OosKaap Algemene Sinode eNuus
Nuus uit die Algemene Sinode in sitting te Johannesburg,
4-8 Junie 2007
Uitgawe 2 - Dinsdag, 5 Junie
2007
NB:
Deel 1 en 2 van die Sakelys van die Algemene is beskikbaar by www.ngkok.co.za/as2007. U kan dit
gebruik as verwysing by die lees van hierdie nuusbriefie.
A. PRAKTIESE
GEMEENTE-WEES
Dinsdagoggend is grootliks aan kerk-
en gemeente-wees afgestaan. Afgevaardigdes was duidelik
diep onder die indruk van noodsaaklike aanpassing in die bediening en
funksionering van plaaslike gemeentes. Hier volg ‘n beknopte opsomming:
Nagedink oor gemeente-wees
“Ons
soek na ‘n manier van kerk-wees wat lidmate toerus om
aan die bediening deel te neem. Dit blyk een van die belangrikste prioriteite
vir die NG Kerk te wees”, het dr Braam Hanekom
inleidend oor die gesprek rondom ‘n afgebakende en praktiese gemeentelike ekklesiologie gesê.
In die debat het die moderator van ‘n
streeksinode genoem dat die sisteem van die kerk mense laat gril en postmoderne
jongmense laat uitbeweeg uit die kerk. Ons kry dit nie reg om by die behoeftes
van mense op grondvlak uit te kom nie. Die politieke bagasie van die kerk tel
ook teen ons.
Verdere kommentaar: Strukture bepaal gedrag
- waar lidmate kans kry om hul roeping uit te leef, funksioneer gemeentes baie
goed. Die Kerkorde (Artikel 9) plaas predikante in die situasie dat as hulle
lidmate bemagtig, word gesê hulle het niks meer werk nie.
Gemeentes is ongelukkig begrotingsgedrewe
en nie roepingsgedrewe strukture nie, is in die
bespreking gesê. Strukture ontmagtig lidmate en lewer
hulle uit aan die kom en gaan, prioriteite en persoonlike voorkeure van
predikante. Daarom moet lidmate struktureel bemagtig word. Ons het ongelooflike
lidmate, maar die predikante en strukture laat hulle nie ruimte om te wees wat
hulle kan wees nie.
Oor onsigbare mure wat mense verhinder om
die kerk binne te kom, is gevra of die kerk nie te maklik te veroordelend
oorkom nie. Taal, kultuur, sosiale en ekonomiese klas, rassisme,
onbetrokkenheid by die mede-mens is faktore wat die
kerk uitsluitend maak. Die teologiese vlak van die prediking, die pragtige
planne, stukke en projekte word dikwels as “te hoog” vir lidmate beleef. ‘n
Bruin afgevaardigde het in ‘n kleingroep vertel hoe
gesprekke oor die beskerming van Afrikaans in kerkraadsvergaderings
van sy gemeente hom volledig uitsluit van die gemeente.
Die wyse van gemeente-wees
word ‘n verleentheid, is ook in die bespreking gesê. Ons moet nuut oor
gemeentes as dissipelgemeenskappe dink. Veral in die
platteland is die domineeskerk nog sterk gevestig.
Veral op die platteland word gemeentes - ten goede - geforseer om inter-kerklik sam te werk, bv
rondom jeugbedieninge. Oor hierdie samewerking kan
die mooiste verhale vertel word.
Evangelisasie
Evangelisasie
is die kernbesigheid van die kerk, maar die kerk haar hart vir evangelisasie
verloor. Waarskynlik omdat mense nie vir ons belangrik is nie, het dr Braam Hanekom tydens die Algemene Sinode gesê. Ons benodig nuwe
style van evangelisasie waar ons mense en hul lewensverhale ernstig neem,
daarna luister en saam soek na die inweef van die evangelie in hul lewens. Uit
meer as 2 miljoen mense in Johannesburg behoort sowat 6,000 mense aan die NG
Kerk. Dit plaas ons voor die dringende uitdaging om die evangelie na mense te
neem.
Versorging kan ook ons evangelisasie lamlê.
Ons fokus op die eie lidmate, sonder om grense oor te steek na buitestanders.
Geografiese grense gee die missionêre bediening ‘n doodsteek. Mense trek in ‘n
gemeente in en verwag dan die kerkraad moet aandag gee. Grense maak
instandhouding die hoofdoel. Indien ons geografiese grense sou afskaf, sal
gemeentes meer moeite moet doen om te evangeliseer.
Identiteit
In
die gesprek oor gemeente-wees is op die gevare van
uitsluitende identiteitsvorming. Mens kan so seker
raak van jou identiteit, en dan sluit jy ander daarmee uit. Daarom is die missionêre karakter van die kerk so belangrik. Identiteit
moet altyd insluitend gevorm word - met ‘n oog op die naaste - omdat mens jou
identiteit slegs in gemeenskap met die ander, die vreemdeling vind.
