OosKaap Algemene Sinode eNuus
Nuus uit die Algemene Sinode in sitting te Johannesburg,
4-8 Junie 2007
Uitgawe 3 - Woensdag, 6 Junie 2007
Hierdie eNuus handel oor die besluite oor
Kerkhereniging en Homoseksualiteit
NB:
Deel
1 en 2 van die Sakelys van die Algemene, tesame met die Aanvullende Verslae is
beskikbaar by www.ngkok.co.za/as2007.
U kan dit gebruik as verwysing by die lees van hierdie nuusbrief. Vorige
uitgawes van OosKaap Algemene Sinode eNuus
is ook hier beskikbaar.
Julle
kan gerus ook kyk na ‘n paar persberigte
wat oor die Algemene Sinode verskyn het.
A.
KERKHERENIGING
Agtergrond
Die
NG Kerk het ‘n leidende besluit oor kerkhereniging by die Algemene Sinode van
2004 geneem wat sedertdien as verwysingsraamwerk vir gesprekke gedien het.
Aanvanklik was die reaksie van die VGK nie baie positief nie, maar sedert die
VGK se Algemene Sinode in 2005 het die situasie verander. In Junie 2006 het die
NGK en VGK tydens ‘n vergadering in Esselenpark baie aandag aan die vlakke van
vertroue gegee. Ten spyte van verskille is ‘n kosbare vertrouensbasis
hier gebou. ‘n Proses is geskep om ook die NGKA en RCA te betrek. In Augustus
2006 het so ‘n gesprek in Bloemfontein plaasgevind. Daar het die leierskappe van die vier kerke die eerste keer by Achterberg bymekaar gekom, en in Mei 2007 het Achterbergh 2
plaasgevind. Hierdie dokumente is verkrygbaar in die Aanvullende Verslae, bl 28
en verder. Verder is alle Achterbergh dokumente ook op ons webblad (www.ngkok.co.za) beskikbaar.
Vier aspekte het by Achterbergh 2 aandag
gekry: konfessionele basis, model, gesamentlike projekte, en versoening. ‘n
Voorgestelde versoeningsproses is ook geformuleer. Die volledige Achterberg 2 dokumente is in die Aanvullende Verslae (bl
28-37). ‘n Opsomming hiervan is te vind in die Aanvullende verslae in die
raampie wat strek vanaf bl 23-25.
Die Achterbergh 2 dokumente is nog nie vas
en konkreet genoeg nie. Hoewel gemeentes oor die inhoud hiervan gekonsulteer
sal word, sal dit nog net die eerste rondte van gesprek wees. Daar sal daarna
‘n verdere rondte van raadpleging met gemeentes plaasvind.
Van die Algemene Sinode word slegs gevra
om die breë rigting van Achterbergh 2 goed te keur as ‘n vertrekpunt vir die
voortsetting van die reis.
Volgens Coenie Burger is die proses baie
broos en is daar baie dinge wat nog deurgepraat moet word. Daar sal nog baie
werk gedoen moet word.
Posisie oor Belhar
Die
NG Kerk en Afrika en die Reformed Church
in Africa is nie een gereed om Belhar as belydenisskrif te aanvaar nie. Dit lyk of die NGK en VGK se
Algemene Sinodes se standpunte begin konvergeer: die VGK stel dit nie langer as voorwaarde vir
kerkhereniging nie, en die NGK aanvaar die Bybelse inhoud, maar het talle
lidmate en kerkrade wat nie gereed is om dit as belydenisskrif
te aanvaar nie.
Model vir kerkhereniging
Daar
is ‘n hele dag spandeer met regsverteenwoordigers oor hereniging. Die wetgewing
in SA is nie baie vriendelik teenoor herenigingsprosesse
nie.
Daar
is vier voorlopige konsensuspunte:
Ons het gemeentes, ringe, sinodes en die
algemene sinode. Wat gemeentes
betref, behou plaaslike kerkrade volledige besluitnemingsbevoegdheid
oor die plaaslike bediening. Die grootste weerstand teenoor kerkhereniging hou
verband met wanbegrip oor hierdie beginsel.
Wat die Algemene Sinode betref sal dit die
plek wees om kerkhereniging in die verband te begin. Wanneer die kerke gereed
is, sal begin kan vorm om ‘n insluitende, herenigde
sinode te vorm.
Sinode en ringe se grense stem nie ooreen
nie, en dit sal langer neem om hier te herenig.
