkom wees en bedien word. Dis beslis te vroeg om van gestuurdheid as
‘n konsensus in die kerk te praat, maar die eerste tekens is reeds daar.
Dit was ook opvallend om te sien hoe
vanselfsprekend dit vir ons geword het dat ons ‘n kerk van Afrika in Afrika is. Ons vroeëre eurosentriese
verstaan van ons teologiese en kulturele identiteit word baie vinnig verplaas
deur die besef dat ons Afrikane is wat met die oog op Afrika geroep is. Waar
ons vroeër dalk op Afrika neergesien het, gewonder het waarom ons regtig (nog)
hier is, en gesukkel het om eienaarskap vir Afrika te aanvaar, het die prentjie
oor die laaste paar jaar radikaal verander. Die Algemene Sinode 2002 se roepingsverklaring het ongetwyfeld ‘n belangrike rol in
hierdie proses gespeel. Tereg het hierdie roepingsverklaring
prominente aandag in die liturgie van die afsluitingseremonie
geniet.
Mense in die greep van God se roeping, het
energie. Na ‘n feestelike paar dae saam, is mens werklik huis toe met ‘n nuwe
verbintenis aan die Kerk en die Here van die kerk.
( Prof Eddie Gibbs
se lesings kan afgelaai word by www.ngkerk.org.za
) Bo
Sentreer op Woord en
Belydenis
Hoewel die konferensie oor roeping gehandel het, was die sterkste
beweging ‘n baie duidelike herverbintenis aan die
Gereformeerde basis van ons kerk-wees. Die Woord en belydenisgrondslag van die kerk het die meeste aandag in
gesprekke gekry – en dis goed so. Niemand gaan tog ‘n toekoms tegemoet sonder
om die mees betekenisvolle en fundamentele, positiewe erfenis uit jou verlede
saam te neem nie. Vir die NG Kerk is dit die Woord en Belydenis. Prof Piet
Strauss het gewys op die belangrike uitgangspunt dat ‘n direkte lyn uit die
Woord en belydenisgrondslag na die kerk se besluite,
handelinge en uitlewing van haar roeping altyd aangetoon moet kan word.
Gereformeerdes het ‘n helder visie op die feit
dat die Here mense verander, lei en stuur deur sy Woord en Gees. Onthou dat
Woord in hierdie sin nie ‘n dooie letter is waaroor ons deur ons verstand (rasionaliteit) beheer uitoefen nie. Dit is in die eerste
plek nie ons wat die Woord verstandelik uitlê, begryp en besluit wat daarin
staan nie. Die Woord is die lewende Woord van God wat deur die Gees ‘n greep op
ons het, ons lewens “uitlê”, stuur en rig – wat vir ons definieer hoe dinge in
hierdie wêreld eintlik in mekaar steek en hoe God ons roep en uitstuur. Bo
Die Burger Oos-Kaap het feitlik
geen dekking aan die Predikantekonferensie gegee nie.
Een van die talle goeie berigte van Neels
Jackson, kerksakeverslaggewer,
(Volksblad, 23 Junie) het nie Die Burger gehaal nie. Dit vertel hoedat die Predikantekonferensie van ‘n verbreding van spiritualiteit
in ons kerk getuig:
BLOEMFONTEIN. -- Van die lied Shout to the
Lord tot vyf minute van stilte was vandeesweek deel van die wyses van
aanbidding waarmee die algemene predikantekonferensie
van die NG Kerk hier ruimte gemaak het vir die uiteenlopende spiritualiteite binne die NG Kerk.
Die
organiseerders het moeite gedoen om die verskillende aanbiddingstyle
in die kerk in die konferensie in te bou.
So is
daar eergisteraand in die kerk van die NG gemeente Kovsiekampus
'n meditatiewe nagmaalsdiens
gehou. Die kerk was taamlik donker met die meeste van die lig wat deur honderde
kerse in die kerk verskaf is. 'n Fokuspunt was 'n groot kruis wat uit talle
kersies gevorm is wat net voor die kansel in die kerk gebrand het.
As deel
van die liturgie kon mense tydens die diens kerse aansteek as simbool dat Jesus
Christus se liefde, te midde van die donker, 'n vuur is wat nie uitgedoof kan
word nie.
