OosKaap eNuus
Visie: Een, heilige, algemene Christelike kerk, die
gemeenskap van die heiliges
Jaargang 3 - Nommer 6 - 11 April
2005 - nuus@ngkooskaap.co.za
Nota: Die Oos-Kaapse
sinode het in 2003 ‘n besluite oor tekens, simbole en rituale geneem wat as attachment hierby aangeheg is.
INHOUD
Bosberaad en Buitengewone vergadering
van die Sinodale Kommissie
Uitvoerende
Komitee: Konvent vir Kerkeenheid
‘n
Dag in die lewe van die NG Kerk Patmos : 10 April
2005
Die Oos-Kaapse Sinode se
besluit oor tekens, simbole en rituele
Invloed vanaf die periferie: Pous Johannes Paulus II
DAGBOEK
Geestelike musiek extravaganza steek grense na ander
rasse en klasse oor
Geleenthede om op die korttermyn
na die 10-40 venster uit te reik
Open
Doors presents: Brother Yousif
Jaarvergadering Werkgemeenskap vir Praktiese Teologie: 13-15 April 2005
Skeuring in één van
die 106 gemeentes van die NG Kerk in Oos-Kaapland het
op Sondag, 10 April, finaal gerealiseer. Twee van die sinode se 135 leraars, pa
en seun, oordeel dat die NG Kerk in Oos-Kaapland die
pad byster geraak het en hom op die pad van ver-roomsing
begewe het, en het daarom ‘n onafhanklike, “verligte” gemeente gestig - met die
naam Perisos (oorvloed). Verderaan
vertel ek meer.
Bosberaad en Buitengewone vergadering van die Sinodale Kommissie
Vandeesweek vind ‘n
bosberaad (12-14 April) tussen die lede van die
Sinodale Kommissie en die ringskommissies te Oos-Londen plaas. Dit het ten doel
om die Kerk se roeping in die Oos-Kaap te onderskei. Dra hierdie vergadering
asseblief in julle gebede aan die Here op, aangesien die vrug daarvan sal
uitmond in die buitengewone vergadering van ons sinode van 26-28 Julie. Bo
Uitvoerende Komitee: Konvent vir Kerkeenheid
Die week begin met
die moderature van die NG Kerk in Wes-Kaapland, Oos-Kaapland en die VGK Kaapland
wat mekaar as UK van die Konvent vir Eenheid in Port
Elizabeth ontmoet (11 April). By hierdie geleentheid sal die beraad wat aan die
einde van verlede te Oudtshoorn gehou is, bespreek word. ‘n Belangrike
inisiatief om kerkhereniging te bevorder sal ook in
diepte bespreek word. Bo
‘n Dag in die lewe van die NG Kerk
Tydens die
oggenddiens op Sondag 10 April was sowat 120 lidmate by die erediens in die
deel van
Mense
vra vanoggend herhaaldelik: waarom? Kan dit wat in ‘n paar ander gemeentes dalk
verkeerd is, aanleiding gee tot wat hier gebeur het? Weeg dit swaar genoeg om
die skaal te swaai in die regverdiging van ‘n blatante verskeuring van die
eenheid waarvoor Jesus gebid het?
Gemeenteskeuring is ‘n besonder pynlike gebeure – en niemand
moet dit ligtelik opneem nie. ‘n Hele gemeentelike bediening moet prakties van
voor af georganiseer word. Wie sal die kerkkantoor beman? Die kategese aanbied?
Die lidmate wat oorgebly het beplan vasberade saam om die werk van die gemeente
met so min as moontlik ontwrigting voort te sit.
Dit
is ‘n tyd om te bid vir
Die gebeure is ‘n
nederlaag vir al die betrokkenes. Die voormalige
Natuurlik
is dit ook vir die Oos-Kaapse NG Kerk ‘n nederlaag.
Dis susters en broers wat ons verlaat – mense wat deel van ons is. Mense wat sê
dat hulle die kerk ernstig neem. Die wen-wen situasie
sou wees om met mekaar te bly praat, en vir mekaar geestelike ruimte te laat. Bo
Verlede week het
die debat oorgespoel na Die Burger en vind nou in die openbare domein plaas. Hier
volg die voorbladberig van 8 April 2005:
Skeuring
in kerk dreig - Ds. Theunis Pienaar verlaat kerk oor 'Roomse gebruike'
CINDY PRELLER
PORT ELIZABETH. -- Die NG Kerk is in 'n krisis gedompel nadat hy koers
verloor het deur by dwalende gebruike wat nie Bybels is nie, betrokke te raak.