Die moontlikheid van assosiasie-lidmaatskap
word tans oorweeg. Die Protestantse Kerk in Nederland het op hierdie basis
verenig. Deelnemende kerke stem nie oor alles in die groter verband saam nie,
maar assosieer met die groter eenheid. Die RCA het bepaalde teologiese
verskille, bv oor die vrou in die amp, die gebruik van rook en drank, wat dit
dalk net moontlik sal maak om op die vlak van assosiasie-lidmaatskap
in te skakel.
Vrae
Tydens
die vergadering het die kleingroepe hul vrae op skrif gestel en aan die
moderatuur oorhandig. Meer as 80% van die vrae het oor die proses gehandel.
Hoe
gaan ons lidmate deel maak van die proses? Voor die einde van die jaar sal
die Algemene Sinode se besluite vir kommentaar na gemeentes gestuur. Dit sal
nog nie ‘n stemming behels nie, maar die terugvoer sal verreken word. Indien
daar konsensus met die ander kerke bereik is, sal ‘n tweede rondte van
raadpleging plaasvind voordat daar gestem word. Kerkrade sal inisiatiewe moet
neem om verhoudings op grondvlak te bou en gesamentlike projekte aanpak.
Hoe
kan ons maak om die proses te vertrou? Volgens Coenie het hy gedoen wat hy
kon. Die basis vir gesprek was die besluit van die Algemene Sinode 2004. Ons
sal moet kyk na ons kerksisteem. Mense sê net wat
hulle wil. Die vlak van vryspraak is geweldig groot - mense slinger
beskuldigings rond wat nie waar is nie. Vertroue is iets waarop mens moet
besluit, al weet jy jy kan toekomstig teleurgestel
word. Korrekte inligting moet so wyd as
moontlik versprei word.
Wie
dryf die proses - lidmate of van bo af? Dit moet van albei kante kom.
Is die vier kerke se bedoeling met kerkeenheid dieselfde? Nee. Selfs nie almal binne elke kerk
het ook dieselfde standpunt nie. Ons moet aktief daarna soek om mekaar te vind.
Wat
kan ringe nou al doen as hulle een wil word? Daar is ringe wat alreeds saam
vergaderings hou. Beide behoort nog aan hul kerke, maar hou vergaderings saam.
Hoe
lank gaan ons lidmate wat ons terughou duld? Selfs al moet ons buitengewone
maatreëls tref, moet ons soveel as moontlik mense binne hou.
Wat
is die moontlikheid van kerkskeuring? Veral die Hollandse Gereformeerdes
het ‘n baie slegte rekord as dit kom by kerkskeuring. Die Hongaarse
Gereformeerdes is al vir 500 jaar een. Ongelukkig verskil Christene. Enige
reëling wat Christene wat verskil bymekaar te hou in een kerkverband is beter
as kerkskeuring. Die moontlikheid van die assosiasie-verband
kan dalk daarmee help.
Is
gemeenteleiers genoegsaam bemagtig? Die prosesse in gemeentes kan baie
verder gaan as wat op die oomblik gebeur.
Taal? Die verskillende tale moet gekoester
word. Dit is vir almal vanselfsprekend dat gemeentes die gangbare taal sal bly
behou. By ringe, sinode en die algemene sinode moet elke vergadering self
besluit. Die VGK maak van tolke gebruik. Elkeen moet in die taal kan deelneem
waarin hulle gemaklik is.
Mense
se vrese? Die eenheid van die kerk het alles te doen met die identiteit van
die kerk. Mense is op soveel vlakke teleurgesteld met wat in die nuwe
Suid-Afrika gebeur dat mense dit oordra na die eenheidsproses.
Ons moet met ons lidmate oor die emosionele blokkasies vir hereniging praat.
Ons moet prosesse kry om emosies te hanteer. Luister ernstig na die vrese en
hanteer dit.
Strukture? Dis ‘n gereformeerd-presbiteriale
struktuur. Die regsadvies sê dat ons saam ‘n nuwe kerkverband moet vorm. Al die
gemeentes herorganiseer hulself in ‘n nuwe kerkverband. Dit behels die
herstrukturering van ringe, gemeentes en sinodes nadat ‘n algemene sinode tot
stand gekom het.
Eenheid
met kerke wat nie deel is van die NG Familie nie? Die Gereformeerde en Hervormde kerke was ook
deel van ons. Die drie kerke van die Familie is tans die mense wat sê ons moet
dit doen. Die Gereformeerdes en Hervormdes is nog nie op dié punt nie. Dan is
daar ook die Presbiteriane en Congregationals. Daar
sou op ‘n baie sagte manier begin kon word om alle Gereformeerdes /
Presbiteriane nader aan mekaar te bring.
