OosKaap Sinode
eNuus
Nuus uit die
Oos-Kaapse Sinode in sitting te Port Elizabeth, 12-15 November 2007
Uitgawe 2 -
Dinsdag 13 November 2007
NB:
Die dokumente van hierdie vergadering van die
Oos-Kaapse Sinode is beskibaar by www.ngkok.co.za/sinode2007.
Klik hier vir die Gebedsonderwerpe vir Woensdag, 14 November, opgestel deur
Rethie van Niekerk.
OPENINGSREDE
Tydens Maandag se aandsessie het ds Hansie
Schutte die openingsrede nav Jes 58:11 aan die sinode voorgehou. Baie sterk kom
dit deur: Ons heil lê by die Here! Hy seën ons oorvloedig! Hy voorsien in ons
behoeftes! Hy gee krag en leiding en vreugde! (Jes 58:11) En dit alles is dinge
wat die wêreld (insluitende ‘n goue beker) nie kan gee nie. Al hierdie dinge is
beskikbaar as ons ons verantwoordelikheid nakom deur te doen wat God van ons
vra (vs 13).
DIENSWERK
OP GRONDVLAK
Me Corné Erasmus (CM-Raad) deel Dinsdag oggend
met die sinode hoe die organisasie betrokke is by mense wat lewe met MIV/Vigs.
Tragiese foto’s word vertoon van oa kinders wat van dag tot dag reeds met die
siekte worstel. Praktiese suggesties oor hoe mense betrokke kan wees is met die
vergadering gedeel.
Die NG Kerk is ‘n Omgeekerk: Ds Hansie Schutte
hanteer die groot 3 sake wat aandag kry in die kerk in die Oos-Kaap te wete
MIV/Vigs, geweld teen vroue/ kinders en die jaarlikse Sondag vir Barmhartigheid.
Gemeentes word opnuut opgeroep om met die betrokke kantoor te skakel tov
aspekte van Diens van Barmhartigheid soos dit in gemeentes realiseer.
Die sinode hoor eerstehands by monde van Shelly
Strydom, ‘n aanvallige blonde dame, hoedat die werklikheid van geweld teen
vroue (en kinders) ‘n mens kan bring op die rand van ineenstorting ná ‘n tweede
huwelik wat aan die verbrokkel was. Sy getuig prontuit hoedat net die Here
self deur sy kerk en sy mense haar weer
by ‘n herstelpad kon bring.
Ter ondersteuning van dié tema word ‘n DVD aanbieding van die kerk se
werksaamhede vertoon soos dit tans in die Oos-Kaap deur ringe en gemeentes
gedoen word. ‘n Mens voel trots om deel van so ‘n Omgeekerk te wees, en dit in
die Naam van Jesus!
KERKHERENIGING
Kerkhereniging was vervolgens aan die beurt en die sinode neem kennis
van die terugvoer van gemeentes ná konsultasie wat sedert die Algemene Sinode
in Junie 2007 in Oos-Kaap gemeentes plaasgevind het. Elke afgevaardigde kry
geleentheid om aan tafel (8 persone per tafel) ‘n mening te gee/ vrae te vra/
deel te neem aan die bespreking. Met hierdie vergader-metode kry sowat 31
persone (aantal tafels) tegelykertyd kans om te praat- wat ‘n wins! Volledige
dokumente tov gemeente terugvoer is by bogenoemde webblad beskikbaar.
So op ‘n ligter trant: Uit kerkspieël se terugvoer oor kerkhereniging
sien ons daar is 2 persone (anoniem) in die Oos-Kaap wat aandui dat hulle sterk
gekant is teen pogings tot kerk hereniging en dat hulle inderdaad deelneem aan
aktiwiteite om dit te verhoed. Ons tafel het gewonder of afgevaardigde
ouderling CFJ “Oorlog” Botha van Dias-gemeente dalk enigiets hiermee te doen
het?
Die daaropvolgende debat in die groot vergadering vertoon duidelike lyne
van positiwiteit wat bestaan oor kerkhereniging, maar ook uiteenlopende
meningsverskil oor die hoe daarvan onder afgevaardigdes.
