OosKaap Algemene Sinode eNuus
Nuus uit die Algemene Sinode in sitting te Johannesburg,
4-8 Junie 2007
Uitgawe 5 - Vrydag, 8 Junie 2007
NB:
Deel
1 en 2 van die Sakelys van die Algemene, tesame met die Aanvullende Verslae is beskikbaar
by www.ngkok.co.za/as2007. U kan
dit gebruik as verwysing by die lees van hierdie nuusbrief. Vorige uitgawes van
OosKaap Algemene Sinode eNuus
is ook hier beskikbaar.
Julle
kan gerus ook kyk na ‘n paar persberigte
wat oor die Algemene Sinode verskyn het.
A.
ROEPINGSVERKLARING
Die
NG Kerk is per definisie ‘n roepingsgedrewe kerk. Ons
is nie daar om bloot strukture in stand te hou nie. Ons is daar om op God te
fokus, ons identiteit in Hom te vind, en ‘n roeping uit sy hand te ontvang. Die
Algemene Sinode het die volgende roepingsverklaring
goedgekeur:
Roepingsverklaring van die Nederduitse Gereformeerde Kerk
Algemene Sinode : Junie 2007
Ons besef opnuut God roep die NG Kerk
deur sy Woord en Gees om aan Hom te behoort. Christus, die Hoof van die kerk, stuur ons om
ons roeping te gehoorsaam en ons daaraan toe te wy:
(a) Om met ‘n leerbare
gees die wil van God deur sy Woord te leer ken en uit te leef in die uitdagende
en komplekse wêreld waarin ons lewe.
Ons is daarvan oortuig dat slegs die
evangelie van Jesus Christus mense op die pad van verlossing, versoening en
lewende hoop plaas. Daarom wil ons die
Woord van die Here tydig en ontydig verkondig, as profete optree, en oral
getuienis aflê van die hoop wat in ons leef.
(b) Om voortdurend in
liefde na mekaar te luister en in ons vertroue van mekaar te groei.
Bewus van ons diversiteit, verbind
ons ons aan groter eenheid tussen gemeentes, aan die
hereniging van die kerkfamilie, asook aan die versterking van ons ekumeniese
bande. Ons wil graag met alle ander
Christene saamwerk om veilige ruimtes te skep waarbinne ons eerlik met mekaar kan
praat en bly praat.
(c) Om in deernis met
ander saam te leef.
Ons word deur God geroep as deel van
sy liggaam in Afrika. Ons is dankbaar
vir alle positiewe ontwikkelinge op ons kontinent, waaronder die snelle groei
van die Christelike geloof. Daar is ook vele
tragiese verhale van geweld, misdaad, armoede, hongersnood en die gevolge van MIV-Vigs. Ons betuig
ons meegevoel aan die talle slagoffers hiervan en wil meewerk aan genesing vir
mens, dier en omgewing. God roep en stuur
sy kerk om ‘n verskil te maak. Ons
verseker alle owerhede van ons voorbidding.
(d) Om met openheid
onvoorwaardelik diensbaar te wees in die wêreld.
Ons wil graag met alle ander
Christene hande vat om ons samelewings op te bou en pynlike omstandighede te
verlig. Ons wil mekaar as gemeentes en
leiers met liefde aanspoor, begelei en toerus om by die genesing van ons lande betrokke
te raak. Ons is beskikbaar en is verbind
tot diens aan gemeenskappe. Ons dank die
Here vir die toewyding van lidmate en die talle positiewe aksies waarvan ons
oral hoor. As gestuurde gelowiges is ons
sout van die aarde en lig vir die wêreld. Ons staan in diens van die koms van God se
koninkryk.
Ons buig voor die Here. Ons is hier. Ons is sy kerk. Ons is gestuurdes.
Aan God al die eer.
B. WEER EENS
: HOMOSEKSUALITEIT
‘n
Groot groep sinodegangers het berigte wat vanoggend
in Beeld verskyn het, met groot ontsteltenis begroet. Dit gaan veral oor die interpretasie dat kerkrade gays wat in
vaste verhoudings lewe in die amp van ouderling en diaken kan bevestig. Uit die
bespreking het geblyk dat almal moet onthou dat ons hier met ‘n
kompromisvoorstel te doen het - almal is in een of ander mate teleurgesteld met
enige kompromis. Enkele afvaardigings het aangedring op ‘n spesifieke uitleg van
die besluit, maar aangesien dit neergekom het op ‘n de facto poging om die
besluit as ‘n volslae oorwinning vir die anti-gay
standpunt te kaap, het die vergadering dit afgewys.
Uiteindelik het die sinode ‘n voorstel met ‘n
baie groot meerderheid aanvaar dat al agt punte van die besluit oor
homoseksualiteit as ‘n eenheid aan die vergadering gestel is, en as eenheid
verstaan en uitgelê moet word.