Tydens
die diens was daar ook vyf minute van stilte waartydens
mense God se nabyheid kon beleef. Luidens die program weet 'n mens nie altyd
wat om te bid nie, maar die Gees van God pleit vir die mens met versugtinge wat
nie in woorde gesê kan word nie. Die preek was net vyf minute lank en
stemmingsvolle liedere is gebruik wat sangers in 'n klassieke styl gesing het.
Hierteenoor
het gisteroggend se dagopening nader gestaan aan die
charismatiese tradisie met lofprysing wat onder meer deur 'n kitaar en tromme
begelei is. Van die dominees het met hul hande in die lug gestaan en God
onder leiding van 'n voorsanger geloof en prys met liedere wat nie in die kerk
se Liedboek voorkom nie.
Die
vorige oggend se opening was egter meer tradisioneel met Liedboek-liedere
wat gesing is op begeleiding van meer klassieke instrumente soos die tjello en
viool.
Een van
die uitdagings vir die kerk en mikpunte van die konferensie was om 'n gevoel
van eenheid onder predikante te bevorder ten spyte van die uiteenlopende aanbiddingstyle wat hulle in die kerk beoefen. Bo
As deel van die konferensie het die verskillende jaargroepe
wat by die drie teologiese fakulteite afgestudeer het, bymekaargekom vir klasreünies. Vir baie predikante was hierdie een van die
grootste hoogtepunte van die byeenkoms.
Eerstens was dit interessant om klasmaats na
jare weer te sien, en die goeie ou dae in herinnering te roep. In elke
predikant skuil steeds ‘n onnutsige student, en dit was lekker om die
studentepret weer voor jou geestesoë te sien afspeel.
In sommige gevalle is die verouderingsproses iets vreesliks om gade te slaan.
Ander dra hul jare weer baie goed. Maar die goeie chemie van saam-wees is steeds daar.
Tweedens was dit aangrypend om hoogte- en laagtepunte van die bedieningsjare
met mekaar te deel. Voorheen het mens dit dalk nie besef nie, maar daar heers
‘n diep vertrouensverhouding tussen die meeste lede van so ‘n klas. Ons het ons
broosheid met mekaar gedeel, maar veral ook baie stories van hoop.
Derdens het elke jaargroep
sy lede wat nie langer in die bediening is nie. Hulle was uiteraard nie
teenwoordig nie, maar hulle stories is vertel. Party moes uittree weens
finansiële agteruitgang in gemeentes, ander weens verswakkende gesondheid of
dalk ‘n ongeluk; sommige kon dit nie langer uithou met gemeentelede wat die
wêreld vir hulle warm gemaak het nie. Sekeres se huwelike het verbrokkel, en
ander het geleenthede buite die bediening gekry. Party worstel met bitterheid
of gevoelens van mislukking. Baie jaargroepe het ‘n
doelbewuste verbintenis gemaak om hierdie persone op te soek, belangstelling te
toon en bystand te gee. Dit is vanselfsprekend ‘n baie positiewe
ontwikkeling. Bo
So maak mens met ‘n teologiedosent wat dwaal
Prof Malan Nel, een van die sprekers by die Algemene Predikantekonferensie,
is in vraetyd gevra of hy Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood openlik
kan bely. Die agtergrond vir die vraag is natuurlik klagtes oor die inhoud van
die teologiese opleiding wat voornemende predikante ontvang.
Nel het sy geloof in die opgestane Here sonder
meer bely, maar gesê die vraag laat hom intens ongemaklik voel. As daar
vraagtekens oor sy oortuigings was, moes daar lankal ‘n klagte daaroor by die
kuratorium (die kerklike liggaam wat toesig oor teologiese opleiding hou) wees.
Hy het die gesprek oor hierdie saak in die media as “verdagmakery” beskryf.
Prof Piet Strauss het later in die dag ook gewys
op die weg van ‘n amptelike klag as die regte prosedure waar daar kommer oor
die geloof van ‘n teologiese dosent van die NG Kerk bestaan.
Die vraag aan prof Nel was eintlik verstommend.
Enige mens wat aandag gee, sal weet wat Nel se lewenslange oortuigings is. Hy
maak geen geheim daarvan nie. Bloot die luister na wat hy gesê het oor
predikante en die kerk se roeping laat geen ruimte om te twyfel aan sy lewende
verhouding met die opgestane Christus nie. Vanwaar dan die vrae?
