OosKaap Algemene Sinode eNuus
Nuus uit die Algemene Sinode in sitting te Johannesburg 4
-8 Junie 2007
Uitgawe 1 - 4 Junie 2007
Gesprek oor wie ons is, is krities belangrik
‘n
Behoorlike gesprek oor wie God is, wie ons as sy kerk is en wat ons roeping is,
is ver belangriker as wat ons mag dink, het dr Coenie Burger, moderator van die
Algemene Sinode, op die eerste sittingsdag gesê. Dit mag nie gebeur dat minder
belangrike sake die agenda van die kerk domineer sonder dat ons op ‘n diep vlak
oor ons identiteit in Christus sake nadink nie.
Burger
het verwys na die impak van die moderne lewensgevoel
op die kerklike denke. Dit gebeur dat moderne mense nie meer weet wat om -
byvoorbeeld - met Christus se hemelvaart en sy sit aan die regterhand van God
te maak nie. Daar is word dik Christelike dogmatieke
geskryf sonder om na sy hemelvaart te verwys. Die risiko is dat ons met ‘n
moderne rede deur die Bybel kam en net dit wat oorbly glo. Dan lê die moderne
tyd die Bybel uit, in plaas daarvan dat Skrif en belydenis die tyd uitlê.
Hy voel ook besorg op die opkoms van wat hy
neo-Afrikanerdenke noem. Daar is ‘n groeiende klem op
Afrikaneridentiteit en -bewussyn. Sommige mense in
die vergadering sal nie hou van wat ek sê nie, maar die kerk mag haar nooit so
met ‘n bepaalde kultuur identifiseer dat dit bepalned
vir ons identiteit en roeping word nie. Daar is ander organisasies wat hulle
hiermee kan bemoei.
Burger meen ook dat materiële dinge en
veral geld besig is om glads te belangrik te word. Dit is ‘n faktor wat Bybelse
identiteits- en roepingsvorming
belemmer. Wanneer mens Christus volg en Hom as Here bely, is daar ‘n klomp goed
waarvan jy dan glo en bely dat dit nie heerskappy voer nie. Jy moet daarteen
kies en dit agterlaat.
Met hierdie woorde is ‘n gesprek oor
roeping en identiteit op die eerste sittingsaand van
die sinode ingelei. Beide in kleingroepe en in dialogiese debat - ‘n term om luisterende gespreksvoering
in die genre van debat te beklemtoon - is daarna ook oor die roepingsverklaring van die Algemene Sinode 2002 gepraat. Uit
die terugvoer blyk die oortuiging dat die roepingsverklaring
nog meer op grondvlak tuis kan kom.
Afgevaardigdes by Birchwood
byeen
‘n
Volle 373 afgevaardigdes uit ‘n moontlike maksimum 389 het vandag by die Birchwood-konferensiesentrum in Boksburg, neffens die OR Tambo-lughawe, byeengekom. Die vergadering het ‘n lywige
sakelys van meer as 500 bladsye om deur te werk. (Die sakelys is op ons webblad
beskikbaar.)
Die sakelys is so opgestel dat die ou kommissie-gedrewe styl van verslagdoening vervang is met ‘n
tematiese aanbieding wat verband hou met temas uit die NG Kerk se roepingsverklaring. Sake wat saamhoort, word saam
aangebied. Alreeds op die eerste sittingsdag, met roeping en identiteit as
tema, het dit briljant en bemagtigend gewerk.
Die Algemene Sinode hanteer ook die appél
van Laurie Gaum, wat in
camera sal geskied.
Moderatuur aan die einde van die vergadering verkies
Twee
beskrywingspunte is van onderskeidelik die Noord-Kaapse
en Wes-Transvaalse sinodes ontvang dat die Algemene
Sinode haar moderatuur weer aan die begin van die vergadering verkies. Gesprek
is aan die begin van die vergadering gevoer, en die saak is tot stemming
gebring. Hoewel ‘n meerderheid ten gunste van hierdie wysiging gestem het, kon
die vereiste twee-derde meerderheid nie verkry word
nie. ‘n Twee-derde meerderheid is nodig omdat dit
neerkom op ‘n wysiging van die Kerkorde. Coenie Burger is dus steeds in die moderatorstoel, en onderskeidelik Piet Strauss, Nelus Niemandt en Elsje Büchner in die rolle van
assessor, aktuarius en addisionele lid tot aan die einde van die vergadering.
Gesprek in kleingroepe en debat aanvullend hanteer
Waar
die Algemene Sinode tot in 2002 eksklusief van debatte as besprekingsmeganisme
gebruik gemaak het, is die 2004-sinode deur kleingroepgesprek
oorheers. Dit het tot groot frustrasie gelei. By hierdie sinode word kleingroepgesprekke en debat aanvullend gebruik. Hoewel dit
nog te vroeg is om ‘n oordeel te vel, lyk dit word hierdie benadering, tesame
met die waardes van die Luisterseisoen - leerbaarheid, vertroue, deernis en openheid - positiewe
effek sal hê. Kleingroepgesprekke help deelnemers aan
debatte om vanuit ‘n breër perspektief bydraes te maak. Die kleingroepgesprekke
slaag ook daarin om die groter prentjie van die kerk se identiteit en roeping aanmekaar
in die spesifieke bespreking in te dra.
Agenda Deel II
Persone
wat belangstel om te sien wat die sinode elke dag bespreek, kan Agenda Deel II volg. Die dagprogram, sake wat bespreek word, en aanbevelings word
volledig daarin uiteengesit.
En
daarmee kom die verslag oor die kort eerste sittingsdag tot ‘n einde. Mooi loop
uit ‘n kouerige Johannesburg!
Danie
Mouton