C. UITEINDELIK!
BEWOORDING VAN KERKORDE ARTIKEL 9 GEWYSIG
Artikel
9 van die Kerkorde omskryf die taak van die predikant. Die volgende bewoording
is goedgekeur en behels ‘n baie betekenisvolle wysiging van die ou Artikel 9.
Dit bring dit in lyn met missionêre teologiese
oorwegings.:
9.1 Die fokus van die amp van die predikant is
die bediening van die Woord (in al sy gestaltes) en van die sakramente, sowel
as die toerusting van gelowiges vir die deelname van die kerk aan die werk van
God in sy wêreld.
9.2 Die predikant is geroepe om die Woord van God
te bestudeer, onderrig daarin te gee en dit oral te verkondig, om die
sakramente te bedien en om saam met en vir die gemeente te bid, en ‘n navolger
van Christus te wees op so ‘n manier sodat ander Hom ook kan navolg.
9.3 Die amp van die predikant funksioneer binne ‘n
gemeente of as deel van die dienswerk van die kerkverband in die wêreld.
9.4 In gemeentes aanvaar die predikant veral
verantwoordelikheid vir die prediking en die bediening van die sakramente. Die
predikant is, saam met die ander ampte, verantwoordelik vir:
* die diens van die gebede;
* eredienste;
* onderrig en toerusting;
* opbou van die gemeente;
* die gemeente se dienswerk in die wêreld;
* leiding en organisering van die gemeente;
* uitoefening van Christelike en tug;
* pastorale versorging.
Kerkrade
onderskei, saam met die predikant, oor die wyse waarop dié roeping en
verantwoordelikhede, in lyn met bepaalde begaafdhede,
uitgeleef word en vervat dit in ‘n diensooreenkoms.
9.5 Die predikant neem ook deel aan die
gesamentlike bediening van die kerkverband in die onderskeie kerklike
vergaderinge en ekumeniese verhoudings.
9.6 As deel van die dienswerk van die kerkverband
aan die wêreld tref die kerkverband reëlings oor die wyses waarop die predikant
deelneem aan die werk wat God in Christus deur sy Gees in die wêreld doen.
D. UIT DIE PERS
Beeld:
Moenie die ooms onderskat – grysheid bring wysheid
Jan-Jan Joubert
Dit was gister asof die wolk van
swaarmoedigheid wat sedert Maandag net oorkant die einder gehuiwer het, by die
NG Kerk se algemene sinode in Boksburg lig.
Die konsensus wat oor die hantering van gay lidmate bereik is, maak van
die NG Kerk een van die progressiefste kerke in die
land oor dié kwessie – en laat aan diegene wat meer behoudend voel, die ruimte
om in eie gemeente vas te hou aan die ou weë.
Sekerlik sal niemand heeltemal tevrede wees nie, maar dit skep in die
woorde van dr. André Bartlett, leier van die meer
progressiewe benadering hieroor in die NG Kerk, plekke van veiligheid vir gay
gelowiges wat lidmate van dié kerk wil wees.
Dit het aanvanklik eergisteraand gelyk asof die behoudende standpunt,
wat minder tegemoetkomend teenoor gays in monogame verhoudings is, die
meerderheidstem sou kry.
Diegene wat behoudend gepraat het, het deurgaans aangevoer hulle doen
dit in liefde en deernis, maar dat die Bybel hulle net nie toelaat om die meer
progressiewe verslag te aanvaar nie.
Hulle het vertel van hul worsteling, en dan bepleit dat gay gelowiges
nie dieselfde regte as heteroseksuele gelowiges kan hê nie.
Dit was miskien die enigste wanklank. ’n Mens kon nie anders nie as om
die eggo te hoor van die dae toe die sinode se voorgangers oor ander gemarginaliseerdes, soos bruin lidmate of vroue in sommige kerkampte, dieselfde sentiment uitgespreek het: Ons wil aan
jou gelyke regte gee, maar ons lees die Skrif laat dit nie toe nie; ek het jou
lief, maar Die Bybel laat my nie toe om jou volkome te aanvaar soos jy is nie.
So goedbedoeld as wat sulke mense se woorde
mag wees, was daar baie hier wat gemeen het die vroomheid en beweerde deernis
sou beter neerslag vind in die toestaan van gelyke regte: As jy iemand hel toe
stuur, doen jy dit sekerlik nooit met deernis nie, al is jou bewoording hóé
uitstekend.
Maar daar was ander sprekers in die debat wat die belangrikheid van die liefdesgebod bo enige wettiese teksinterpretasie
gestel het: soos Bartlett van Aasvoëlkop, ds. Koosie Delport van Stellenberg,
prof. Julian Muller van Pretoria, prof. Elna Mouton, teologiedekaan op
Stellenbosch, prof. Adrio König
van Pretoria, dr. James Kirkpatrick van Suidoos-Pretoria, ds. Martin Lazenby
van Pierneef, ds. Henning Jacobs van Randburg-Suid,
en nog ander.