HERROEPING 1857-BESLUIT
Die Sinode het – in tandem
met die NG Kerk in Wes- en Suid-Kaapland – die besluit van die Kaapse Kerk in
1857 wat das ‘n direkte aanleidende oorsaak van die verdelende kerkformasie in
die NG Kerk gesien word, simbolies herroep. Hier is die teks van die voorstel
wat deur die sinode aanvaar is:
Voorstel:
1. Die Sinode is bemoedig deur en neem met
dankbaarheid kennis van die weg wat die Here spesifiek met die NG Kerk in die
Oos-Kaap t.o.v. versoening in rasseverhoudinge geloop het – soos o.a. gehoor in
die verhale wat tydens die openingsliturgie van die sinodesitting deur
Ringsafgevaardigdes vertel is.
2. Die Sinode onderwerp haar aan die Here se
oproep in sy Woord tot versoening en eenheid van sy kerk en neem graag hande
met die Sinode van die Wes- en Suid-Kaap in die herroeping van die besluit van
die Kaapse Kerk op 6 November 1857 wat direkte aanleiding tot kerkskeuring /
afsonderlikheid in die kerk o.g.v. ras gegee het. Die volledige besluit lui as volg: “De Synode beschouwt het wenschelijk en
schrifmatig, dat onze ledematen uit de Heidenen, in onze bestaande gemeenten
opgenomen en ingelijfd worden, overal waar zulks geskieden kan; maar waar deze
maatregel, ten gevolge van de zwakheid van sommigen, de bevordering van de zaak
van Christus onder de Heidenen, in den weg zoude staan, de gemeente uit de
Heidenen opgerigt, of nog op te rigten, hare Christelijke voorregten in een
afzonderlijk gebouw of gesticht genieten zal.”
3. In die lig van die verloop van die
geskiedenis betreur die Sinode die tweede deel van die besluit waarvolgens die eise
van die praktyk as norm bo die eise van die Skrif geneem is en dit oor ‘n
tydperk van 150 jaar tot groot pyn by lidmate van die NG Kerk familie gelei
het.
4. Die Sinode roep in herinnering
dat die gemeente uit wie se geledere hierdie genoemde besluit van 1857 geneem
is, uit Oos-Kaapse bodem (Stockenström-gemeente en die Ring van Albanie) kom en
daarom die behoefte het om hierdie besluit ook juis vanuit die Sinode van die
Oos-Kaap te herroep as ‘n gebaar om haar erns met God se roeping tot versoening
en hereniging te bewys.
Die Sinode moedig, saam met die Sinode van die Wes- en Suid-Kaap, gemeentes
en ringe aan om die versoening en hoop sigbaar te maak deur sover as moontlik
met die ringe en gemeentes van die VGK, RCA en NGKA te verenig.
5. Die Sinode vertrou dat die Here
ons op hierdie weg sal lei om heling vir die wonde te bring en ‘n lig vir die
nasies te laat skyn.
(E Malan / S du Toit)
SAPD BESOEK DIE SINODE
Ds Eldré Bester stel 2 beamptes van die SAPD aan die vergadering voor,
tw direkteur Ernie Neveling (stasie kommissaris: New Brighton) en kapt Johan
Rheeder (Gelvandale, kommunikasie beampte). Ons besoekers pleit vir gereelde
voorbidding vir die sowat 16 000 SAPD beamptes in die Oos-Kaap en pleit vir
betrokkenheid van die kerk by die plaaslike polisie kantore. God is in die SAPD
aan die werk: 22 voltydse kapelane uit die Christelike geloof bedien daagliks
die Woord aan lede. Wat meer is, ‘n beduidende kader van senior lede is
belydende Christene wat die Christelike bediening in die SAPD positief gesind
is. Die afgevaardigdes bid vir die SAPD by die verskillende tafels.
GRONDHERVORMING
Ook die onderwerp word bespreek en verskeie besluite in die verband word
geneem.
HOMOSEKSUALITEIT
Na debat oor die stukke vanaf die Algemene Sinode het die sinode kennis
geneem van die inhoud.
KERK EN STAAT
Dr Ben du Toit het ‘n voorlegging oor hierdie verhouding aan die Sinode
gedoen.
Díe Sinode is deurgaans besig om God-vrae te vra: Waar sien ons God aan
die werk in die wêreld? Hoe kan ons, die liggaam van Christus daarby betrokke
raak en ‘n bydrae lewer? Wat wil die Here vir ons sê?
Groete tot môre.
Wicus Wait
GEBEDSONDERWERPE
Klik hier vir die Gebedsonderwerpe vir Dinsdag, 14 November 2007. Dit word opgestel
deur Rethie van Niekerk.