Dit volgens ds. Theunis Pienaar, die "wegloop-dominee" van die NG Kerk
Ds. Hansie Schutte, voorsitter van die Oos-Kaapse
sinodale kommissie van die NG Kerk, gaan ook Sondag 'n spesiale aanddiens by
die
Dit lyk of 'n skeuring in die gemeente
onvermydelik is nadat briewe vandeesweek by Die Burger ingestroom het van
lidmate wat vir én teen Pienaar se standpunt is.
Pienaar, wat homself die herder van die nuwe,
"verligte" kerk noem, het gesê daar is geen kans op versoening met
die NG Kerk nie.
"Dit is onverstandig van die NG Kerkleiers
om die ongelukkigheid van hul lidmate en die krisis in die kerk te ignoreer.
God se Woord het nie meer die eerste en finale sê in die plaaslike NG Kerke
nie," het Pienaar sr. gesê.
Hy het dié "dwalinge" as
"teatrale gebruike", soos die brand van kerse vir ontslapenes en die
mengsel van as en gom as boetedoening op lidmate se voorkoppe, beskryf.
Schutte het gister steeds volgehou
dat dié Roomse gebruike nie in die NG Kerke van die Oos-Kaap teenwoordig is
nie, maar toegegee dat simboliek 'n groter rol as vroeër jare in die kerk speel.
"Ons het in die sinode van 2002 'n kers gebrand wat eenheid onder die NG
Kerke in die provinsie en die feit dat Christene die lig van die wêreld is,
moes simboliseer. Daar is egter niks Rooms daaraan nie; die Bybel is vól
simboliek," het Schutte gesê.
Volgens Schutte het hy
sy bedenkinge of die Roomse beskuldigings "wat na die kant van die NGkerk geslinger word," nie slegs 'n rookskerm is vir
die Pienaars se jare lange poging om van die NG Kerk
af weg te breek nie.
In 'n reaksie hierop het Pienaar sr. Schutte se kommentaar as 'n
"persoonlike aanval" op hom bestempel en volgehou dat die Roomse
gebruike wél in die plaaslike NG kerke plaasvind.
"Dié gebruike is slegs 'n uitvloeisel van
die dieperliggende krisis in die NG Kerk.
"Ek kan nie glo dat die kerkleiers nie op
die hoogte is van praktyke wat reg onder hul neus plaasvind nie," het
Pienaar sr. gesê.
Volgens hom wil hy nie in " 'n swart
smeerdery" betrokke raak nie, omdat hy goeie geestelike versorging by die
NG Kerk gekry het voordat hulle "koers verloor het".
Hy het gesê hy weet nie hoeveel
Sondag se twee dienste sal volgens hom nie
noodwendig "anders" wees as dï t wat hy die
afgelope paar jaar by
Luidens die kerk se brosjure word die gemeente se geloof verwoord in die
Westminster-belydenis van geloof en die Heidelbergse
kategismus. Bo
Die Oos-Kaapse Sinode se besluit oor
tekens, simbole en rituele
Die volledige,
goedgekeurde verslag van die Oos-Kaapse Sinode 2003
oor tekens, simbole en rituele word as attachment hierby aangeheg. Die volgende opsomming het na
die 2003-sinode in koerante verskyn en is ‘n goeie samevatting
van die verslag:
“Tekens,
simbole en rituele kan foutief ingespan word, maar dit moet ons nie die
vrymoedigheid ontneem om dit te benut nie”. Só sê die NG Kerk in Oos-Kaapland in ‘n verslag wat vandeesweek deur die sinode
in Port Elizabeth goedgekeur is. Die kreatiewe benutting van tekens, simbole en
rituele het vir ‘n lang tyd nie in ons kerk tot sy reg gekom nie. Daarom kan
dit vir gemeentelede leeg wees en koud laat. Daar kan selfs ‘n stigma kleef aan
die benutting daarvan.
In
die NG Kerk is daar tans talryke voorbeelde van ‘n groei na ‘n meer volledige
uitlewing van godsdiens. In hierdie proses kan tekens, simbole en rituele ‘n
betekenisvolle rol speel. “Ons wil die Here na liggaam, siel en gees liefhê.
Dit vra dat ons in ons erediensliturgie, en in die
diens aan God in ons alledaagse lewe, ou en bestaande tekens, simbole en
rituele sal herontdek, en ook dat ons nuut, relevant en gefundeerd sal skep”,
sê die verslag.