Standpunte
van kerkrade? Die standpunte van
kerkrade in die stemming sal vir goedkeuring (approbasie) aan die gemeente
voorgelê word, soos in die geval van die verkiesing van kerkraadslede. Die
standpunte van kerkrade sal ernstig geneem word. As ‘n beduidende hoeveelheid
(ver minder as die vereiste persentasie) besware het en nie wil deelneem nie,
sal eers daaraan aandag gegee word.
Posisie
van gemeentes ten opsigte van hul regspersoonlikheid? Dit word in beide die
kerkreg en gemene reg beskerm. Daar is geen manier waarop ‘n algemene sinode,
sinode of ring kan beskik oor die bates van ‘n gemeente nie. Ons moet ook
onthou dat ons ‘n roeping het om armoede te verlig en om werktuie van God te
wees waar daar swaarkry is. Daarom is mededeelsaamheid belangrik. Dit doen ons
onder leiding van plaaslike kerkrade.
Pensioenfondse? Ook die pensioenfondse is
eie regspersone.
Debat
Dr
Hannes Koornhof het getuig hoedat die Here in die
prosesse wantroue en kwade gesindhede afgebreek het toe mense nie langer gedink
het dit is moontlik nie. Hierdie groei van vertroue kan in elke plaaslike
gemeente plaasvind. Koornhof het gesê dis ‘n
historiese geleentheid dat ons nou vir die eerste keer eerste konsensus-voorstelle het om vir
insette en konsultasie na gemeentes te neem.
Dit is belangrik dat daar nie druk op plaaslike gemeentes sal wees nie.
Ons het ook met ‘n gefaseerde proses te doen wat
voorsiening maak vir die totstandkoming van een algemene sinode. Dit kan eers
gevorm word nadat alle kerkrade / gemeentes die hele proses goedgekeur het.
‘n Ander spreker het gevra in watter mate
predikante die blokkasie vir kerkhereniging is nie. Al die informasie kom tot
by kerkkantore, maar wat word dan daarvan?
Deelnemers aan die debat het groot
waardering vir die kerk se leierskap uitgespreek en hul verwondering
uitgespreek oor die besondere vordering wat gemaak is.
Dr Francois Wessels
het daarop gewys dat eenheid tussen gemeentes as konkrete werklikheid vir
Paulus vanselfsprekend is. Omdat die gemeentes almal aan een “organisasie”
behoort, kan Paulus aan die Romeine sê hy is op pad na ‘n nuwe arbeidsveld
(Spanje) en as ek by julle stop (Rome), moet julle my help. Hy was nog nie daar
nie (Rome), maar neem vanselfsprekend aan dat hulle sal help soos die ander
kerke reeds gedoen het. As apostel gee hy opdragte dat gemeentes, soos in
Galasië, die moedergemeente in Jerusalem moet help - ons is een.
Heelwat gesprek is oor die Achterbergh
2-dokumente gevoer. Die bedoeling daarmee is dat dit basis vir ‘n gesprek kan
wees. Dit is nie besluite nie. Die volledige stel dokumente is as Bylaag 1
vanaf bl 28 ingebind (Aanvullende Verslae). ‘n Opsomming van Achterbergh 2 is
in die Aanvullende Verslae te vind op bl 23-25. Hierdie opsomming gee die
konsensus tussen die kerklike leierskappe weer.
Die NG Kerk se identiteit is ons storie van
die afgelope jare. Dit is belangrik dat ons hierdie storie / identiteit aan
lidmate moet kommunikeer, het prof Danie du Toit aan die vergadering gesê. Die
storie sluit ook die slegte in van ons wederstrewigheid
en worsteling. Lidmate moet verstaan waarom ons tans met hierdie dinge worstel.
Ons het ‘n eenvoudige storieboek nodig sodat mense die relevansie van die debat
oor hereniging kan verstaan.
Ds Danie Jordaan het beklemtoon dat daar
ongelooflike sonskyn is in die versoening tussen mens en mens in Christus. Saam
met ander afgevaardigdes het hy dankbaarheid uitgespreek vir die vordering
rondom hereniging.