“’Ons’
kan die gevaarlikste woord in die kerk wees”, het ds Danie Jordaan gesê na
aanleiding van sy gemeente se betrokkenheid by ander gemeentes in Angola en
Botswana. Wat jy buite jou kerkgeboue doen is net so belangrik as wat jy
daarbinne doen.
Missionêre
gemeentes
Prof
Piet Meiring het inleidend opmerkings oor die missionêre
roeping van die kerk gesê dat God in sy diepste wese ‘n sturende,
sendende God is. God is liefde en deernis, immer soekende na gemeenskap. God is voortdurend besig om mense
te nooi tot nuwe gemeenskap. God gebruik elke lidmaat as agent van hierdie
uitnodiging.
Sending na die omgewing rondom ons, dat die
kerk daar vir die wêreld, is ‘n opwindende ontdekking in ons tyd, het Meiring
gesê.
B. EREDIENS
Handboek vir die Erediens
‘n
Nuwe Handleiding vir die Erediens het pas verskyn, die eerste weer nadat die
vorige uitgawe laat in die tagtigerjare die lig gesien het. Dit is vandag by
die Algemene Sinode bekendgestel. Die handleiding is deel van ‘n proses, en
nuwe, aanvullende materiaal sal steeds ontwikkel word. Gemeentes word
aangemoedig om self kreatief met die liturgie om te gaan. Die Algemene Sinode
het die Handboek as ‘n liturgiese proefbundel
goedgekeur. Die Algemene Diensgroep vir Gemeente-Ontwikkeling
sal die Handboek evalueer en aanbeveel vir goedkeuring by die volgende Algemene
Sinode.
Die Handboek bevat o.a. voorbeelde van doopvieringe van verskillende geleenthede - iets wat die
vorige Algemene Sinode alreeds aangemoedig het - sonder dat die indruk van
herdoop daarmee geskep word.
Die vergadering het ook kennis geneem dat
die Drie Formuliere van Eenheid tans in moderne Afrikaans vertaal word.
Kerkmusiek
Die
FLAM-liedere (eietydse liedere) word tans ontwikkel.
Die klassieke musiek-kant van kerklike musiek kry nou
ook aandag. Daar is tans twee krisisse aan die ontwikkel: orreliste is nie meer
so geredelik beskikbaar nie, terwyl die opleiding van baie kontemporêre musici
aandag nodig het. ‘n Professionele opleidings-DVD vir kontemporêre musici gaan saamgestel
word. Dit word gesien as ‘n praktiese manier om verskillende style van
spiritualiteit te hanteer.
Die Begeleidings-CD-pakket
is beskikbaar vir gemeentes wat nie oor ‘n orreliste beskik nie. Dit is by Bybel-Media op 13 CD’s beskikbaar. Die oorspronklike, ou
pakket is geheel en al hersien. Gemeentes wat die ou pakket het, kan dit vir ‘n
minimale bedrag opgradeer.
Die Algemene Sinode ondersteun die
werkswyse van FLAM en moedig sinodes aan om gebruik te maak van hierdie
teologies en musikaal-gekeurde eietydse liedere.
Tekste van liedere in ander tale, waarvan
die melodieë in die Liedboek verskyn, is op die kerk se webblad beskikbaar.
C. DIE DOOP
‘n
Verslag oor die betekenis en gebruik van die doop is vandag bespreek. Dit
verskyn op bl 31 van Deel I van die Sakelys en is die moeite werd om te lees.
In die bespreking is die verslag deur prof Adrio König as te min vir
Gereformeerdes en eerder as die standpunt van die hervormer Zwingli dan Calvyn
se standpunt beskryf. Die doop is nie net ‘n teken (soos die verslag sê), maar
ook die seël en waarborg van die genade. König, ‘n
voorstander van die “bekeringsdoop”, het ook daarop
gewys dat die bekeringsdoop en herdoop in dieselfde
paragraaf behandel word. Die bekeringsdoop is nie
bedoel om ‘n herhaling van die Christelike doop te wees nie, maar die dopeling
se antwoord op die Christelike doop. Die bekeringsdoop
word nie in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees gedoen nie, maar in
die naam van die doopkandidaat as antwoord op die
Christelike doop se oproep tot bekering.
Tydens die gesprek is genoem dat talle
lidmate hulle laat oordoop weens ‘n behoefte om uitdrukking aan hulle antwoord
op die Here se genade te gee.
Coenie Burger het daarop gewys dat ons inderdaad
Zwingliaans raak in ons doopbeskouing en dit bloot as
‘n teken sien. Dit is inderdaad seëls van die genade en ons moet mense hierin
begelei soos hulle opgroei.
Die finale besluit wat oor die verslag
geneem is, lui as volg:
BESLUITE AANGAANDE DOOP,
DOOPVIERING EN VERSLAG RAKENDE DIE BETEKENIS EN GEBRUIK VAN DIE DOOP (Moderamen
Bylaag 3)
1. Die AS neem bogenoemde verslag in ontvangs as
vertrekpunt vir omvattende gesprek aangaande doop en doopviering.