Die NG Kerk is
volgens die sinode ‘n Woord-gebaseerde kerk. Die
Woord bly altyd sentraal en primêr. Tekens, simbole en rituele is slegs maniere
om die inhoud van die Woord te kommunikeer.
Van
die vroegste tye af het God Homself in sy Woord bekendgemaak deur tekens,
simbole en rituele. Daarom kan die kerk vandag nog binne en buite die erediens
baie sinvol hiervan gebruik maak.
Voorbeelde
uit die Bybel is: Noag wat ‘n reënboog as teken ontvang dat God die wêreld nie
weer met water sal verwoes nie. Moses ontmoet God by ‘n brandende bos, en sy
kierie verander in ‘n slang as teken dat God hom na Egipte stuur.
Die funksie van
hierdie simbole was telkens om die Woord op uiterlike wyse te ondersteun.
Daarom pas die teken telkens by die Woord: dit skerp God se woorde, opdragte en
oordele by die mense in.
In
die Nuwe Testament word Jesus se geboorte aan die skaapwagters as ‘n “teken”
gegee. Hy is die volmaakte “teken” van God. Hy verwys self na verskeie tekens.
Genesings en wondertekens dui op God se regering wat in Hom ‘n werklikheid
word.
Simbole
vervul ‘n brugfunksie na ‘n hoër werklikheid, dieper
boodskap en groter waarheid. Die identiteit van ‘n geloofsgemeenskap word deur
die herhaalde gebruik van simbole gevorm. Die nagmaal is ‘n voorbeeld: God nooi
sy mense herhaaldelik om aan sy tafel te kom aansit, sy genade te ervaar, en só
draers van hierdie genade te word.
Rituele speel ook ‘n
belangrike rol in die kerk. Die doop, die aflê van belydenis van geloof, die
huweliksbevestiging en ‘n roudiens is voorbeelde hiervan.
Daar bestaan ook ernstige
en diepliggende gevare rondom simbole en rituele. Dit dra nié die genade sonder
die Woord van God in mense se lewens in nie, en mag daarom nie van die Woord
losgemaak word nie. Dit kan nie gebruik word om voorbidding vir afgestorwenes
te doen of om heiliges te vereer nie. Dit kan nie op ‘n magiese manier
kommunikasie van God af wees buite die Woord van God om nie, sê die sinode in
die goedgekeurde verslag. Bo
Ver-Roomsing? Of ‘n behoefte aan meer as rasionele kommunikasie?
En: met hoeveel
diversiteit moet die kerk gemaklik wees?
Die dieper vraag is
nie of die NG Kerk ver-rooms nie, maar wat onder die
oppervlak in ons wêreld aan die gebeur is. Welke skuiwe vind plaas wat in ‘n
voorheen rasioneel-gedomineerde samelewing tot ‘n
herwaardering van simbole, tekens en rituele aanleiding gee?
Op
‘n baie diep vlak skuif mense weg van rasionaliteit
as enigste borg van die waarheid. Vir eeue, sedert die opkoms van die rede en
die wetenskap, het ons op rasionaliteit vertrou. Die
ontstaan van die reformasie, die opkoms van Gereformeerdheid
en die vorming van ‘n ortodokse Gereformeerde dogma is ook beïnvloed deur die
Westerse aksent op die rede.
Hoewel
ons almal graag die vrugte van die rede en wetenskap pluk – ongekende gerief,
vaardighede en vryheid – het die oormatige vertroue op die rede rampspoedige
gevolge. Een daarvan is dat mense God nie meer nodig het nie, en nie kan glo
nie omdat ons God nie kan bewys nie. Nog ‘n wrange gevolg: die teologie van die
reformasie het later ook rasionalisties ontwikkel en op kerklike vlak bv. tot
oneindige versplintering in talle denominasies gelei. Die waarheid is op
verskillende maniere verwoord en formuleer, en kerklui
verskil só van mekaar daaroor dat dit die liggaam van Christus uiteindelik
verskeur. Elke versplinterde groepie is van mening dat hulle opstaan vir die
waarheid en só die eer van God red.
Die
nuwe Hervorming in Suid-Afrika wat die opstanding van Christus ontken, is ‘n ekstreme
uitkoms van ‘n oorwaardering van rasionaliteit
as bron van waarheid.
