OosKaap eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die
gemeenskap van die heiliges
Jaargang 3 - Nommer 8 - 12 Mei
2005 - nuus@ngkooskaap.co.za
Hoogtepunte
Lees gerus wat dr
Stephan Joubert oor die topverkoper boek The Da Vinci Code skryf in die eerste artikel van hierdie
uitgawe. Dit is oorspronklik gepubliseer in Lig van Maart 2005. Die
jongste Kerkbode, 13 Mei, bevat ook ‘n skitterende bydrae hieroor deur Guillaume Smit. Lidmate kan regtig nie ingelig wees sonder
op hierdie twee kerklike tydskrifte te lees nie.
Dan
skryf Piet Naudé boeiend en insiggewend in
sy gereelde rubriek oor Gereformeerdheid aan
die hand van 10 stellings. Lees meer hieroor in die aanhegsel.
INHOUD
Interpretasie van Gay-besluite
Voorstel
oor Marriage Alliance of SA en saak voor Konstitusionele Hof op 17 Mei 2005
The Da Vinci Code
- Op pad na groter donkerte of meer lig?
Hoe
belangrik is opening van vergaderings met Skriflesing en gebed?
Multikulturele
Liedere vir Ekumeniese Byeenkomste
‘n Unieke Kinderkuns-Kalender vir
2006
Perisos: die nuutste en die beste
Biblia Hawebediening bly by die
NG Kerk
Oud Oos-Kapenaar voorsitter
van Wêreldraad van Bybelgenootskappe
DAGBOEK
Dogmatologiese Werkgemeenskap vergader vanaf 22 Junie te
Stellenbosch
Buitengewone
Sinode: 26-28 Julie 2005
Interpretasie van Gay-besluite
Uit die jongste vergadering van die
Moderamen van die Algemene Sinode:
Die
interpretasie van die besluite oor homoseksualiteit, asook die begleiding van
die kerk met verdere studie na
aanleiding van die verskil in Skrifinterpretasie oor die saak, is verwys
na die Taakgroep Leer en Aktuele Sake (ou AKLAS).
Daarom het die Moderamen
besluit om te volstaan met die volledige besluit van die Algemene Sinode
in 2004 en verder op die volgende te wys:-
* Daar moet gewaak word teen
standpunte en of interpretasies wat meer wil maak van die besluite van
die Algemene Sinode in 2002 en 2004 as wat die sinode self besluit het. Daar word gewys op die besluit waar
onderneem is om die gesprek en studie met groot erns voort te sit,
want die NG Kerk wil in alles net getrou wees aan wat die Bybel sê.
* Daarom moet gewaak word teen
gevolgtrekkings wat polarisasie in die hand werk, onrealistiese
verwagtings skep en gesprek strem. Die Algemene Sinode se standpunt is juis dat
‘n liefdevolle hantering van mekaar nodig is.
* Om nou al reeds interpretasies aan
die besluite te heg, kan juis gesprek strem en besluite vooruitloop. Dit skep ook die indruk dat konteksloos oor
spesifieke probleme gepraat kan word.
* Die Moderamen wys daarop dat die
betrokke kerkvergaderings (soos Kerkrade, Ringe en Sinodes) in die lig van die
Skrif en belydenisskrifte moet handel in die beoordeling van spesifieke gevalle
en dit op ‘n kerklike wyse en in liefde hanteer moet word. In gevalle waar die besluite van die Algemene
Sinode kerkregtelike advies noodsaak, moet dit van die Aktuarius van die
Algemene Sinode aangevra word met verwysing na die spesifieke omstandighede. Bo
Voorstel oor Marriage Alliance of SA en saak voor
Konstitusionele Hof op 17 Mei 2005
Nog ’n beriggie uit die jongste vergadering van die
Moderamen van die Algemene Sinode:
Volgens ons verstaan van
die Bybel kan slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik
beskou word. Daarom wil die Moderamen van die Algemene Sinode van die NG Kerk
in soverre as wat hierdie beginsel ter sprake kom, sy stem voeg by die van die
Marriage Alliance of SA in die saak wat op 17 Mei 2005 voor die Grondwethof
dien. Die Alliance kan moontlik as ’n amicus curia tot die hof toegelaat word. Die Moderamen doen
dit sonder om hom by voorbaat of noodwendig met elke argument wat ten gunste
van die saak van die Alliance in die hof gebruik sal word, te vereenselwig. Die
Moderamen wys daarop dat die Algemene Sinode nog besig is met studie oor die
aanvaarbaarheid al dan nie van vaste homoseksuele verhoudinge.