Persone wat bekommerd is oor die leersuiwerheid
van dosente, skuld ons nou meer detail. Die tyd is verby dat algemene, vae
opmerkings soos dat “almal nie saamstem oor Jesus se liggaamlike opstanding
nie” enige verdere aandag behoort te kry. Tensy ons nou meer besonderhede kry,
soos wat ‘n spesifieke klag aan ‘n kuratorium noodwendig sal verskaf, moet mens
waarskynlik nie die klagtes as wesenlik belangrik beskou nie. Die gevaar is ook
dat ‘n gebrek aan besonderhede oor spesifieke dosente wat dan sou dwaal, alle
dosente sonder meer onder verdenking plaas.
( Prof Malan Nel se volledige voordrag kan afgelaai word by www.ngkerk.org.za ) Bo
Maak erns met die Bybel
se kontekste
Die Predikantekonferensie het van Open Space Technology gebruik gemaak. Dit werk so: terwyl die
spreker praat, handig enige lid van die vergadering ‘n voorgestelde gesprekstema op papier by die steunspan
in. Die fasiliteerders ontvang die temas en groepeer dit volgens soort. Na
afloop van die lesing word daar dan kleingroepe
gevorm (sowat 30) wat die temas bespreek. Notule word van die gesprekke gehou,
wat dan weer teruggevoer word na ‘n luisterspan wat
die inhoud daarvan saamvat. Op hierdie manier word daadwerklike aandag gegee
aan dit wat vir die vergadering belangrik is. Die getuienis van die predikante
wat aan die einde uitgereik is, is ook langs hierdie weg geformuleer.
Vanselfsprekend sou van hierdie gesprekke oor
dosente wat vermoedelik dwaal, handel. Ek haal in hierdie verband weer ‘n berig
van Neels Jackson aan – nog een van dié wat nie die
Burger gehaal het nie (uit Volksblad van 23 Junie):
DIE neiging na fundamentalisme
in sekere kringe van die NG Kerk is 'n groter gevaar as enige ander dwaling in
die kerk, het prof. Fanie Snyman van die Universiteit
van die Vrystaat (UV) hier op die algemene predikantekonferensie van die NG Kerk gewaarsku.
Fundamentalisme
is volgens Snyman die neiging om die Bybel te
verklaar sonder om die literêre of historiese konteks van die gedeelte in ag te
neem.
Snyman het in 'n tweede bespreking deur 'n wegbreekgroep oor die teologiese suiwerheid binne die NG
Kerk gesê die samelewing is op die oorgang tussen modernisme en post-modernisme, 'n oorgang tussen sekerhede en
onsekerhede.
Dié nuwe onsekerhede laat mense
gryp na die sekerhede wat die fundamentalisme hulle bied. Snyman
het fundamentalisme egter as "die dood in die pot" bestempel. Dit is
volgens hom fundamenteel ongereformeerd. Die kerk
moet erns maak met die literêre en historiese konteks van die Bybel.
Op 'n
vraag of dit fundamentalisties is om te glo aan die liggaamlike opstanding van
Jesus Christus uit die dood en aan sy maagdelike geboorte, het Snyman gesê 'n mens moet ankers hê te midde van die
relatiwiteit. Hy glo dat Jesus liggaamlik uit die dood opgestaan het en hy is
nie skaam daaroor nie. Dieselfde geld die maagdelike geboorte.
Sy
kollega, prof. Johan van Rensburg, het egter gesê daar moenie illusies
bestaan dat almal saamstem oor Jesus se liggaamlike opstanding uit die dood
nie. Daar is teoloë wat dit nie wil sê nie.
Prof.
Piet Meiring van die Universiteit van Pretoria het gepleit dat die debat op 'n
hoë vlak gevoer moet word. "Ons skiet te veel met haelgewere op
mekaar." Hy het die liggaamlike opstanding van Jesus as die kern van die
geloof bestempel en bygevoeg hy weet nie van een van sy kollegas wat dit nie
kan sê nie. Hy het, soos prof. Piet Strauss van die UV
die vorige dag, gevra dat mense wat wel klagtes oor dosente het, dit op skrif
stel en na die kuratorium neem.
Dr. Henk Gous, Wes-Transvaalse
moderator, het gesê sulke klagtes word nie doodgedruk nie. Die kuratorium by
die Universiteit van Pretoria (Tukkies) het geen klagtes teen sy dosente gekry
nie. Hy het gemaan teen wilde bewerings in die media.
Prof.