2. Die AS bevestig dat die Christelike doop
vanuit die radikaliteit van die genade, as onherhaalbaar
beskou moet word.
3. Met groot begrip vir die kragtige betekenis
van simbole en rituele en met behoud van die Christelike doop as eenmalige
sakrament (vir kinders en volwassenes) dra die AS dit aan sinodes op om te
besin oor toepaslike rituele waardeur gedoopte lidmate van die werklikheid van
God in hulle lewe kan getuig.
4. Sodanige rituele sou ook net bedien kon word
aan persone wat hulle Christelike doop erken.
5. Die AS gee aan ADGO opdrag om die sinode te
bedien met `n eenvoudige en helder beleid en voorstelle aangaande doop, doopviering, kindernagmaal en
kategese, wat beide ons tradisie en die praktiese bedieningskonteks
van ons dag in ag sal neem.
( vervang voorstel 6 p 18 van
Agenda II)
D.
GEESTESWÊRELD EN BEVRYDING
Die
verslag wat oor die geesteswêreld en bevryding voor die Algemene Sinode dien,
het hewige bespreking uitgelok. Die verslag is gekritiseer as ‘n poging om
predikante wat ‘n bevrydingsbediening beoefen te
diskrediteer. Lidmate wat met die okkulte worstel, moet na sangomas gaan in ‘n
poging om hul probleme te hanteer omdat predikante dit nie kan hanteer nie, is
gesê. Daar is nie na fenomenologiese studies gekyk
nie. Dit blyk ook dat die RCA gangbaar gebruik maak van bevrydingspraktyke.
Die gegewens in die Skrif kan ook nie - is gesê - as bloot pre-modern
beskryf nie. Die hermeneutiek (verstaansraamwerk) van
die verslag, is gesê, kan ook gebruik word om geloof in ‘n persoonlike God te
ondermyn. Die verslag internasionaliseer die bose in die indiwidu, en dit is
nie die boodskap van die Bybel nie.
In die Algemene Taakspan Leer en Aktuele
Sake se voorlegging is gesê dat dit onmoontlik is om agter die moderne kennis
oor menslike gedrag wat die psigiatrie en sielkunde aan ons gee, terug te gaan.
Uiteindelik het die sinode besluit om bloot
kennis te neem van die verslag en die gepaardgaande aanbevelings. Opdrag is
gegee dat die Taakspan Leer en Aktuele Sake verdere ondersoek en studie moet
doen.
E. KERK EN
STAAT
NG Kerk en Grondwet
‘n
Indringende verslag oor die NG Kerk en die grondwet het voor die vergadering
gedien. Dit verskyn vanaf bl 111 in Deel I van die sakelys. Die dokument is
goedgekeur as beleidstuk van die NG Kerk, en as
uitgangspunt vir die werk van die Parlementêre Lessenaar.
Daar is besondere getuienisse gelewer oor
die goeie kontak en gesprek wat in verskillende provinsies met premiers
plaasvind. Dit bly egter moeilik om op
die vlak van die sentrale regering met die staat in gesprek te tree.
F. KOMMUNIKASIE
Kerkbode en Lig
Kennis
is geneem van die pragtige nuwe baadjies wat Kerkbode en vroeër Lig aangetrek
het. Namens ons sinode word gemeentes aangemoedig om hierdie publikasies te
ondersteun. Plaas julle bestellings! Die gesinstydskrif
Lig verdien om deur alle gesinne in die kerk gelees te word. Ontdek die Lig in
Lig. Kerkbode is die koerant vir mense wat ingelig wil wees.
Ideale vir 2010
Die
Direktoraat vir Kommunikasie het besondere ideale vir 2010. Dit word uitgespel by
pt 8 wat op bl 105 van Deel i van die Sakelys begin.
Mense het tans die beeld van die NG Kerk
dat dit tot die ou tyd behoort. Ons sal veral op jongmense in ons kommunikasie
moet konsentreer. Taalgebruik moenie wêreldvreemd wees nie. Sensitiewe taalgebruik
ten opsigte van ras, geslag en ander diversiteite is
nodig. Deel van die kommunikasiestrategie is dat
mense ‘n redelike en feitelik-gebaseerde idee sal hê
van wat dit beteken om ‘n lidmaat van die NG Kerk te wees.
Die belangrikheid van die nuwe elektroniese
media is ook deurslaggewend belangrik.
G. GEWELD EN
MISDAAD
Indringende
gesprek is gevoer rondom die hoë vlakke van misdaad en geweld. In besluite wat
geneem is, roep die sinode die owerheid op om die swaard wat hy ontvang het om
geweld en misdaad te bekamp te gebruik. Kyk na bl 5 van die aanvullende verslae
Groete
tot ons weer môre-aand gesels.
Danie
Mouton