Besluite
Die
besluit wat die Algemene Sinode uiteindelik goedgekeur het, lees as volg (kom
voor in die dokument Aanvullende Besluite):
1.1.4 AANBEVELINGS: GESAMENTLIKE GESPREK TUSSEN DIE
VIER KERKE
1.1.4.1 Die Algemene Sinode ondersteun die
inisiatiewe wat die Moderamen sedert Junie 2006 in oorleg met die
Moderamens/Sinodale Kommissies/Sinodale Diensrade van
al die sinodes asook die Moderamens/ Sinodale Kommissies van die VGKSA, NGKA en die RCA geneem het tot hereniging van die
vier kerke in die NG Kerk-familie.
1.1.4.2 Die Algemene Sinode is dankbaar teenoor die
Here vir die nuwe gesindheid wat die Here sedert Junie 2006 tussen die vier
kerke gegee het in hierdie eenheidstrewe en die vordering
wat gemaak kon word ten opsigte van die bou van verhoudinge en die vind van
konsensus.
1.1.4.3 Die Algemene Sinode neem kennis van die
Achterbergh II-dokumente. (klik hier vir die volledige
Achterbergh 2 dokumente)
1.1.4.4 Aangesien die proses tussen die vier kerke
sodanig gevorder het dat daar iets konkreet op die tafel is, versoek die
Algemene Sinode sinodes om die Achterbergh II-dokumente
saam met die besluite van die Algemene Sinode 2004, aan gemeentes deur te gee
vir bespreking en kommentaar aan die hand van die volgende proses:
*
die Moderamen voorsien teen einde Julie 2007 ‘n dokument met riglyne vir
gemeentes oor hoe om sulke gesprekke op die mees konstruktiewe manier te voer;
*
die Moderamen stel ’n pro-forma verslagwyse
op, wat ook in die riglyne aan gemeentes opgeneem word, aan die hand waarvan
kerkvergaderings hulle mening en insette kan gee;
*
die sinodes versamel alle kommentaar en insette van gemeentes nie later nie as
1 Desember 2007 en gee dit deur aan die kantoor van die Algemene Sekretaris vir
verwerking;
*
hierdie fase is slegs vir konsultasie, bespreking en insette/ kommentaar.
1.1.4.5 Die Algemene Sinode dra dit verder aan die
Moderamen op om, in die lig van die kommentaar en insette van gemeentes asook
die besluite van die Algemene Sinode 2004, verder met die ander drie kerke te
onderhandel oor konkrete voorstelle aan kerkrade/ gemeentes van al vier die
kerke. Hierdie konkrete voorstelle word, indien moontlik, gedurende die tweede
helfte van 2008 deur elke kerk aan kerkrade/gemeentes voorgelê met die oog op
hulle goedkeuring. Dit word deur elke kerk gedoen in ooreenstemming met die
prosedures wat tans in daardie kerk se Kerkorde/ besluite daarvoor voorgeskryf
word (Die NG Kerk se proses word uitgespel in Agenda Deel I A.5.1 bl 384 pt 14).
1.1.4.6 Die Algemene Sinode dra dit aan die Moderamen
op om in hierdie proses verder leiding te neem en om, soos die afgelope maande
sedert Junie 2006, telkens die moderature van al die sinodes te betrek in konsensus-soekende onderhandelinge met die ander kerke. Die
onderhandelinge geskied aan die hand van die besluite van 2004 asook die
uitkoms van die proses in pt 1.1.4.4 hierbo.
1.2.1.5
AANBEVELING: KONSULTASIEPROSES
Die
Algemene Sinode versoek sinodes om verantwoordelikheid te aanvaar vir die
hantering van die konsultasieproses binne die
kerkverband.
1.2.2.2
AANBEVELING: POSISIE TOV KERKEENHEID / KERKHERENIGING
Die
Algemene Sinode bevestig weereens dat ten opsigte van die saak van
kerkhereniging dit by vergaderings van Algemene Sinodes nie meer oor die “of ”
(maw die wenslikheid) van kerkhereniging gaan nie,
maar oor die “hoe” daarvan (maw die beste manier
waarop dit bereik kan word) aangesien uitvoerige besluite waardeur die NG Kerk
haarself verbind het tot hereniging met die ander drie kerke van die NG Kerk-familie reeds sedert 1990 by verskillende Algemene
Sinodes geneem is, en al die (streek)sinodes ook duidelike besluite ten gunste
van kerkeenheid geneem het.
1.3
OPDRAG AAN MODERAMEN
Die
Algemene Sinode bekragtig dat die Moderamen sy mandaat uitgevoer het aangesien
by die Algemene Sinode van 2002 opdrag aan die Moderamen gegee is om “ die
proses van kerkhereniging verder te begelei”. Die Algemene Sinode herhaal die
opdrag aan die Moderamen.