Malan Nel van Tukkies het ook gister, nadat hy die predikantekonferensie
toegespreek het oor predikante se roeping, per briefie die vraag gekry of hy
die liggaamlike opstanding van Jesus bely. Nel het "ja" geantwoord
(en die daad by die woord gevoeg deur die Apostoliese Geloofsbelydenis op te
sê) maar bygevoeg dat die vraag hom "intens ongemaklik" maak.
As daar
bedenkinge oor sy oortuigings was, moes daar lankal 'n saak daaroor by die
kuratorium gewees het.
Hy het
gemaan dat die gesprek in die media oor dosente se standpunte nie skeurmakery
is nie, maar verdagmakery. Bo
Die Algemene Predikantebyeenkoms het aan die
einde van die konferensie die volgende getuienis afgelê:
Eenduisend vierhonderd predikante van die NG Kerk het die
Algemene Predikantebyeenkoms van 20-22 Junie 2005 in
Bloemfontein bygewoon. Ons het bymekaar
gekom om ons roeping te vier en om nuut na God en mekaar te luister. Dié byeenkoms was ‘n unieke geloofbelewenis Ons
het ervaar dat die Here self ons hier byeengebring het en met ons gepraat
het. Hiervan wil ons graag getuig.
Ons het hier eerlik verhale gedeel oor sowel ons bedieningsvreugdes as ons broosheid. Ons kon met mekaar praat oor seerkry en heelword. Ons het
teenoor mekaar getuig hoe die Here ons daardeur dra en help om ons roeping nuut
te ontdek.
Ons het hier opnuut ontdek dat die
belydeniskarakter van ons kerk vir ons almal kosbaar
is. As predikante van ‘n belydeniskerk wil ons daarom méér erns maak met ons
belydenisskrifte én bly saamdink oor die behoefte aan
‘n eietydse belydenis. Ons staan by die
Bybel as die Woord van God.
Ons bely met oortuiging dat Jesus Christus die opgestane
Here is en dat Hy deur sy Heilige Gees in ons woon en ons vernuwe tot lof van
ons Vader.
Ons
het onsself hier opnuut verbind aan mekaar en aan die kerkverband. Ons wil saam die pad stap aan die hand van
die volgende waardes:
* Ons identiteit as predikante is dat ons bedienaars van
die Woord is.
* Ons wil dien en nie heers nie.
* Lidmate is saam met ons mede-geroepenes. Ons wil leer om hulle meer te vertrou met die
bediening.
* Die NG Kerk is die kerk vanwaar ons ons
roeping uitleef.
* Die kerk is veral die plek waar daar warmte is en
genesing plaasvind.
Ons
het hier bewus geword van die volgende roepingsuitdagings
op ons pad:
* Ons wil geloofwaardig wees deur dit wat ons leer ook te
leef.
* Ons wil ‘n kerk wees wat diversiteit as verryking
hanteer.
* Ons is baie bewus dat die NG Kerk in ‘n multi-kulturele omgewing is en ‘n roeping teenoor almal in
die gemeenskap het.
* Ons wil erns bly maak met die proses van kerkhereniging en heeltyd sensitief wees om vir mekaar
ruimte te skep en begrip te hê op hierdie pad.
Ons is diep bewus daarvan dat die nood en gebrokenheid in
ons samelewing ook ons verantwoordelikheid is.
Hierdie uitdagings vra dat ons nuwe vaardighede aanleer en
ons is bereid om daarvoor toegerus te word.
Ons sien uit na die Seisoen van Luister waar ons dwarsdeur
die kerk nuut na God, mekaar en die wêreld gaan luister.
Ons keer na ons gemeentes terug om met nuwe entoesiasme
ons roeping saam met al ons lidmate te vier. Bo
Opwindende nuus oor die Gemeentedienste-Netwerk
Die Gemeentedienste Netwerk (GDN) van die Algemene Sinode het so pas sy buro-funksie in werking gestel. Vir dié wat nie weet nie, GDN is 'n omvattende een-stop-toegangspunt
tot bedieningshulp vir gemeentes, wat teologies
verantwoord, navorsingsgebaseerd en prakties is. Die
visie is dat gemeentes en gemeenteleiers in Suidelike Afrika GDN as voorkeur toegangspunt tot bedieningshulp sal gebruik.