Die
Westerse wêreld is staan toenemend net nie meer eksklusief op die enkele been
van die rede nie. Daar is ‘n wegbeweeg van woord en ver-woord
na ver-beeld; ‘n skuif van rasionele insig na
ervaring van en deelname in die waarheid, ‘n beweging van lering na inspirasie.
Ek meen dat die groter klem op simbool, teken en ritueel hiermee te doen het,
en dat ons Here ook hierdeur met ons kommunikeer en werk. Is so ‘n ruimer
benadering ‘n gevaar vir die kerk? Lees gerus wat die Oos-Kaapse
sinodale verslag (aanhangsel) hieroor sê.
Simbole
en rituele was natuurlik nog altyd met ons. Die Gereformeerde erediens was nog
altyd ‘n ritueel – van die dominee en kerkraadslede wat die kerkgebou binnekom
tot die uitspreek van die seën aan die einde. Die kansel, die doop, nagmaal,
bevestiging van kerkraadslede, belydenisaflegging – deurspek van simbolies en
ritueel. Maar let op hoe rasioneel hierdie simbole en rituele ingeklee word: jy
ontvang by elke ritueel ‘n ellelange verduideliking oor wat dit presies
beteken, en wat dit nie beteken nie. Dit laat niks aan die verbeelding of die
kreatiwiteit van die Gees oor nie. Die kommunikatiewe krag van simbool, ritueel
en teken word in die niet in verduidelik.
Sonder
om die kosbare inhoude van ons Gereformeerde erfenis oorboord te gooi – daar is
baie – moet daar tog ruimte wees vir groter diversiteit in ons geloofsbelewing. En geduld met mekaar.
Nie
almal word ewe diep geraak deur die diep skuiwe in die waardesisteme en
paradigmas van die samelewing nie. Sommige word meer aangespreek deur rasionaliteit, ander deur simbool en teken. Is dit
idealisties om ‘n kerk te voorsien waarin ons ruimte vir mekaar maak? Dit lyk
my baie gemeentes wat van ver-roomsing beskuldig
word, is eintlik hiermee besig.
Ervaring
leer dat ‘n ruimer bedieningstyl dit dikwels vir
gesinne moontlik maak om saam te aanbid, aangesien die ouers byvoorbeeld nie
God op dieselfde manier ontmoet as hul kinders nie. Sou ons – as dit ons nie
aanspreek nie - bereid wees om ‘n meer simboliese aanpak te “verduur” ter wille
van mense wat die kerk nooit met die evangelie sou bereik as ons net bly by die
rasionele fynskrif van ‘n leerstellige aanpak nie.
Dit
ondermyn nie waarheid nie – dit vul dit aan.
Moet
ook nie vergeet dat die denominasionele mure in ons
tyd aansienlik laer word nie, en dat kerke ‘n baie groter waardering vir mekaar
ontwikkel, bereid is om die waarheid en die Here se werk in mekaar raak te
sien, en saam na die koms van God se koninkryk te soek nie. Daar is ook ‘n
groeiende waardering vir die kerk van die eeue se geloof en wat ons daaruit
leer. Ons dink weer diep na oor die antieke belydenisskrifte en leer by die
gelowiges van ouds – ook van hul geloofspraktyke en
die inweef van die evangelie in hul lewens deur daaglikse toewyding soos
uitgedruk in hul geestelike dissiplines en gewoontes.
Moet
mens dit alles nou ver-Roomsing noem? ‘n Laat los van
die Skrif? ‘n Gevaar?
Dit
is jammer dat die Pienaars die NG Kerk verlaat. Binne
een kerkverband kon hulle ‘n belangrike rol speel om die evangelie oop te breek
vir daardie lidmate wat op ‘n spesifieke wyse en met ‘n bepaalde spiritualiteit
die Here ontmoet. Dit is nie nodig om ‘n gemeente daaroor te skeur nie. Bo
Invloed vanaf die periferie: Pous Johannes Paulus II
In dieselfde week
waarin ons uitgedaag word om te antwoord op beskuldigings van ver-roomsing (as regverdiging vir ‘n gemeente-skeuring),
treur miljoene gelowiges – oor denominasionele grense
heen – oor die heengaan van ‘n groot geestelike leier: Pous Johannes Paulus II.