Die sinode het ook slegs
kennis geneem van ‘n verslag oor hoe approbasie van kerkhereniging werk (bl
38-40 van die Aanvullende Verslae).
Groeteboodskappe
deur moderators van die NGK-Familie
Tydens
die gesprek oor kerkhereniging het ds Lampies Lebone
van die NGKA (tans besig met hul eie sinode), prof Thias
Kghatla van die VGK en ds Victor Pillay
van die RCA groeteboodskappe aan die sinode oorgedra.
DVD oor kerkhereniging
Die
Oos-Transvaalse sinode het ‘n DVD vervaardig waarin
die 4 moderators gesprek voer oor kerkhereniging. Kerkrade en gemeentes kan dit
baie nuttig gebruik. Dit is by Bybel-Media
beskikbaar.
B. EKUMENE
Die
Algemene Sinode het besluit om aansoek te doen van die All Africa Conference
of Churches. Die moontlikheid van ‘n liggaam wat
die breër familie van NG Kerke regoor Afrika bymekaar sal bring, is ook
goedgekeur. Die bedoeling is dat dit op geen manier in die plek van die
kerkherenigingsproses in Suider-Afrika mag staan nie.
Dan is ook besluit om weer aansoek te doen
om lidmaatskap van die Wêreldraad van Kerke. Dit is ‘n forum waar ons nou deel
word van ‘n wyer, wêreldomvattende gesprek tussen kerke. Dit beteken nie dat
die WRK se besluite ons kompromitteer nie. Vanaf 1948 tot in die 1960’s was die
Kaapse en Transvaalse kerke lede van die WRK.
C. HOMOSEKSUALITEIT
Die
verslag van die taakspan oor homoseksualiteit is deur die twee mede-voorsitters, Jorrie
Potgieter en André Bartlett voorgedra. Die verslag
word deur twee alternatiewe voorstelle afgesluit.
Vergelyk bladsy 143 van Sakelys Deel 1. Die eerste voorstel vra dat die besluit
na kerkrade afgewentel word. Die Algemene Sinode neem dus nie standpunt teen
permanente homoseksuele verhoudings in nie. Die tweede stel aanbevelings vra
dat homoseksuele verhoudings afgewys word.
Konsensus
Ten
spyte van groot verskille is verskeie punte van konsensus geïdentifiseer:
1. DIE SKRIF
Die Bybel is ons
uitgangspunt en in ons nadenke en besluite oor homoseksualiteit soek ons eerlik
na
maniere om die Bybelse
waardes betekenisvol binne dié konteks te interpreteer.
2. MENSGERIGTHEID
Ons aanvaar die liefde van
Christus as die enigste geldige grondhouding waarop
verhoudinge binne die
geloofsgemeenskap gebaseer
moet word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in
Christus is vir alle mense
en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die
menswaardigheid van alle
mense.
3. INKLUSIEWE LIDMAATSKAP
Alle mense, ongeag hulle
seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle behoort op grond
van
hulle doop en geloof as
volwaardige lidmate van die kerk van Christus aanvaar te word. Onder volwaardige
lidmaatskap word verstaan
toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die
kerklike tug.
4. HUWELIK
Alhoewel daar ook verskil
van mening oor die huwelik bestaan, is daar ten minste konsensus daaroor dat
die
huwelik tussen .n man en .n vrou .n belangrike instelling van
God is.
5. PROMISKUÏTEIT
Sowel heteroseksuele as
homoseksuele promiskuïteit word as destruktiewe en sondige gedrag afgekeur.
6. PASTORALE ONDERSTEUNING
Die kerk behoort ondersteuningsisteme daar te stel en pastorale sorg, waar
nodig, te verskaf aan persone
wat
op die een of ander wyse die werklikheid van homoseksualiteit beleef.
Meningsverskil
Dan
is daar ook bepaalde meningsverskille:
1. SKRIFGEGEWENS
Oor die vertolking van die
Skrif oor homoseksualiteit:
. Een standpunt vertolk die Skrifgegewens as .n afwysing van homoseksuele gedrag.
. .n Ander standpunt vertolk die Skrifgegewens as
.n afwysing van sekere destuktiewe
vorme van seksuele
gedrag sonder om .n uitspraak te lewer oor homoseksualiteit as sodanig.
2. VERHOUDINGS EN DIE
HUWELIK
Oor die aanvaarbaarheid van
vaste verhoudings tussen persone van dieselfde geslag:
. Aan die een kant is daar die beskouing dat sodanige verhoudings teen die
leer van die Skrif is.