Hoewel
die diens nog in ’n ontwikkelingsfase is, kan GDN se dienste reeds op 4 maniere gebruik word (met groot
dank aan Bybel-media se bydrae wat GDN en Kruisgewys moontlik gemaak het):
1.
Die tydskrif Kruisgewys word van 2005 af deur GDN uitgegee en is so pas by die Algemene Predikantebyeenkoms gratis uitgedeel aan die NG predikante
wat daar was. Die res van die predikante sal dit ook dié jaar gratis deur die
pos ontvang. Ook die VG leraars van die Kaapland
sinode sal dit vanjaar gratis oor die pos ontvang. Dit is gestuur na die
adresse van die onderskeie gemeentes se kerkkantore/skribas toe. Indien enige
predikant dit nie ontvang het nie, kontak vir Chris van Wyk by 0861gemeentes om jou adresbesonderhede
reg te stel, sodat jy ’n eksemplaar kan kry.
2.
Die webwerf word ontwikkel as ’n plek waar al die
dienste aan gemeentes kwartaalliks vooruit opgesit sal word (http://www.gemeentes.co.za). Dit is nou
die dienste van Buvton (Maties), Excelsus
(Tukkies), Efto (Kovsies), CFN,
TIW, Seisoen van Luister, Verantwoordelike Vernuwing,
die Algemene Sinode Diensgroep Gemeenteontwikkeling (ADGO), al 10 sinodes van die NG Kerk en nog ’n paar ander
ekumeniese rolspelers. Daar is reeds ’n kalender vir die derde kwartaal 2005
sowel as ’n omvattende lys van dienste. Laat weet ons asseblief van enige diens
aan gemeentes wat jy graag daar bekend wil maak dat ons ’n reëling daaroor kan
tref.
3.
Die oproepsentrum 0861gemeentes (0861436336
of 0415836438) word reeds bedryf van 09:00 tot 13:00 op weeksdae. Dit is geskep
as plek waar inligting oor bedieningshulp uit die
hele Algemene Sinodale Netwerk van dienste aan gemeentes gebied kan word. Bel
(of epos) Chris van Wyk (direkteur) of Katie Swanepoel (sekretaresse)
en ons probeer ons bes om jou binne 48 uur te help om die diens wat
jy
benodig te vind of aan die netwerk deur te gee dat dit ontwikkel kan word!
4.
Die twee-jaarlikse forums waar
enige verskaffer van dienste aan gemeentes in die NG Kerk uitgenooi word om
saam dienste te kom ontwikkel en deel te neem aan die navorsingspoel
wat ons aan die opbou is. Ons sal ook op ’n assimetriese
basis ekumeniese vennote kan akkommodeer. Skakel ons vir moontlikhede. Die
volgende geleentheid is in November. Detail sal later bekend gemaak word.
Bedieningshulp is nou net ’n oproep ver! Bo
Wiele rol vir Buitengewone Sinode
Die datum vir die Oos-Kaapse buitengewone sinode (26-28 Julie) kom nou vinnig
nader.
Die
doel van die sinode is om God se roeping vir ons kerk in die Oos-Kaap oor die
volgende jaar of twee te onderskei. Dit gaan ons onder andere doen deur aandag
te gee aan sleutelaspekte wat die kerk se aandag tans
bou, veral na aanleiding van indringende gesprek tydens die Bosberaad
in April.
Wat
is ons geroep om in ‘n tyd soos hierdie van God te bely? Hoe kom ons bediening
werklik tuis in ons konteks – hoe werk en bedien ons met die oog op ‘n tyd soos
hierdie? Hoe leef God se mense nou as heiliges, volkome toegewy aan Hom. Hoe
breek ons die brood – nuwe lewensmoontlikhede, hoop, geregtigheid, genesing en
vreugde – vir ons konteks? Waarheen stuur God ons? Hoe werk ons mee om die
morele en familiale vesel in ons land te herstel? Hierdie en ander vrae verg ons
aandag.
Ander
temas uit die groter gesprek in die NG Kerk, soos homoseksualiteit en kerkhereniging sal ook aandag geniet. Bo
Alle gemeente-skribas neem kennis: Julle moet
asseblief jul gemeente-inligting vir Kerkjaarboek
2006 opdateer en so gou moontlik na Nellie Westraadt by da@ngkok.org stuur. Die
keerdatum kom vinnig nader. Bo
DAGBOEK
Die volgende inligting
is oor Buvton-Kursusse ontvang:
1. Teologie
- Dogmatiek, Etiek, Ou- en Nuwe Testament
Datum: 25 - 28 Julie 2005
Plek: Buvton,Stellenbosch
Koste: R290
Aanbieder: Prof Dirkie Smit
Sluitingsdatum: 19 Julie 2005
Verblyf: Elke kursusganger is vir eie verblyf verantwoordelik.
