Sinode vra regering om land nié in steek te laat oor misdaad
Jun 06 2007

Neels Jackson

Moenie die land en sy mense in die steek laat nie!

Dié dringende pleidooi is gisteraand deur die algemene sinode van die NG Kerk in Boksburg aan die regering gerig oor misdaad en geweld.

Die sinode het gesê dis die Here se wil dat die wêreld deur wette en regerings geregeer word.

Dis die regering se taak om kwaaddoeners te straf en ander mense te beskerm, is gesê.

Die sinodegangers het hul meelewing met slagoffers in ’n roerende seremonie betuig deur die name van slagoffers van misdaad op klein papiertjies te skryf en dit op ’n klaagmuur agter in die sinodesaal te gaan plak.

Dié klaagmuur, het ds. Johann Symington, direkteur van kommunikasie van die kerk, gesê, is ook ’n muur van herinnering waardeur die kerk hom identifiseer met die slagoffers van misdaad.

Sinodegangers het in lang toue gestaan en honderde name op die klaagmuur aangebring.

Daarna het hulle saam gesing: “Heer wees ons genadig . . .”

Ds. Elsje Büchner, lid van die moderatuur, het in ’n gebed spesifiek na die geweld teen vroue en kinders verwys en gebid dat vroue en kinders in hul eie huise sal veilig voel.

·  Die sinode het hom gisteraand ook skerp uitgespreek teen die miskenning van menseregte, lyding, ineenstorting van die ekonomie en verwoesting van die ekologie in Zimbabwe.

Die sinode het gesê die NG Kerk wil saam met ander kerke alles moontlik doen om die mense van Zimbabwe by te staan.

Dit sluit die honderdduisende Zimbabwiese vlugtelinge in ander state in Suider-Afrika in.

Die sinode het die “skynbare onwilligheid” van Suider-Afrikaanse regerings om daadwerklik betrokke te raak by die krisis in Zimbabwe, betreur.

Verder het die sinode ekumeniese liggame soos die Wêreldraad van Kerke en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gevra “om alle kontakte en middele te gebruik om ’n verandering in Zimbabwe te weeg te bring”.

NGK wil ‘verlore hart van kerkwees’ herwin
Jun 05 2007

Neels Jackson

Die algemene sinode van die NG Kerk het sy hand gister diep in eie boesem gesteek in ’n soeke na ’n evangeliese manier van kerkwees in die hedendaagse samelewing.

Dr. Braam Hanekom van die algemene diensgroep gemeente-ontwikkeling het gesê daar is ’n aanvoeling dat die kerk sy hart vir evangelisasie verloor het. Dis asof mense meer begaan is oor troeteldiere wat wegraak as oor mense.

In ’n poging om dié verlore hart van kerkwees te herontdek, het die sinode gespreksdokumente oor kerkwees, evangelisasie en die bediening aan kerklose lidmate goedgekeur en self indringend daaroor gesprek gevoer.

Dr. Coenie Burger, moderator, was een van die sprekers wat gesê het hoewel daar opspraakwekkender debatte voor die sinode sou wees, is hierdie die belangrikste saak op die agenda.

Onder die vrae wat bespreek is, was die vraag watter effek dit sou hê as die kerk ’n “beweging van dissipels” sou wees pleks van ’n organisasie. In die bespreking het dit soos ’n refrein opgeklink dat lidmate ’n belangriker rol moet speel en dat predikante ruimte moet skep vir hul lidmate om hul gawes volledig in die kerk te kan uitleef.

Een van die min besluite wat die sinode gister geneem het, is dat die kerk sy seisoen van luister teen 2010 wil laat oorgaan in ’n seisoen van evangelisasie. Daar is beklemtoon dat die kerk nie tot dan moet wag om met evangelisasie te begin nie, maar Hanekom het gesê met die Wêreldbeker-sokkertoernooi het dit ’n groot simboliese jaar in die NG Kerk geword.

Die gespreksdokumente gaan deurgegee word vir verdere gesprek in die hele kerk. Die hoop bestaan dat die gedagtes daarin sal deursuurdeeg na die hele kerk, sodat die NG Kerk weer ’n sterk missionêre gerigtheid sal kry.

Sinodegangers het die besprekings afgesluit deur die lied “Stuur my, Here” in vier tale – Afrikaans, Zoeloe, Xhosa en Sotho – te sing.

Hulle moet besluit of duiwel bestaan
Jun 06 2007

Johannes de Villiers

Boksburg. - 'n Taakspan van die NG Kerk moet besluit of die duiwel bestaan.

'n Voorgestelde besluit oor "geestelike oorlogvoering en bevryding (die uitdryf van bose geeste)" is gister op die NG Kerk se algemene sinode vir verdere ondersoek verwys, omdat talle afgevaardigdes gemeen het dié beleid ontken die letterlike bestaan van Satan en sy engele.