. Aan die ander kant is daar die beskouing dat sodanige verhoudings Christelik-eties aanvaarbaar is as dit
gerig is op die vorming van
.n vaste verbintenis van liefde en trou.
Daar bestaan ook
meningsverskil oor die aard van die huwelik:
. Een standpunt sien dit as .n eksklusiewe verbintenis
tussen een man en een vrou.
. Daar is ook .n ander standpunt wat ten gunste daarvan is dat
vaste lewensverbintenisse tussen persone
van dieselfde geslag
dieselfde legitimiteit as die huwelik behoort te geniet.
3. BESONDERE AMPTE
Daar is meningsverskil oor
die voorwaardes waaronder homoseksuele mense tot die besondere ampte
toegelaat behoort te word.
Standpunte kan basies in twee verdeel word:
. Diegene wat nie .n probleem het met die toelating van homoseksuele
persone nie, op voorwaarde dat
hulle .n selibate lewenstyl beoefen
. Diegene wat ten gunste van die toelating van persone in nie-promiskue, vaste verhoudings van liefde en
trou is.
4. PASTORALE ONDERSTEUNING
Daar bestaan meningsverskil
of .n Bybels-gefundeerde
pastorale model daarop gerig moet wees:
. Om homoseksuele persone te lei tot die verwesenliking van God se
skeppingsdoel met man en vrou (heroriëntasie) of die beoefening van .n selibate lewenstyl
. Om homoseksuele persone tot sinvolle integrasie van hulle Godgegewe
seksuele oriëntasie in die uitlewing van .n Christelik-etiese
verantwoordelike leefstyl te begelei.
Motiverings deur mede-voorsitters
André Bartlett het in sy voordrag - ten
gunste van die afwenteling van die besluit na kerkrade - daarop klem gelê dat
sinodes of die algemene sinode nie behoort te doen wat gemeentes kan doen nie.
Al die verskille oor homoseksualiteit gaan eintlik oor die vraag hoe gehandel
word met lidmate van homoseksuele oriëntering. Die standpunt wat hy
verteenwoordig voel dat die Algemene Sinode reeds die nodige Skrifstudie gedoen, en - soos ander kerke wêreldwyd - tot
die oortuiging gekom dat alle mense op grond van geloof kan aanspraak maak op
kerklidmaatskap - ongeag seksuele oriëntering. Wat die enigste oorblywende sak
betref, hoe ons handel met die homoseksuele persoon in vaste verhoudings, moet dit
aan gemeentes oorgelaat word. Hier word nie abstrak oor mense gepraat nie, maar
oor die konkrete mens. Die gemeente is die beste plek waar gay en nie-gay lidmate saam met mekaar kan leef. Die Presbyterian Church in die
VSA hanteer lidmate in vaste gay verhoudings op hierdie wyse. Die EKD
(Evangeliese Kerk in Duitsland) laat dit ook aan die plaaslike gemeente oor.
Bemagtig gemeentes, help gemeentes om
plekke te word waar ons na God, mekaar en ander gemeentes, kan luister het Bartlett gesê. Ten spyte van alles wat gay-Christene
van die kerk beleef het, is daar steeds ‘n verwagting om ‘n woord van die kerk
te hoor. Soos Jakob in die lang worsteling by die Jabbok-rivier
gesê het: Ek gaan u nie los voordat u my nie geseën het nie. Gays sê ook vir
die kerk: Ons gaan julle nie los nie totdat julle nie ‘n woord van bevryding,
seën, oor ons uitgespreek het nie. Kom ons vertrou lidmate om dit namens die
kerk te doen, sê Bartlett.
Jorrie Potgieter -
ten gunste van die afwys van homoseksuele verhoudings - het in sy voordrag gesê
die vraag is of die Skrif regverdiging gee vir homoseksuele verhoudinge en
verbintenisse. Die hoogste bron vir seksualiteit en verhoudinge bly die Skrif. Die
Skrif ken reeds homoseksuele verhoudinge van liefde en trou. Dit geld ook bv die
Griekse denkers en die Gilgamesh-epos. Daarom kan ons
nie die gang van die Bybel, wat heteroseksualiteit as norm voorstaan, ignoreer
nie. Hoe sien die Bybel seksualiteit. Heteroseksualiteit is die enigste norm
vir seksuele verhoudings en lewensverbintenisse.
Jesus hanteer die huwelik dan ook so. Die kerkvaders en die teologiese
ontwikkeling tot ons dag keur homoseksuele verhoudings af. Slegs 2%
Protestantse kerke aanvaar homoseksuele lewensverbintenisse.