Kontakpersoon: Chrisna van der Merwe [cmer@sun.ac.za
of 021-808 3624]
Hierdie kursus sal aangebiede
word in lyn met die vorige kursusse van prof Dirkie Smit en sal handel oor
Christologie en Soteriologie, maw wat ons oor Jesus
sê en hoe ons ons verlossing verstaan.
2. Die
predikant as geestelike begeleier en sy/haar spiritualiteit
Datum: 1-2 Augustus 2005
Plek: Buvton,Stellenbosch
Koste: R200
Aanbieder: Ds Gideon van Dam
Sluitingsdatum: 26 Julie 2005
Verblyf: Elke kursusganger is vir eie verblyf verantwoordelik.
Kontakpersoon: André Kilian apk@sun.ac.za
of 021-808 3382]
Sien volledige inligting en
inskrywingsvorm aangeheg. Onderstaande is slegs inligting oor ds Van Dam.
'n Kursus aangebied deur ds Gideon van Dam op uitnodiging van die Taakgroep vir Predikante-begeleiding van die Algemene Diensgroep vir Gemeente-ontwikkeling (ADGO) van die Ned Geref Kerk.
Gideon van Dam:
* Predikant in diens van die algemene sinode
van die Protestantse Kerk Nederland (eengeworde
Hervormde, Gereformeerde en Lutherse Kerk in Nederland)
* Sy opdrag is die begeleiding van predikante (werkbegeleiding, mentorprogram,
ens)
* Hy is aan die Titus Brandsma
Instituut in Nijmegen onder prof Kees Waaijman as geestelike begeleier opgelei
* Hy is lid van die Europese vereniging van
geestelike begeleiers.
* Uit
sy pen het 'n paar boeke en artikels in verband met die spiritualiteit en
geestelike begeleiding van predikante verskyn waarvan die mees prominente een
"Dichter bij het Onuitsprekelijke - over geestelijke begeleiding voor en door pastores"
is.
3. Covey: "Seven Habits"-kursus
Datum: 10 - 12 Augustus 2005
Plek: Buvton,Stellenbosch
Koste: R1 500
Aanbieder: Frederick Marais
Sluitingsdatum: 26 Julie 2005
Verblyf: Elke kursusganger is vir eie verblyf verantwoordelik.
"Seven habits of highly effective people" vir gemeente- en
gemeenskapsleiers. Elk van dié sewe gewoontes word intensief behandel: · "Be
pro-active"
·
"Begin with the end in
mind" · "Put first
things first" · "Think win-win" · "Seek first to
understand and then to be understood" · "Sinergize" ·"Sharpening
the saw" Bo
Vanjaar vind Verantwoordelike Vernuwing op drie plekke
plaas, waaronder in Port Elizabeth:
Wes-Kaap:
Datum:
16 - 17 Augustus 2005
Plek: Stellenberg
NAVRAE &
INSKRYWINGS
Kontak Valerie Green of Karin Barter
Tel (021) 976 4519
Faks (021) 976 2431
E-pos kerkraad@stellenberg.co.za
Sluitingsdatum vir inskrywings: 10 Augustus 2005
Oos-Kaap
Datum: 18 - 19 Augustus
2005
Plek: PE
Hoogland
Kontak Saretta Dawson
Tel (041) 367 1485
Faks (041) 368 7340
E-pos pehoogland@mweb.co.za
Sluitingsdatum vir inskrywings: 10 Augustus 2005
Datum:
22 - 23 Augustus 2005
Plek: Moreletapark
Kontak Dries Lombaard
Tel (012) 997 1265 uitbreiding 140
Faks (012) 997 0323
E-pos dries@moreleta.co.za
Sluitingsdatum vir inskrywings: 10
Augustus 2005 Bo
Positiewe Ouerskapkursus: 29-31 Julie 2005 - Suurberg
Vir ouers wat toegerus wil word vir:
* Ouerskap in eie gesin
* Begeleiding van ander ouers deur positiewe ouerskap.