Ingevolge die voorgestelde beleid sou die kerk hom distansieer van sekere "skouspelagtige" vorme van bevryding, insluitend lang, konfronterende gesprekke met duiwels en die idee dat mense besete kan word weens die invloed van sekere "beelde en voorwerpe".

Talle afgevaardigdes was egter ontsteld omdat 'n verslag wat ter stawing van dié beleid ingedien is, gelui het dat die bose dalk eerder beskou kan word as 'n geïnternaliseerde deel van mense of 'n deel van onregverdige maatskaplike strukture, eerder as 'n noodwendig bonatuurlike wese.

'n Amendement - wat vra dat die kwessie verder ondersoek moet word en dat daar spesifiek na die menings van "bevryders" geluister moet word - is met 277 teen 75 stemme aanvaar.

Die teoloog prof. Adrio König het dié amendement voorgestel omdat hy gemeen het die voorgestelde verslag was "nie 'n goeie verslag nie" en sommige verwysings daarin - onder meer dat persoonlikheid-steurings 'n rol in bevrydingsrituele kan speel - is "aanstootlik".

Prof. Johan van Rensburg, teoloog van die Universiteit van die Vrystaat, het ook sy kommer oor die voorstel uitgespreek. Die verslag het volgens hom 'n "uiters gevaarlike, onwetenskaplike en onverantwoordelike" uitgangspunt bevat, naamlik dat die Bybelse verhale waarin Jesus bose geeste uit mense dryf, eintlik dalk beskrywings van psigopatologiese verskynsels is.

In Matteus 8 word beskryf hoe Jesus duiwels uit 'n mens uitwerp en dat hulle in varke invaar. "Nou watter psigopatologie het in daardie varke ingevaar?" wou Van Rensburg weet.

Ds. Peet Grobbelaar, sekondant van König se amendement, het gesê hy sou nooit kon raai dat hy die lewe van die duiwel op 'n kerkvergadering gaan verdedig nie, maar dat daar in Efesiërs 6 staan die duiwel is 'n werklikheid.

Ingevolge die amendement wat gister aanvaar is, sal die taakspan vernaam oor die praktyk van bevryding moet besin, maar volgens König sal dit ook behels dat daar duidelikheid verkry moet word oor wat die kerk van die duiwel dink.

Die vuurwerk kom in die mooiste, beskaafste Afrikaans
Jun 06 2007

Jan-Jan Joubert

Wie wil hoor hoe Afrikaans op die mooiste moontlike manier beheers word, sal dit geniet om die NG Kerk se algemene sinode in Boksburg by te woon.

Kyk, ’n groot deel van die sinodegangers is mense wat betaal word om Afrikaans te praat, en dit lyk of die meeste gemeentes waarde kry vir hul geld.

’n Voorreg om na te luister!

Dít is wat mens laat wonder het oor ’n stelling Maandagaand deur dr. Coenie Burger, die uittredende moderator.

Tydens ’n prikkelende inset oor die vraag: “Wie is die Kerk?” het hy verwys na die ontstaan van “neo-Afrikanerdenke” die afgelope twee jaar.

Hy het tereg gemaan dat daar nie in die slagysters van die verlede getrap moet word nie en dat die eie taal en kultuur nie só voorop gestel moet word dat ander tale en kulture hulle in die NG Kerk ontuis voel nie.

Goed en wel, maar toe sê hy daar is ander organisasies wat na taal moet kyk eerder as die kerk. Dit het mens onwillekeurig laat wonder of taal dan nie, as uitdrukkingswyse van só ’n persoonlike saak as geloof, ten nouste met die rol van die kerk vervleg is nie.

Tog sekerlik moet die kerk toesien dat die Afrikaans van die kansel af die peil handhaaf wat só ’n vreugde is op dié sinode en hierdie taal koester wat die uitdrukkingswyse en uitlewingsmiddel van die kerk is?

Wat gister duideliker geblyk het, is dat wat in daardie mooie Afrikaans op daardie uiters beskaafde en beheerste manier gesê word, veel minder eenheid veronderstel as wat mens sou dink.

Vandag is natuurlik die dag waarop die olifant in die kamer waarheen baie hier effens bang is om te verwys – die gay-kwessie – ter sprake kom.

Gister al was verdelings oor onverwante kwessies duidelik, en dis oor die kerk se manier van hul hantering dat ’n stukkie bestek­opname dalk nodig is.

Die mense wat weet, sal jou vertel die kerk is in ’n klaarblyklik sonderlinge fase van selfkritiek, anders as die selfgenoegsaamheid van ’n ander era, daardie era van voorskriftelike selfingenomenheid waarna sommige hier verwys as die “tyd van die ooms”.