Soos die Algemene Sinode
van 2004 erken die Moderamen dat daar kante aan die debat oor homoseksualiteit
is wat dit gekompliseerd maak en wat juis daarom vir diepe besinning vanuit die
Bybel én wysheid in die kerk se hantering van die saak vra. Die Moderamen
betreur die liefdelose optrede teenoor homoseksueles asook die gebruik van
homoseksuele gedrag vir die skep van openbare sensasie. Terselfdertyd wil die
Modermaen hom uitspreek téén enige ketterjag op persone van watter oortuiging
ookal in die debat. Omdat die debat die plek van mense in die gemeenskap raak,
moet dit van alle kante met liefde, verdraagsaamheid en pogings om mekaar
werklik te begryp, gevoer word.
Die Moderamen is daarvan
oortuig dat die huwelik, Bybels gesien, slegs tussen een man en een vrou kan
wees. ’n Beroep word dus op die hof gedoen om hierdie beginsel en tradisie (wat
wyd loop in die Christelike gemeenskap) te erken. Indien die hof oordeel dat
daar kragtens die Handves van Regte in die Suid-Afrikaanse Grondwet egter wetlike
erkenning aan ’n kontrak tussen twee lede van dieselfde geslag wat in ’n
permanente verhouding betrokke is, gegee moet word, behoort dit iets anders as
’n huwelik genoem te word. Bo
The
Da Vinci Code - Op pad na
groter donkerte of meer lig?
TOE gebeur dit met my! Ek lees weer ’n slag fiksie. Met my
knie tydelik uit aksie ná iets wat veronderstel was om net ’n “roetine-operasietjie” te wees, word The
Da Vinci Code ’n nuwe
metgesel om die kort tydjie van salige niksdoen verby te kry.
Vir ’n paar dae was The Da Vinci Code se hoofkarakter, die Harvard-professor Robert Langdon,
my nuwe reisgenoot, saam met ’n slim kriptograaf, Sophie Neveu. Te midde van
intrige op intrige wat James Bond na skaakspeletjies
vir beginners laat lyk, ervaar ek hoe hulle vir Opus Dei,
’n geheime Katolieke organisasie, asook DCPJ, die
Franse ekwivalent van die FBI, systap in hulle
soektog na die Heilige Graal, die nagmaalbeker van
Jesus. En toe, die groot ontdekking, hierdie beker is nie “iets” nie, maar
“iemand”! Dis al die tyd Maria Magdalena, die vrou wat veels te naby aan Jesus
was na die smaak van die vroeë kerk.
Minnares van Jesus?
Volgens die skrywer van The Da Vinci
Code, Dan Brown, het die
beroemde geleerde Leonardo da Vinci
geweet Maria Magdalena was die geheime minnares van Jesus. En Jesus? Wel, hy
was maar net ’n buitengewone mens wat eers vanaf die vierde eeu vergoddelik is.
As eertydse hoof van ’n hoogs geheime groep het Da Vinci
in skilderye soos die Laaste Avondmaal hierdie “geheime” oop en bloot op doek
vasgevang. “Kyk mooi,” sê Leigh Teabing,
een van die karakters in die boek wat gebruik word om hierdie skokkende nuus te
breek, “... die ‘man’ wat so styf teen Jesus aanlê in Da Vinci
se Laaste Avondmaal, is eintlik ’n vrou, die einste Maria Magdalena met wie
Jesus getroud was en by wie Hy ’n kind gehad het.” Hierdie Maria het later in
Gallië (reg geraai: die huidige Frankryk) gaan skuil. Uit haar nasate is die Merovingiaanse koningshuis in Frankryk gevorm. Kortom, sy
is die Heilige Graal, die vroulike godin of heldin wat weggeskryf
is uit die vroeë Christendom se amptelike dokumente.