Hoewel
Gereformeerdes – en dit sluit die NG Kerk in Oos-Kaapland
in – groot teologiese verskille met Rome het, die pous nooit dié
verteenwoordiger van Christus op aarde sal noem nie, bestaan daar tog geweldige
waardering vir die wonderlike bydrae van die afgestorwe pous om genesing in ons
wêreld te bring. Die val van kommunisme, die waardering vir gesinne, respek vir
die lewe, Christelike kritiek teen ideologieë soos kapitalisme en waarskuwings
teen die effekte van globalisering op armes word aan hom verbind. Hy was ‘n
ekumeniese pous wat brue ook na gereformeerdes gebou
het. Hy het aandag aan die jeug gegee – verstommend dat soveel jongmense met sy
begrafnis oor ‘n ou man van 84 getreur het!
Hoe
het die pous dit reggekry om in ‘n (skynbaar) sekulariserende
wêreld soveel invloed uit te oefen? Waarom word sy begrafnis die grootste van
die moderne tyd – dalk van alle tye?
Dit
het ongetwyfeld met sy vormingsjare in Pole te doen
waar die kerk deur die Nazis en later veral deur die
kommunistiese bewind gemarginaliseer was. Hier het hy die vaardighede aangeleer
om as verteenwoordiger van ‘n gemarginaliseerde
instelling mense in die styl van die evangelie te mobiliseer, met politieke
maghebbers om te gaan en so invloed uit te oefen. Dit het hy op ‘n eg-Christelike wyse ook as pous gedoen – soveel so dat die
kommunistiese Gorbatjov gesê het sy geduldige,
liefdevolle styl het nuwe maniere van dink en besluit in die Kremlin moontlik
gemaak.
As
voormalige professor in filosofie en teologie het hy natuurlik ook diep insig
in die tydsgees gehad, wat hom in staat gestel het om ‘n Christelike respons
daarop te ontwikkel.
Waar
die Christelike kerk in die Westerse samelewing uit die sentrum van mag na die
periferie verskuif is – iets wat ook in die laaste dekade in Suid-Afrika
gebeur, kan ons almal iets leer by Pous Johannes Paulus II. Bo
DAGBOEK
Geestelike musiek extravaganza steek grense na
ander rasse en klasse oor
Obed Produksies, onder
leiding van ds Danie Matthee, beplan ‘n teateropvoering in die PE Operahuis (27 Julie tot 6
Augustus) met die titel: “Destined to win – Oorwinnaars”. Dit vind plaas na die baie
suksesvolle en besondere produksies soos “Rut” en “Bhoer
maak ‘n plan” wat die afgelope jare uit Matthee se
pen en onder sy leiding die lig gesien het.
Die
eerste helfte van die opvoering dek die Bybelse inhoud, met klem op Christus se
lewe, sterwe en opstanding, terwyl die tweede helfte aantoon hoe Christus by
die wêreld betrokke is en hoe ons in die alledaagse lewe by Hom kan aansluit.
Die wil gelowiges en buitestaanders help om Christus
op ‘n nuwe manier te sien. Op hierdie manier kry kunstenaars, sangers, akteurs,
musikante en tegniese personeel ook geleentheid om met die evangelie uit te
reik. Die produksie wil ook oor grense soos ras, klas en denominasie uitreik om
mense aan mekaar te bind in die Naam van Christus.
Kerke
word gevra vir gebedsondersteuning, om lidmate te
mobiliseer om na die vertoning te kom kyk, en dit finansieel te ondersteun deur
elke aand vir ‘n vol teater te sorg.
‘n
Verdere doel is om mense uit minderbevoorregte gemeenskappe die geleentheid te
gee om in die teaterbedryf te werk. Daarvoor benodig Obed Produksies mense wat bereid sal wees om vervoer vir
hierdie kunstenaars na afloop van vertonings te verskaf, etes moet ook op stel gegee
word, en in die algemeen finansiële ondersteuning.
Meer
inligting kan bekom word deur Danie Matthee by 082
876 9015 te skakel. Bo
Geleenthede om op die korttermyn na die 10-40 venster uit
te reik
Die Masedonië-Projek bied vanjaar ‘n hele palet besondere uitreikgeleenthede aan. Die volgende geleenthede bestaan:
* Na Turkye: Volgens Operation World is
hierdie een van die grootste onbereikte lande in die
wêreld. Persone wat finansiële ondersteuning kan gee en/of self gaan met die
oog op Bybelverspreiding word benodig.
* Na Londen – London Bridges Projek: Sowat 300,000 Arabriere
uit veral die Arabiese skiereiland hou jaarliks tydens die noordelike halfrond
se somervakansie vakansie in Londen. Hulle hou van die koel weer en span graag
in die oop, groen parke uit. Hier het uitreikers die geleentheid om die Arabiese
kultuur eerstehands te leer ken, Bybels as geskenke aan te bied, en – wel – hul
Arabies op te knap!