Wat vreemd opval vir ’n joernalis wat nie gewoonlik oor kerksake skryf nie, is die openlikheid waarmee verdeeldheid oor sake erken word en die opregte manier waarop algar trag om enige ongemaklike onenigheid te oorkom. Dit was van meet af al duidelik toe daar, by die verwelkoming van die Hongaarse afgevaardigde, veel gewag gemaak is daarvan dat die Hongaarse kerk sedert 1526 nog nie geskeur het nie.

Mens wonder egter of die bewondering vir Hongarye en die vrees vir skeuring nie ’n handelswyse op sigself geword het wat oor sommige kwessies debat smoor nie.

Dít was gister bepaald die belewing van sommige afgevaardigdes uit die Noord-Kaap, wat ontsteld was oor ’n beskrywingspunt uit hul geledere oor die relatiewe besluitnemingsmag van streeksinodes teenoor die nasionale sinode.

As mens reg verstaan en die Noord-Kapenaars bedoel te veel mag setel in die nasionale sinode, sou hulle uit eie oogpunt straks gister kon meen hul punt is geldig bewys. Dié kwessie word deur baie mense buite die Noord-Kaap as vaag beskou.

Miskien sal geeneen wat al weg van die magsentrum ’n saak aan die gang moes hou, kan begryp waarop federale sentiment berus nie. Maar dit gaan daaroor dat mense meen hulle moet óók geag word, dat hulle nie deur ’n sentralistiese struktuur beheer en van eiesoortigheid ontneem wil word nie.

Dat magshebbers nie besef watter opgekropte frustrasie lei tot besluite soos die Noord-Kaapse een nie, dui op die omvang van die probleem.

As die vergadering gister 20 min. kon afstaan aan die kwessie eerder as om dit vir verdere bespreking na streeksinodes te verwys, sou soveel kwaad ongedaan gemaak kon word.

Sentralisering is nie ’n kwessie waaroor die kerk sal skeur nie, maar omdat debat en toeligting nie gevolg het nie, is die plattelandse frustrasie van die Noord-Kaap vanoggend geensins minder as gister nie. Die soeke na eenheid en konsensus het sekerlik onbedoeld en welmenend die Noord-Kaapse werklikheid versmoor.

Waaroor daar wel lustig gestry is, is herhaalde doop en die bestaan van die duiwel. Dis duidelik dat die doopkwessie nog vir heelwat stryd kan sorg, en mens reken die mense wat oor die duiwel moet raad gee – die netjies benaamde algemene taakgroep oor leer en aktuele sake (Atlas) – dra nogal die wêreld op sy skouers!

Verwant maar onafhanklik hiervan is die tugprosedure teen die gay Kaapse predikant ds. Laurie Gaum.

Terwyl niemand enigiets wil vooruitloop nie, word die aanstelling van dr. Tokkie Ernst as voorsitter van die taakspan wat die sinode daaroor adviseer, nie beskou as die beste nuus denkbaar vir Gaum nie, want die Oos-Transvaalse sinode, waarvan Ernst moderator is, het ’n behoudende standpunt oor gays in die kerk.

Vandag kom die gay-kwessie aan die bod en môre word Gaum se appel deur die sinode hanteer. Die tafel is gedek vir vuurwerk hier in Boksburg.

Nuwe naam in moderator-gesprekke
Jun 05 2007

’n Nuwe naam het die afgelope twee dae in teetydgesprekke by die algemene sinode van die NG Kerk opgeduik as kandidaat om moderator te word.

Prof. Malan Nel, praktiese teoloog van die Universiteit van Pretoria, kan die verrassende keuse wees wanneer nuwe leiers vir die volgende paar jaar teen die einde van die sinode gekies word.

Toe dr. Coenie Burger, huidige moderator, aangedui het dat hy nie beskikbaar is vir nog ’n termyn nie, was Nel nie een van die vanselfsprekende kandidate om hom op te volg nie, omdat hy nie ’n moderator van een van die streeksinodes is nie. Hy dien egter geruimte tyd al in die moderatuur van die noordelike sinode.

Nel het hom oor baie jare toegewy daaraan om gemeentes te help om beter te funksioneer.

Die ander naam wat dikwels genoem word as moontlike nuwe moderator, is prof. Piet Strauss, Vrystaatse moderator en huidige assessor van die algemene sinode. Hy is ’n kenner van die kerkreg en kerkgeskiedenis wat bekend is vir sy sterk gereformeerde oortuigings.

Ander kandidate om moderator te word, is dr. Henk Gous, Wes-Transvaalse moderator, en dr. Johan Pienaar, moderator van die noordelike sinode. – Neels Jackson