Hoe het dit alles gebeur? Wel, Brown
maak sy lesers wys dat dit eintlik die skuld van keiser Konstantyn
was. Hy was die Romeinse keiser aan die begin van die vierde eeu wat glo die
Bybel laat herskryf het om die beeld van ’n goddelike, ongetroude Jesus te skep
ten einde sy eie politieke belange te bevorder. Daarom dat dit later die taak
van die magtige ridderorde die Templars en ook mense
soos Da Vinci geword om die eintlike waarheid te
ontsluit, die waarheid wat Dan Brown nou speels in ’n
fiksie-formaat met miljoene deel. G’n wonder nie dat
hierdie boek vir ’n hele 32 weke die New York Times
se voorste trefferboek was. Wat is immers meer nuuswaardig – al is dit by monde
van oortuigende fiktiewe karakters – om te hoor dat die kerklike masjinerie
doer in 325 na Christus met ’n Romeinse keiser saamgesweer het om ’n nuwe
Christelike godsdiens te skep wat ontleen is uit ander godsdienste? Skielik
word ’n samesweringsteorie in ’n nuwe The Da Vinci Code-gewaad
so mak soos ’n lammetjie. Miskien so mak soos die lam in Openbaring 13 wat heel
onskuldig lyk, maar wat klink soos ’n draak as dit die slag begin praat.
Speel-speel, of nie?
Brown speel fyn tekstuele speletjies met sy lesers.
Hy gebruik sy karakters meesterlik om deur die loop van die spel ’n paar
gevaarlike opmerkings in te gooi, soos dat die Dooie See-rolle
uit Koemraan staaf dat Jesus ’n doodgewone mens was,
maar dat die Katolieke hierdie inligting met mag en mening onderdruk. Of dat
die Gnostiese evangelies van Filippus en Maria
Magdalena wel vertel dat Jesus ’n verhouding met Maria Magdalena gehad het. Dan
word vinnig bygesê dat hierdie “geskiedkundige feite” mala fide (“met kwade
bedoelings”) uit die Bybel weggelaat is. Natuurlik verwar dit goedgelowige
lesers wat deel geword het van hierdie spel.
Wat gemaak met die uitsprake oor Jesus en die kerk in The Da Vinci Code?
Om maar net te sê dis steeds fiksie, los nog nie die vrae op nie, want ons het
immers vandag die werke van Leonardo da Vinci, die Koemraan-rolle en
ander buite-Bybelse evangelies tot ons beskikking. En
ons weet ook die kerk het in 325 nC by Nisea saam met Konstantyn
vergader. Is die Bybel dan verdraaid, of nie? Wie smokkel op die ou end met wie
se kop?
Wel, feit is dat die Koemraan-rolle
nie oor Jesus handel nie, soos wat enige belangstellende self kan uitvind. Die
inhoud van hierdie dokumente wat in 1947 by die Dooie See ontdek is, is glad
nie geheim nie. Die Dooie See-rolle word steeds
grondig deur onafhanklike wetenskaplikes bestudeer, wat geen probleem daarmee
sou hê om die kerk te ontmasker indien hulle enige redes daartoe in hierdie
rolle sou kon opspoor nie. Verder, in 1945 is ’n klompie tekste oor die Bybel
ook in Nag Hammadi in Egipte ontdek, waaronder die
evangelie van Tomas en die geheime evangelie van
Jakobus. Al hierdie tekste is ook reeds in Engels gepubliseer, onder andere
deur ondersoekers vanuit die geledere van die Jesus Seminar,
wat baie krities teenoor die kerk staan. Daar is dus nie ’n onheilige toesmeerdery in die kerk rondom hierdie dokumente aan die
gang nie. Allermins ook nie binne die wetenskap!
Wie is Maria Magdalena?
Die Gnostiese evangelie van Maria Magdalena, wat Brown
in The Da Vinci Code aanhaal, is ’n geskrif wat moontlik eers aan die begin
van die tweede eeu na Christus verskyn het. Dit sinspeel wel op die belangrike
posisie van Maria Magdalena, maar onafhanklike teoloë wat hierdie tekste
bestudeer, lees niks meer hierin as ’n aanduiding dat vroue vroeg reeds in die
kerk prominente leiersrolle ingeneem het nie. Om ’n
voorbeeld te noem: prof Karen King, tans ’n professor in die Nuwe Testament aan
Harvard, het onlangs in ’n navorsingsartikel,
Women in early Christianity: The new Discoveries, alle vroeg-Christelike tekste oor Maria Magdalena nagevors,
tekste waarvan Dan Brown nie eens kennis dra nie,
soos die Pistis Sophia en die Sophia (= wyse woorde)
van Jesus Christus. King maak die volgende gevolgtrekking oor Maria Magdalena:
“She is portrayed as a prophetic visionary and as a leader among the
disciples.”