Hulle het spesifiek gevra dat
gemeentes kan besluit. En teen baie verwagtinge in het die sinode ingestem.
Wat ’n dag om te beleef!
Benewens gays en kerkeenheid is daar twee
ander kwessies waaroor sommiges op die sinode veel te sê het: ouderdom en
geslag. Verskeie afgevaardigdes wil by joernaliste weet waarom méér gewag nie
gemaak word van die relatief min vroue en jong afgevaardigdes nie.
Die rede is eenvoudig. Die algemene sinode is nie gans die kerk nie en
afgevaardigdes is op verantwoordbare wyse aangewys. Uit my grootworddorp
in KwaZulu-Natal is daar byvoorbeeld net een dominee.
Hy is ervare en word deur ons gemeenskap vertrou – dit weet ek.
Ja, die meeste sinodegangers is wit mans wat
enigiets van middeljarig tot bejaard is. Maar miskien moet ’n mens die
wesenlike liberale grondbeginsel aanvaar dat enigeen aan sy of haar inset
gemeet word (dit waaroor mens beheer het), eerder as sy of haar demografiese
groep, wat niemand kan beheer nie.
Dalk moet ’n mens hieroor kers opsteek by mev. Helen Suzman,
wat in 1953 tydens die nominasiestryd in Houghton
gesê het: “Ek wil nie hê dat julle vir my stem omdat ek ’n vrou is nie. Ek wil
net nie hê julle moet teen my stem omdat ek ’n vrou is nie.”
Gelyke behandeling sonder gunste, dus.
Hierdie afgevaardigdes is 400 uit 1,162 miljoen NG lidmate. Dis
noodwendig dat mense met ervaring gestuur sal word na só ’n belangrike
kerkvergadering.
En as dit gaan om uitset, sou min
mense kon kers vashou by hierdie ooms. Daar is nie ’n wegglippery
nie, daar is nie veel tydmors nie, op die oog af is die mense ingelig. Die
debat is van hoë peil en persoonlike nydigheid kom soms verskuild
voor, maar dan op so ’n wyse dat ’n politieke verslaggewer soms voel dis tot ’n
kunsvorm skerpgemaak!
Trouens, laat ’n mens toegee: Waar sommige van die teologiestudente wat
hier as hulpspan optree, redelik afwysend verwys na
die ou ooms met die grys skoene, sou jy stellig kon aanvoer die ooms het dalk
al meer oor dié sake vergeet as wat sommige van hul kritici ooit sal aanleer.
En hul gay-besluit wys soms kom die wysheid
met die grysheid en kan ’n klomp gryskoppe meer oopkop wees as wat algemeen
aanvaar word.
Moenie die ooms onderskat nie!
Beeld:
Nuwe NG moderator word verkies
Neels Jackson
Die nuwe moderator van die NG Kerk is
“iemand met wie jy presies weet waar jy staan”.
Dis hoe dr. Coenie Burger, uittredende
moderator, gister vir prof. Piet Strauss beskryf het nadat Strauss as sy
opvolger gekies is.
Die sinode het Strauss met ’n volstrekte meerderheid in die eerste
stemming aangewys.
Die 55-jarige Strauss is dosent in kerkgeskiedenis en kerkreg aan die
Vrystaatse Universiteit.
Hy is ook hoofleier van die Voortrekkerbeweging, moderator van die
Vrystaatse streeksinode en was die afgelope twee termyne assessor
(ondervoorsitter) van die algemene sinode.
Strauss het ná sy verkiesing gesê hy weet dis ’n moeilike taak wat op
hom wag.
Hy het egter gesê hy glo nie aan ’n pous nie en dat dit daarom ’n taak
is wat hy saam met ander mense aanpak.
Kontak met lidmate is vir hom belangrik omdat hy meen die lidmate moet
weet hulle kan die kerk se moderamen vertrou.
Oor die groot klomp ysters wat hy in die vuur het, het Strauss gesê hy
wil by die Voortrekkers aanbly, maar wil van die Vrystaatse moderatuur bedank.
Saam met Strauss is dr. Nelus Niemandt, moderator van die Hoëveldsinode,
as assessor op die moderatuur verkies.
Dr. Johann Ernst, moderator van die Oos-Transvaalse
sinode, is die nuwe aktuarius.
E. AFSLUITING
Die sinode word later vanoggend met ‘n
verbintenis aan die Here en die kerk se identiteit en roeping afgesluit.
Die
Algemene Sinode is verby. Ek groet vir oulaas uit Boksburg.
Danie
Mouton