Die goedkeur van homoseksuele lewensverbintenisse sal
‘n nuwe verstaan van die Bybel en die tradisie van die Christendom beteken.
Homoseksualiteit bestaan in ‘n wisselwerking
van biologiese en omgewingsfaktore. Maar wetenskaplike oortuigings kan nie ‘n
teologiese beginsel vestig nie. Lidmate en sinodes vra ‘n uitspraak van hierdie
sinode. Dit kan nie maar afgewentel word na gemeentes nie. Indien gemeentes
homoseksuele lewensverbintenisse kan inseën, jies die sinode vir kerkordelike
wanorde. Dan keur ons homoseksuele lewensverbintenisse
/ huwelike per implikasie goed. Die Skrif ken dit nie.
Homoseksuele persone wat selibaat lewe moet
in die ampte toegelaat word, het Potgieter gesê.
Bespreking in die vorm van dialogiese debat
Ek
gee so ‘n langerige seleksie van standpunt weer om julle iets van die gees van
die debat te laat leef:
In
die bespreking het Francois Wessels daarop gewys dat
verandering in die kulturele omgewing die argument ten gunste van die
goedkeuring van gay verhoudings meebring. Die aanvaarding van gay-verhouding kom nie uit die Bybelwetenskappe
op nie. Die aanbeveling dat die sinode homoseksuele verhoudings afwys, beteken
nie dat persone met ‘n homoseksuele oriëntasie gemeentelik uitgesluit word nie.
Die Woord van God moet ernstig geneem word
as enigste riglyn, het dr Koosie Delport
gesê. Die Bybel sê jy mag ‘n slaaf aanhou, en as ‘n slaaf by jou aankom, moet
jy hom beskerm. Dit het in Brittanje tot in 1833 geneem en in die VSA tot die
1860’s om slawe vry te stel. Die argument was dat as ‘n persoon as slaaf gebore
is, moet hy lewenslank ‘n slaaf wees. Daarom vra hy dat die sinode leierskap
aan die dag moet lê en die Bybel se boodskap van liefde moet bevestig. Sy pleidooi
is dat ons dapper genoeg moet wees om te sê - nie wat indiwiduele tekste sê nie,
maar wat die Bybel sê - dat homoseksuele persone dieselfde voorregte as hetereseksuele getroude persone mag hê.
Dr Julian Muller het
gepleit vir die afwenteling van besluite na kerkrade, weens 3 redes: Die Bybel,
mense en die wetenskap. As ons met die Bybel in die hand die saak beredeneer,
doen ons dit nie fundamentalisties nie: ons het ‘n Gereformeerde tradisie wat ‘n
bepaalde manier van uitleg het: ons moet grondig, deeglik, omvattend met die
Bybel om te gaan. Die Bybel moet in sy groot verbande uitgelê word en die
uiteindelike boodskap te werk, naamlik voortgang in die openbaring, en die verskil
tussen fokus en periferie. Om die konklusie te maak dat heteroseksueel reg en
homoseksualiteit verkeerd is, is nie ‘n Bybelse norm nie - daar is ‘n
heteroseksuele vanselfsprekendheid in die Bybel, en vir hierdie seksualiteit is
daar norme. Dit is dat alle vorme van promiskuïteit verwerp word. Mense: is ons
regtig gewillig om te luister na Geesvervulde broers
en susters wat oor hul homoseksualiteit getuig, het Muller gevra. As hulle sê
die Gees van die Here oortuig ons ons kan in liefde
en trou ons oriëntasie uitleef, kan ons weier om hul te aanvaar. Gaan oor wie
ek is, geneties en omgewingsgewys is - dan kan ek so ‘n
persoon net liefhê deur liefdevolle respekvolle aanvaarding. Ons het ook respek
vir die ander wetenskappe.
Prof Elna Mouton
beklemtoon dat die beeld wat mense van God het en hul verstaan van
menswaardigheid gekoppel is aan besluite wat hierdie sinode neem. “Indien die
Algemene Sinode nie tekste wat oor die vrou handel anders begin lees het, in
die lig van die komplekse veelduidigheid van tekste nie, dan sou ek nie vandag
hier gestaan het as dekaan van die Fakulteit Teologie nie”, het sy gesê. Hoe ons oor God en menswaardigheid dink, het
radikale implikasies vir ander mense. “Die warm hart van God wat alle verstand
te bowe gaan, en soos ons dit in Jesus van Nasaret leer ken, bid ek dat u die
profetiese moed aan die dag sal Hê om oor die breë gerigtheid van die Skrif ‘n
besluit te neem”. Gemeentes moet hieroor besluit, omdat daar groter diversiteit
in gemeentes is - geslag, kundigheid, en grondvlak kontak.