Deeglike navorsing wat veel wyer en veel meer
verantwoordelik as Brown na die feite rondom Maria
Magdalena kyk, is vandag glashelder daaroor dat sy slegs een van die leiersfigure
in die vroeë kerk was, niks meer as dit nie. Vandaar dat die tekste haar korrek
uitbeeld as iemand naby aan Jesus. Nee, sy was nie Jesus se minnares nie. Nee,
sy het ook nie kinders by Jesus gehad nie.
Het Konstantyn die Christendom se leerstellings
rondom Jesus in die vierde eeu herskryf?
Brown is nogeens verkeerd in sy aanname dat die kerk
eers vanaf die vierde eeu vir Jesus as Here erken het en dat die eerste
Christene hom net as ’n uitsonderlike profeet verstaan het. Paulus, die
vroegste skrywer van die Nuwe Testament, het reeds in die jare vyftig van die
eerste eeu Jesus as “Kurios”, as Here, aangespreek.
Hierdie belydenis vleg trouens soos ’n goue draad deur die Nuwe Testament.
Onafhanklik van mekaar het vooraanstaande Christenleiers
gedurende die eerste 300 jaar presies dieselfde uitsprake oor Jesus gemaak.
Gaan lees gerus die kerkvaders soos Klemens van Rome,
Justinus die Martelaar, Tertullianus,
Irenaeus en andere. Nee, van die begin af het die
eerste Christene ’n eenvoudige, maar duidelike belydenis oor Jesus gemaak dat
Hy die gekruisigde en opgestane Here is (vgl 1 Kor 8;
15; 1 Tess 1). Lank voor Konstantyn het hierdie
waarheid vaste gestalte gevind in verskillende vroeg-Christelike
belydenisse, wat die kern gevorm het van dit wat ons vandag as die Apostoliese
Geloofsbelydenis ken.
Brown mis ook die punt
heeltemal as hy beweer dat die kanon van die eerste Christene eers in die
vierde eeu bekook is. Tegnies kry ons wel eers in die jaar 367 by die kerkvader
Atanasius ’n weergawe van die boeke van die kanon
soos wat ons dit tans ken. Maar gedurende die vorige drie eeue was daar
grootliks eenstemmigheid rondom die gesag van die meeste geskrifte van die Nuwe
Testament soos die huidige vier evangelies en die Pauliniese briewe.
Die aannames van The Da Vinci Code oor Bybelse materiaal
is wetenskaplik ongegrond. In gewone taal gesê, dis nie korrek nie. Selfs nie
eens kritiese teoloë, wat graag ’n appeltjie met die kerk te skil het,
ondersteun dié soort samesweringsteorieë wat Brown luidkeels in sy boek verkondig nie.
Nuwe lig? Nee, nog groter donkerte!
(Dr Stephan Joubert is ’n teoloog en deeltydse leraar aan
die NG Gemeente Moreletapark.) Bo
Hoe belangrik is opening van vergaderings met
Skriflesing en gebed?
Neels Jackson, kerksake-verslaggewer
van Beeld, skryf die volgende insiggewende kommentaar oor die veranderende rol
van die kerk in die samelewing:
Nuwe styl vir kerk na UP se besluit;
Neels Jackson, Beeld-forum:
Beeld, 04/05/2005
Tukkies se onlangse besluit om sy gradeplegtighede nie langer met
Skriflesing en gebed te open nie, is 'n interessante teken van hoe die rol van
die kerke en die Christelike godsdiens in die nuwe bedeling verander het. Ook
interessant is dat daar eintlik min kerklike hane oor dié besluit gekraai het.
Die Skriflesing en gebed was die neerslag van 'n belangrike strewe wat 'n mens
veral in gereformeerde kringe vind. Dit is die begeerte om nie net mense te
kersten nie, maar ook die samelewing en samelewingstrukture.
Dis die ideaal om die Koninkryk van God te laat kom, om die wêreld om jou meer
te laat lyk na 'n plek waar God regeer. Iemand wat tien jaar gelede nou
betrokke was by die proses om ons Grondwet te skryf, sê onlangs dat die
oorweldigende aantal voorleggings wat hulle van die publiek gekry het, oor twee
sake gegaan het. Die een was die doodstraf en die ander die verwysing na God in
die aanhef.