* Operasie Noord-Afrika: Hierdie projek fokus op
die hawens aan die Europese kant van die Middelandse
See. Een miljoen inwoners van Noord-Afrika, wat in Europa werk, vaar jaarliks
oor dié see om by hul familie te gaan kuier. Daar is genoeg tyd om vriende met
hulle in die hawens te maak en ‘n Bybel aan te bied. Die doel is om elkeen die
geleentheid te gee om die Christelike geloof eerstehands te ondersoek.
Kontak die Masedonië Projek by tel 012
348-6520/1 vir meer inligting. Bo
Algemene Predikantebyeenkoms
Teen hierdie tyd
het elke predikant ‘n persoonlike uitnodiging na hierdie byeenkoms deur die pos
ontvang. Dit sluit ook ‘n skrywe aan leierouderlinge en kerkrade in. Doen
asseblief moeite om daar te kom.
Die
Sinodale Kommissie het besluit dat gemeentes wat nie kan bekostig om hul leraar
te stuur nie, in werklik verdienstelike gevalle, om subsidie by die sinode
aansoek kan doen. Kontak asseblief vir sinodale verteenwoordiger, dr Kobus
Prinsloo, in hierdie verband. Bo
Open Doors presents: Brother Yousif
To address issues of relevance in areas of
conflict in the Middle East, Open Doors has invited
Brother Yousif to
Date: 28 April 2005
Time: 19:00
Venue: Heideveld
Dutch Reformed Church, Corner of
There are no costs involved, please invite as
many as possible of your friends.
For more information contact Gerrit
& Janine Coetzee 3603129 / 0824145258 Bo
Jaarvergadering Werkgemeenskap vir Praktiese Teologie: 13-15 April 2005
Die Werkgemeenskap
vir Praktiese Teologie van Suid-Afrika hou sy jaarvergadering vanaf 13-15 April
2005 in Pretoria. Alle lede en
belangstellendes word genooi om die byeenkoms by te woon. Dit word vanjaar in die vorm van ‘n
werkwinkel aangebied.
Die Tema is MIV en
Vigs
Deelnemers sal betrek
word in ‘n proses van:
* Blootstelling aan
persone wat met MIV of Vigs leef
* Deelname in klein
groepe wat onderhoude voer met persone
* Prakties-teologiese
nadenke
* Formulering van
voorlopige interpretasies
* Formulering van ‘n
verklaring vir toekomstige optrede
Die konfernsie word gehou by die kerksentrum
van die NG Kerk Suidoos Pretoria, Stellastraat,
Brooklyn.
Verdere inligting kan
verkry word by die sekretaris: Dr Louis Dressel (012)
322 8900 / 082 577 2115 Bo
* Die volmaakte dominee preek presies 10
minute lank.
* Hy preek reguit teen sonde maar maak
niemand se gevoelens seer nie.
* Hy werk van 8:00 tot middernag en is
sommer ook die koster.
* Hy verdien R280
per week, dra goeie klere, bestuur 'n goeie motor, koop goeie boeke en gee R200 per week as dankoffer.
* Hy is 29 jaar oud en het 40 jaar
ervaring.
* Hy is natuurlik baie aantreklik ook.
* Die volmaakte dominee het 'n passie vir
jeugwerk, en spandeer die meeste van sy tyd met bejaardesorg.
* Hy glimlag gedurig met 'n ernstige
gesig, want hy het 'n goeie sin vir humor wat hom 'n ernstige, toegewyde mens
maak.
* Hy besoek elke dag 15 huise en is altyd
op kantoor as jy hom nodig het.
*· Hy het altyd
tyd vir die kerkraad en al die komitees. Hy woon alle vergaderings by en is
gedurig besig om buitekerklikes vir Christus te wen.
*· Die volmaakte
dominee dien ongelukkig altyd in 'n ander gemeente.
*· As jou leraar nie so is nie, stuur hierdie boodskap aan ses
ander gemeentes wat ook moeg is van hulle predikant. Verpak dan jou predikant
en pos hom aan die gemeente bo aan die lys.
*· As almal
saamwerk en betrokke raak sal jy binne 'n week 1,643 predikante ontvang.
*· Een van hulle
sal darem seker volmaak wees.
*· Glo in hierdie
brief. Een gemeente het die ketting verbreek en binne drie maande hulle ou
leraar teruggekry.
Groete tot ons weer gesels,
Danie Mouton