Ouers met kinders (Kleuters
en tieners!!!) kan kinders saambring ons gaan die kinders besig hou met hulle
eie kampprogram***
Plek: Suurberg: 29-31 Julie.
Koste: R180
per volwassene en R40 per kind (Etes, kursusmateriaal
en Meyers Briggs persoonlikheidstoets ingesluit)
Verblyf: Geborg deur Sinode!
Bring saam: Beddegoed, eetgerei,
Bybel, Pen, Flits…alles wat nodig is vir kamp.
Inskrywingsvorm: Positiewe Ouerskap
Hiermee skryf ek/ons _______________________in vir die positiewe ouerskapskursus in te Suurberg 29-31
Julie en verklaar hiermee dat ek/ons nie die Ring van Humansdorp aanspreeklik
sal hou vir enige skade/besering en of verlies nie. Vir ouers met kinders: Hoeveelheid kinders: _______ Naam/Name en Ouerderdomme_______________________________________
________ ________
Geteken Datum
Navrae: Jaco Putter 0825631616 of David Higgs
0828325172 Bo
* Vier-en-negentig persent van alle Amerikaners eet pizza.
Hulle eet drie miljard per jaar, die ekwivalent van sowat 100 hektaar pizza per
dag – ongeveer 350 pizzas per sekonde.
* Beraamde aantal
Chinese wat op China se platteland woon en nog nooit tande geborsel het nie?
Antwoord: 500 miljoen.
* Volgens Michael Jackson se webblad, mjjsource.com, is sy onskuldigbevinding gelykstaande aan: die
vrylating van Nelson Mandela, die geboorte van Martin Luther King jnr., én die val van die Berlynse muur.
(Bron: Time Magazine) Bo
Asof sy bakterieë was en hy Britse beesvleis teen
kamertemperatuur...
By www.onnet.up.ac.za kry ek hierdie oulike
geite – almal antwoorde in eksamenvraestelle, waaronder Afrikaanse opstelle :
Snaakse vergelykings:
Sy gedagtes het in sy kop rondgetuimel en verwantskappe gesmee en gebreek soos
onderklere in 'n tuimeldroër.
Die bootjie het saggies oor die
dam gedryf presies soos 'n rolbal nie sou nie.
Hy was so lank soos 'n twee
meter lange boom.
Hy het diep uit sy keel gelag -
soos daardie geluid wat 'n hond maak net voor hy opgooi.
Haar woordeskat was so sleg
soos, wel, wat ook al.
Dit was 'n werkersklas-tradisie,
soos pa's wat hul kinders met elektriese bore rondjaag.
Sy het nader aan hom gegroei -
asof sy bakterieë was en hy Britse beesvleis teen kamertemperatuur.
Die son het uit die see opgerys
soos 'n gloeilamp uit 'n bad water.
Hy is so maer soos 'n vark op 'n
grondhervormingsplaas.
Ek het so minderwaardig gevoel
soos 'n Zim-dollar.
NOG:
Waarvoor word beesvelle gebruik?
A: om die bees binne te bou.
Wat is outobiografie?
A: dis die onstaan en geskiedenis van die
motorkar.
Waarvoor staan die afkorting t.o.v.?
A: tot onder die voete.
Wat is die doel van die kies- en oogtande?
A: die kiestande kou die kos en die oogtande kyk dat hulle die kouwerk goed doen.
Voltooi die volgende idioom: Hoe meer haas............
A: hoe groter haaspastei.
Wat is die meervoud van kabeljou?
A: kabeljulle.
'n Sin met "ter aarde
bestel"... "Wie op ter aarde bestel so 'n groot
koek?"
Formule vir 'n sirkel se omtrek:
"paai straal kordaat"
Wat is teenoorstaande hoeke?
Hoeke wat vir mekaar kyk.
Wat is 'n terminale siekte? As
jy op die lughawe siek word!
En:
Noem 5 dinge wat melk
bevat? Kaas, botter en drie koeie
Wat is die verlede tyd van
EET? Honger
Wat is die verkleinwoord
van OUPA? Kleinseun
Vertaal in Afrikaans: 'I beg your pardon?' HUH?
Wat noem ons iemand wat
velle looi? Onderwyser
Voltooi: Wat jonk is, speel
graag. Wat oud is, ....... kreun graag
Wat kry jy as jy jou melktande
wissel? Pepermenttande
Groete tot ons weer gesels,
Danie Mouton