In die vorige bedeling het juis die
gereformeerde kerke, en veral die NG Kerk, toegang gehad tot die staatsmag om
hul Koninkrykvisie gestalte te help gee. Hulle kon
eenvoudig hul invloed gebruik om wette te laat maak om die samelewing te orden
. As die kerk gedink het dis nie 'n goeie ding dat mense op Sondae handel dryf
nie, kon hy 'n wet vra om dit te verbied. Hy kon bepaal wat mense kon lees of
nie, wat hulle kon sien of nie. En so, het hy gedink, kon hy van Suid-Afrika 'n
meer Christelike land maak. Oor die skadukant van dié benadering het min mense
destyds gedink of gepraat. Dit is goed soos dat die Christelike verwysings in
die Grondwet nie kon keer dat die grootste onchristelikhede
onder daardie Grondwet gepleeg is nie. Terwyl daar Christelik gebid is by
Tukkies, is talle Suid-Afrikaners van dié instelling uitgesluit. Die manier
waarop die Christelike godsdiens destyds, onder meer oor die radio, aan mense
opgedwing is, het in baie gevalle niks gehelp om vir die kerk vriende te wen
nie.
Inteendeel. Maar nou het die kerke - genadiglik!
- die mag verloor wat hulle gehad het. En ek hoor al hoe meer stemme uit
kerklike kringe sê dat dit eintlik 'n bedekte seën vir die Christelike
godsdiens is. Die vraag is hoe die kerke daarby aanpas, want dit is nie so
maklik nie. Die een manier om dit te doen, sou wees om afstand te doen van die
ideaal om op samelewingsvlak 'n bydrae te lewer. En
'n mens hoor soms iets daarvan as mense sê dat die kerk tog net nie by politiek
betrokke moet raak nie. Kyk maar net in watter moeilikheid sy politieke
betrokkenheid die NG Kerk in die verlede gedompel het. Trek 'n mens dié
benadering deur tot sy volle gevolge , laat dit jou met 'n godsdiens wat
volledig op die individu gerig is, 'n godsdienstige benadering wat slegs daarop
gerig is "om siele vir die Here te wen". 'n Ander manier van
aanpas sou wees om na nuwe maniere te soek waarop die kerke kan help om van die
wêreld waarin ons leef 'n beter plek te maak, 'n wêreld wat meer lyk soos God
dit sou wou sien.
Dis hierdie uitdaging waarmee daar al hoe meer
in kerklike kringe geworstel word. Vandeesweek by 'n ringvergadering
in Johannesburg hoor ek weer dat mense praat van dienslewering as die nuwe
manier om dié ou ideaal na te streef. Dis 'n soort taal wat al hoe meer in
kerklike kringe gebruik word. Belangriker nog: dis iets wat al hoe meer
neerslag vind in wat al bestempel is as duisende klein dade van barmhartigheid.
Dié nuwe tendens verteenwoordig 'n groot skuif. Pleks van die eertydse
benadering van bo af, is dit 'n benadering van onder af. Pleks van 'n ou styl
van doen waarin die kerk baie sigbaar en hoorbaar van groot platforms sy
invloed uitgeoefen het, verteenwoordig dit 'n nuwe styl waarin die kerk sy
werk, soos sout of suurdeeg, doen sonder dat dit gesien word. Die groot
uitdaging nou is om op grondvlak, in gemeentes, al hoe meer maniere te vind om
praktiese beslag te gee aan dié nuwe benadering. Op plekke gebeur daar reeds
iets hiervan, maar dat daar nog heelwat meer gedoen kan word, ly gee twyfel
nie. Teen dié agtergrond bied die land se groot probleme soos armoede,
werkloosheid, vigs en dakloosheid ontsaglike
geleenthede vir kerke. Dit laat formaliteite soos 'n Skriflesing en gebed
by 'n gradeplegtigheid ook tot onbenullighede vervaag. Bo
Multikulturele Liedere vir Ekumeniese
Byeenkomste
Dr Louis Dressel skryf die volgende
interessante briefie wat vertel van ‘n besondere projek:
Die Algemene Sinode van die NG Kerk het ‘n
kommissie benoem om ‘n meganisme te skep waarvolgens nuwe, inheemse en eietydse
liedere deurlopend in die kerk opgeneem kan word.