Dr
Jan Viljoen het die getuienis van ‘n lesbiese vrou voorgelees wat ‘n voorheen gay-aktivis was. Sy het kragtige verander beleef toe sy haar
aan die leringe van Jesus onderwerp het. Selfde-geslag
verhoudings is nie wat God vir ons bedoel het nie.
Dr Fanus Erasmus vra hoe rym ons die
behoeftes van mense met ‘n bepaalde Skrifbeskouing. Teoloë
van die NG Kerk het ‘n Bybels regverdiging vir apartheid gesteun. Hoekom het bv
prof EP Groenewald dit gedoen. In 1939 skryf hy aan
prof Grosheide dat hy nie sy oë kan sluit vir die
nood van my volk nie. Die nood van die volk was die aanleiding om die Skrif in ‘n
konteks so te verstaan dat dit apartheid goedkeur. Die geskiedenis het hard
hieroor geoordeel. Met al die empatie wat ons het vir mense in gay verhoudings,
moet ons uitmaak hoe verstaan ons die Skrif. Daarom vra hy dat ons homoseksuele
praktyke as in stryd met die Skrif afwys.
Prof Adrio König sê dat ons ‘n dilemma het : ons het twee voorstelle
voor ons wat albei slegte voorstelle is. Dis tipies van ‘n dilemma. Die minste
sleg van die voorstelle is om die saak na gemeentes af te wentel. Dis nie
duidelik hoe ons die Bybel moet uitlê nie. Ons weet nie - almal aanvaar die
Skrif volkome en ons kom by verskillende menings uit. Ek verstaan die Bybel so
dat homoseksualiteit sonde is. Ek verstaan die Bybel ook so dat dit nie na
homoseksuele persone verwys nie. Dit verwys na heteroseksuele persone wat
homoseksueel met mekaar omgegaan het, en daarom teen hulle natuur.
Dr Nelus Niemandt het gesê Jesus is ook die Woord van God. Hoe het
Jesus mense wat op die rand verkeer, hanteer? God werk steeds in sy wêreld en nooi
ons om aan te sluit by sy werk. Daarom moet ons meer gereserveerd praat oor die
gans-andersheid van God. Ons sal dieper moet
terugleun in die liefdevolle God wat ons in die eerste plek gekies het.
Jan Wandrag het
gevra waarom is dit so moeilik om lief te hê. Hoekom moet mense by ons kom
pleit vir genade as God liefde is.
Verskeie sprekers het gewys op die sterk
getuienis van die Skrif dat homoseksualiteit nie ‘n legitieme moontlikheid vir
die uitlewing van jou seksualiteit is nie. Hierdie spreker het die tweede
standpunt sterk gesteun.
Twee besoekers
Werner
Venter , ‘n lid van die taakspan, het vertel hoedat hy by gay-praktyke
betrokke geraak het. Deur sy bekering en geestelike reis het hy die God van die
Bybel leer ken wat mense verander. God se karakter moet in ons gevorm word -
dit word nie net gegee nie. Jesus het gesterf om ons te red - om ons nie te los
waar ons is nie, maar om ons na sy oorspronklike bedoeling terug te neem.
Jean du Plessis is ‘n gay-gelowige
in ‘n monogame gay verhouding wat onlangs wettig getroud is. Hy is reeds sedert
die 60erjare betrokke by gay-regte. Hy wil opstaan
vir die tallose mense wat stukkend gebreek word deur die diskriminasie teen gay
mense. Die voedingsbron van hierdie verbrokkeling en verwerping is die
gesindhede van gelowiges. Daar is baie toegewyde verhoudings. Die kerk se
afkeur laat mense wegdryf na die slegte pole van die gay subkultuur. Mense
ontbeer die voorreg om vreugdevol in die teenwoordigheid van die Here te lewe.
Amendement van prof Malan Nel
Prof
Malan Nel het ‘n amendement voorgelê waarin gevra word of daar nie middelgrond tussen die twee standpunte te vind is nie. Die
tien moderators met prof Danie du Toit, afgetrede professor in Christelike
etiek word hiermee getaak. As hulle dit kan kry, sal
hulle more (Donderdag) die middelgrond kom voorlê.
Die
vergadering het die amendement aanvaar.
Groete
tot ons weer môre-aand gesels.
Danie
Mouton