Die kommissie het reeds ‘n aantal liedere
geïdentifiseer wat op die NG Kerk se webblad geplaas gaan word. (www.ngkerk.org.za). Die teks en
bladmusiek en moontlik ‘n melodielyn, sowel as ‘n powerpoint
aanbieding sal op die webblad geplaas word.
Kopiereg en ander reëlings word tans gefinaliseer. Die liedere word
onder FLAM
bemark – dws Funky
Liedere vir ‘n Aan-die-brand Musiekbediening.
‘n Volgende projek is om liedere vir multikulturele byeenkomste te versamel en op
die webblad te plaas.
Die FLAM-kommissie
vergader weer in September om die liedere te keur en die proses te begin om die
liedere vir gebruik vry te stel. Gemeentes word versoek om die 5 populêrste treffer-liedere vir ekumeniese geleenthede te
voorsien. Dit behoort liedere te wees
wat in meer as een taal saamgesing kan word.
Net Engelse liedere is ook welkom. Stuur die teks en bladmusiek aan die
Skriba, FLAM II, Posbus
4445, Pretoria 0001 of e-pos aan louisd@ngkerk.org.za of faks na 012 322 3803. Net liedere wat voor 15
Augustus 2005 ontvang word, kan gebruik word.
Bo
‘n Unieke Kinderkuns-Kalender vir 2006
Ds Sas Swart van Cambridge-gemeente
skryf opgewonde oor ‘n pragtige kalender vir 2006 waarmee hulle fondse vir hul kinderbediening wil genereer:
‘n
Baie besondere geskenk! ‘n Unieke kalender met pragtige sketse, persoonlike
boodskappies, oulike sêgoed, en gedagtes vir elke dag van die jaar. Hierdie kalender verskyn gesamentlik in Afrikaans
en Engels. Dit is ‘n A3-grootte kalender bestaande uit 12 bladsye (‘n bladsy
per maand), in volkleur wat draadgebind is met ‘n
harde agterblad @ slegs R75-00 posgeld
ingesluit. Massabestelling
vir ‘n gemeente kan gelewer word @ R50-00 per
eksemplaar plus posgeld.
Hierdie
is ‘n Fondsinsameling vir die kinders van ons gemeente. Met hierdie fondse wil ons die nodige
hulpmiddels aanskaf om hulle maksimaal te kan bedien. Sketse en boodskappies is dan ook die handewerk van die kinders in ons
gemeente. ‘n Voorbeeld kan aangevra word
by josias.swart@absamail.co.za
Bestellings
moet ons asseblief voor 30 Junie 2005
bereik.
NG
Gemeente Cambridge, French st 15, Cambridge,
Oos-Londen, 5247
Of per
Epos: josias.swart@absamail.co.za
Bo
Perisos: die nuutste en die beste
In ‘n halfblad-advertensie in Die Burger Oos-Kaap van 6 Mei
verklaar Perisos, die nuwe onafhanklike gemeente
gestig deur die voormalige
Die
stigting van Perisos was ‘n tree in geloof, geneem
deur mense oortuig van ‘n roeping, word in die volkleur-advertensie
gesê. “Ons kon en wou nie anders nie”. Daar is elke Sondag meer as ‘n duisend
mense in aanbidding in ‘n warm atmosfeer. Uitnemendheid word aangewend tot God
se eer. “Geen onkoste is gespaar nie en net wat uitnemend is, is beskikbaar
gestel deur gelowiges wat bereid is om in hierdie bediening te belê. Die
buitengewone aandag wat aan detail gegee is, komplementeer die diepte en
kwaliteit van die aanbidding en prediking wat jy by Perisos
ontdek”.
Theunis
Pienaar snr verklaar dat baie ander bedieninge nog soos mense wat ‘n land met ‘n eenskaarploeg bewerk,
“terwyl daar ‘n massa nuwe tegnologie beskikbaar is. Perisos
is vars en eietyds. Ons gebruik die nuutste en die beste.” Perisos
is ‘n eietydse Bybel-kerk waar God se Woord suiwer
bedien word op so ‘n manier dat mense se lewens geraak word.
Die
rede waarom Perisos nie terugdeins vir uitdagings
nie, hou verband met die kwaliteite van die geestelike leierspan,
word verduidelik. “Bykans elkeen van die geestelike leiers staan aan die spits
van een of ander suksesvolle onderneming in die korporatiewe, akademiese of
sakewêreld.”
‘n
Lidmaat getuig in die volkleur-advertensie: “Wat vir
my wonderlik is, is die moeite wat gedoen word dat almal se behoeftes bevredig
word.” Nog ‘n lidmaat: “Mense wat opgewonde is oor die oorvloed wat Christus
vir ons gee, sal definitief tuis wees by Perisos”.
Volgens
die advertensie is die huidige Pinksterreeks, met die
tema Verkeerd bespreek, en eintlik
elke geestelike byeenkoms “die ideale geleenthede om die ‘oorvloed’ wat Perisos wil deel, te proe.” Verder word Perisos
se suksesse in terme van veral kinderbediening en uitreike ook beskryf.
Waarom
is Perisos begin? Weer eens die advertensie: “Frans
Bezuidenhout, professor in Sosiologie en geestelike leier van Perisos ... sê: ‘n Roeping is iets wat mens nie kan ignoreer
nie. God het ons as geestelike leiers geroep om hierdie bediening in sy Naam te
begin. En ons kyk nie terug nie.”
Hierdie
advertensie word tans aangevul met ‘n voortreflike daaglikse advertensieveldtog in die Burger en op kennisgewingborde
aan lamppale. Perisos het ook ‘n gesofistikeerde
webblad.
Is
dit dan waaroor alles vir Perisos se leiers gaan?
Deur God geroep om die liggaam van Christus te skeur met die oog op die strewe
van meer as ‘n duisend mense na oorvloedige uitnemendheid? Ter wille van die
suiwer bediening van die Woord. Bo
Biblia Hawebediening bly by die NG Kerk
Volgens mnr Martin Britz, ervare werker van Biblia Hawebediening, was daar navrae of Biblia
PE, waarvan
Volgens
Martin ervaar Biblia tans kontantvloeiprobleme en gemeentes
word versoek om die werk te bly ondersteun. Betaal asseblief fondse direk in op
biblia se bankrekening by ABSA, biblia
Hawesending, rekening 4060 566 177. Biblia kan bereik word by Posbus 47, Port Elizabeth,
6000. Bo
Oud Oos-Kapenaar voorsitter van
Wêreldraad van Bybelgenootskappe
Ds Gerrit Kritzinger, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap van
Suid-Afrika en voorheen leraar van die NG Kerk Cradock-Oos
(1979-1990), is tydens ‘n vergadering van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe
tot voorswitter van die vergadering gekies. Vir die
eerste keer beklee ‘n Suid-Afrikaner nou hierdie posisie. Baie geluk aan
Gerrit, inderdaad ‘n stewige leier! Bo
DAGBOEK
Dogmatologiese Werkgemeenskap vergader vanaf 22 Junie te Stellenbosch
“Healing, Health and Regeneration” is die tema van die jaarlikse byeenkoms van
die Dogmatologiese Werkgemeenskap wat vanjaar van
22-24 Junie te Stellenbosch vergader. Verskillende interessante temas kom aan
die orde, soos Afrika-perspektiewe op genesing en
gesondheid, verskillende aspekte van die Vigs-uitdaging,
en verskeie parallelle sessies.
Belangstellendes
kan die volledige program en registrasie-besonderhede
aanvra by nuus@ngkooskaap.co.za. Bo
Die tyd kom nou
vinnig nader vir die buitengewone sinode waty van
26-28 Julie 2005 te Port Elizabeth (in die opgegradeerde Willows
vakansieoord) gehou word. Gemeentes word versoek om voorbidding vir die sinode
te doen, wat gemik is op geloofsonderskeiding rondom
die roeping van die NG Kerk in Oos-Kaapland. Bo
I am a crack dealer in
My father and mother have
recently been arrested for growing and selling marijuana. They are financially
dependent on my other two sisters, who are prostitutes in Brakpan.
I have two brothers; one is currently serving a non-parole life sentence at Leeukop Central Prison for the murder of a teenage boy in
1994. My other brother is currently in jail awaiting charges of sexual
misconduct with his three children.
I have recently become engaged
to marry a former prostitute who lives in Yeoville.
He is now a part time "working boy". All things considered, my
problem is this. I love my fiancé and look forward to bringing him into the
family. I certainly want to be totally open and honest with him. Should I tell
him about my cousin who is a STORMERS supporter?
Signed, Worried About My Reputation
(Met dank aan Ben
du Toit, oud-OosKapenaar met ‘n goeie reputasie)
Groete tot ons weer gesels,
Danie Mouton